Spanbouwerker verdrink in rivier

Devin Dollery. Foto: Facebook

Devin Dollery. Foto: Facebook

Devin Dollery (30), ’n tydelike werknemer van ’n avontuur-spanbougroep, se liggaam is Woensdag in die Elandsrivier buite Uitenhage in die Oos-Kaap gevind.

Ao. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, het gesê Dollery het Dinsdag saam met nog ʼn spanboufasiliteerder die rivier probeer oorsteek, maar is deur die sterk strome meegesleur. Die ander man kon daarin slaag om by ʼn droë gedeelte in die rivier aan iets vas te gryp, maar Dollery het onder die water verdwyn.

“Die polisie se soek-en-reddingspan, polisieduikers en verskeie ander rolspelers het tot 21:30 die aand na Dollery gesoek,” het Swart gesê. “Die soektog is die volgende oggend vroeg hervat en sy liggaam is omstreeks 10:30 gevind en uit die water gehaal.”

Die eienaar van die spanboumaatskappy het die voorval aan Maroela Media bevestig, maar gesê hy wil nie juis oor die tragedie praat nie. “Die rivier was baie sterk, ek weet nie hoekom hulle besluit het om oor te gaan nie. Hulle was veilig aan die ander kant en het ʼn hele kamp daar gehad. Dit is ʼn tragiese ongeluk wat gebeur het en baie erg vir sy familie en almal wat hom geken het.”

Hy het gesê Dollery was nie ʼn heeltydse werknemer van die maatskappy nie en het die afgelope ses maande soms as fasiliteerder vir die spanboukampe opgetree. Hy en die ander fasiliteerder was besig om voor te berei vir ʼn skoolspanbousessie wat hulle sou hanteer.

Maroela Media weerhou die naam van die maatskappy op versoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.