Spanjoel Bella het blinknuwe uitkyk op wêreld

Chantel Janse van Rensburg en haar 12-jarige spanjoel, Bella. (Foto: Verskaf)

Die gloukoom in Bella, ʼn 12-jarige spanjoel van Sinoville in Pretoria, se oë het haar opgekeil. Maar danksy ʼn baanbrekeroperasie het die geliefde troeteldier ʼn blinknuwe uitkyk op die lewe.

Die Paul-gloukoom-implantaat (PGI) is eintlik vir mense gemaak, maar is uiters suksesvol op Bella gebruik. Die operasie was die eerste van sy soort in Afrika op ʼn dier en slegs die vierde wat wêreldwyd op diere gedoen is.

Nes by mense, is gloukoom ook ʼn oogsiekte wat diere raak en tot ʼn verlies aan sig of selfs blindheid kan lei. Die PGI is ʼn dreineringspypie wat ontwerp is om drukking in die oog te verminder en te dreineer.

Chantel Janse van Rensburg, Bella se eienaar, was oorstelp van vreugde na afloop van die suksesvolle operasie. Sy sê Bella is reeds weer op die been en speel al te lustig saam met haar maat, Bailey, ook ʼn spanjoel.

Janse van Rensburg, ʼn groot hondeliefhebber, sê Bella het reeds volkome herstel. “Bella is weer haar ou self,” vertel sy.

Bilaterale lensverstuiting is verlede jaar by Bella gediagnoseer. Sy is op ’n behandelingsplan geplaas en haar veearts het haar noukeurig dopgehou. Tydens ʼn opvolgbesoek het die veearts egter gesien dat Bella gloukoom in haar linkeroog het. Dit het geweldige drukking binne die oogbal veroorsaak.

Weens die erns van die skade wat die gloukoom veroorsaak het, moes Bella se linkeroog dringend chirurgies verwyder word. ’n Paar maande later het Janse van Rensburg egter opgemerk dat Bella se ander oog soortgelyke tekens as haar linkeroog toon voordat dit verwyder moes word. Bella is weer deur haar plaaslike veearts ondersoek en dié het vermoed dat gloukoom in haar oorblywende oog ontwikkel het.

Vir Janse van Rensburg was dit ʼn reuseskok; sy het gehoop die ergste is agter die rug.

Die veearts het onmiddellik met mediese behandeling begin en Bella is na die Valley Farm Dierehospitaal in die ooste van Pretoria vir alternatiewe behandelingsopsies verwys.

Dr. Lo-An Odayar, ʼn oogspesialis, is oor Bella se toestand geraadpleeg. Nadat Bella ondersoek is en diagnostiese toetse ondergaan het, het Odayar die verwysende veearts se diagnose bevestig: Bella het gloukoom in haar oorblywende oog ontwikkel.

Dit was ook duidelik dat die mediese behandeling nie vir Bella se oogtoestand gehelp het nie.

Odayar het navorsing gedoen en gevind dat die PGI, ontwerp vir die behandeling van gloukoom by mense, potensiële veeartsenykundige toepassing het.

Janse van Rensburg het nie twee keer gedink oor Bella se inplanting nie en die operasie is sonder versuim geskeduleer. Odayar het ʼn span chirurge en narkotiseurs gelei om die PGI-toestel in Bella se oogbal in te plant.

Die toestel is ontwerp om die vloeistof wat binne die aangetaste oogbal in die oogkas opbou, te dreineer en sodoende die intra-okulêre druk in die oog te reguleer.

Die operasie het sonder voorval verloop. Die spesialiste het Bella noukeurig in die hoësorgsaal gemonitor om te sien hoe sy op die inplanting en die gepaardgaande behandeling reageer.

En alles het klopdisselboom verloop.

Janse van Rensburg het Bella destyds as ʼn klein hondjie op Secunda gekry.

“Sy is my vierpotige kind en ek is verskriklik lief vir haar; sy is my eerste troeteldier. Ons het later vir Bailey gekry sodat Bella nie so eensaam is nie.

“Ek sal uit my pad gaan om die twee tegemoet te kom. Hulle is al só deel van my lewe.”

Bella vier in Augustus haar 13de verjaarsdag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Carol ·

Dankbaar dit het gewerk en my respek aan almal betrokke, veral aan Mamma wat nie opgegee het nie.

trotsNAMSA ·

Pragtige artikel. Dankie aan al die mediese personeel en aan honde kind se “ma”.
Vet drukkie vir Bella.

Joan ·

En ek het gedink net ek sal deur die vuur loop vir my honde . . . Dankie Chantelle, dat jy my geweldige sorgsaamheid vir diere deel. En ek is so dankbaar dat alles goed verloop het. Ek sal minder eet, minder klere hê, minder rondry, net om geld te hê vir my honde se welstand. Ek salueer jou, Chantelle.

Joan ·

Ek wil ook dankie sê vir die veearts wat soveel omgee getoon het. Ek sal hom verseker besoek as ek weer ‘n toestand in een van my honde ondervind wat onomkeerbaar lyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.