Spanne in Jhb ontplooi om infrastruktuur te beskerm

(Argieffoto: Unsplash)

Die stadsraad in Johannesburg het bykomende hulpbronne ontplooi om ekonomiese infrastruktuur te beskerm ná ʼn rits aanvalle.

Mabine Seabe, woordvoerder in die kantoor van die burgemeester, sê daar was die afgelope week drie gewelddadige aanvalle wat City Power se veiligheidspersoneel en infrastruktuur geteiken het. “Hierdie aanvalle is uitgevoer deur swaar gewapende misdadigers wat nie huiwer om lewens te neem om die stad se pogings te ondermyn om die ligte aan te hou en ekonomiese aktiwiteit te handhaaf nie.”

Seabe sê hy het die hoof van die stad se groep- forensiese en ondersoekdienste (GFIS), Shadrack Sibiya, opdrag gegee om ʼn sterk span saam te stel wat saam met wetstoepassers, insluitend die Johannesburgse metropolisie, sal werk om die aanvalle te ondersoek en seker te maak dat diegene wat verantwoordelik is, aan die pen ry.

“My kantoor sal ook die pogings van belanghebbendes in die stad en ander regeringsorganisasies koördineer en monitor om seker te maak dat die proses bespoedig en korrek deurgevoer word. Ons wil seker maak dat ons aan alle voorskrifte van die Wet op die Beskerming van Noodsaaklike Infrastruktuur voldoen.”

Seabe sê hulle kan dit nie op hul eie doen nie en benodig insette en hulpbronne van alle regeringsorganisasies. “Ek het gevolglik ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa, die Nasionale Vervolgingsgesag en die Gautengse polisiekommissaris lt.genl. Elias Mawela, gedoen om die hoogste vlakke van hulpbronne beskikbaar te maak om ondersoek en vervolging in te stel. Hierdie neiging het ten doel om Johannesburg se reeds kwesbare infrastruktuur te saboteer.”

Volgens Seabe is dit belangrik dat die nasionale en provinsiale rolspelers ook hul kant bring en hulpbronne beskikbaar maak om die stad se ekonomiese infrastruktuur te beskerm en “ekonomiese sabotasie” te voorkom.

Maroela Media het vroeër berig twee wagte wat ʼn kabeldiefstalbrandpunt in Johannesburg beveilig het, is verlede week Donderdagaand dood nadat hulle deur ʼn onbekende aantal mans oorrompel is. Veiligheidswagte naby Melrose is die vorige dag deur gewapende mans aangehou is.

Twee City Power-veiligheidswagte was Vrydagaand ook in ʼn skietery betrokke met aanvallers in Kya Sand, noord van Johannesburg. Een van die wagte is na ʼn hospitaal geneem en is steeds in ʼn kritieke toestand ná hy in die kop getref is.

“Dis duidelik dat hierdie voorvalle nie geïsoleer is tot Johannesburg nie. ʼn Gekoördineerde plan, deur die nasionale regering, is nodig om hierdie tipe misdade te voorkom en noodsaaklike infrastruktuur te beskerm.”

Hy het sy meegevoel betuig met die families van die slagoffers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Christine ·

Die ANC het gewaarsku krag en water gaan gesaboteer word waar hulle stede moet afstaan na November se verkiesing. Hulle doen maar net gestand aan hul beloftes en reputasie pre 1994 – dat hulle steeds ‘n terroristeorganisasie is.

Julius ·

Jy kan al die misdade soos transito rowe, besigheids rowe, korupsie, kaapings, plaasmoorde, kabel diefstal, betogings ens terug volg en dit lei alles na die anc.

JohnnyS ·

Ons regstelsel is ‘n grap. Misdadigers weet daar gaan geen gevolge wees al word hulle gevang. Hulle is nie meer bang om gevang te word nie.

pieter ·

Die probleem kan baie maklik opgelos word,

STOP DIE KOOP EN VERKOOP VAN SKROOT MATERIAAL EN KABELS.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.