Na afloop van die swaar reën in die Mosselbaai-munisipaliteit se opvangsgebied, veral die afgelope naweek, is daar tans groot hoeveelhede opdrifsels op strande, spesifiek Klein-Brakrivier waargeneem.
Die Mosselbaai-munisipaliteit se omgewingsdepartement berig dat die Robinsonpas in Oktober alleen 212 mm reënval gehad het. Mosselbaai se gemiddelde reënval per jaar is 420 mm, terwyl die Wolwedansdam gemiddeld 160 mm meer reënval per jaar kry. Tot dusver vanjaar het die Wolwedansdam 730 mm reënval gehad.
Die munisipaliteit het in ʼn verklaring die publiek versoek om bedag te wees op obstruksies soos takke of boomstompe wat onder die wateroppervlak kan wees, wanneer hulle swem of van ligte vaartuie vir ontspanning gebruik maak. Die opdrifsels en ander voorwerpe is meegesleur tydens swaar neerslae in hoogliggende areas rondom Mosselbaai, onder meer die Robinsonpas.
Munisipale spanne is reeds sedert Maandag volstoom besig met opruiming en werk so vinnig moontlik om strande weer soos normaal te laat lyk. Die publiek se samewerking en geduld tydens die proses word versoek.
- (Foto: Mosselbaai-munisipaliteit/Facebook)
- (Foto: Mosselbaai-munisipaliteit/Facebook)
Hulp vir Powertown
Inwoners van Powertown het die naweek as gevolg van die aanhoudende reën in die Mosselbaai-munisipaliteit se opvangsgebied ook stygende watervlakke ervaar. Dit is as gevolg van stormwater wat na laagliggende gebiede gestroom het, asook die getybeweging.
Mosselbaai se brand-, redding- en rampbestuursdienste het oor die naweek deurlopend die watervlakke gemonitor en inwoners in die Klein Brak-omgewing bygestaan.
Swaar toerusting is Maandag by Powertown ingespan om te help om opgedamde water weg van die woongebied af te dreineer. ʼn Sloot is gegrawe waardeur opgedamde water uit die woongebied na die Klein-Brakrivier gedreineer is.
Dirk Kotzé, uitvoerende burgemeester, het Powertown Sondag besoek om die situasie te evalueer. Plaaslike ondernemings, kerke en inwoners van wyk 4 het na die inwoners uitgereik wat deur die oorstroming geraak is. Skenkings, insluitend kos, is aan die gesinne wat hierdeur geraak is, uitgedeel as deel van die noodlenigingspoging wat deur die raadslid van wyk 4, Annatjie Janse van Rensburg, van stapel gestuur is.
“Ons bedank die geloofsgebaseerde gemeenskap, sakegemeenskap en plaaslike inwoners dat hulle in hierdie moeilike tyd hande geneem het met plaaslike regering om te help seker maak dat daar na alle inwoners in Mosselbaai omgesien word,” het Kotzé gesê.
- Powertown (Foto: Mosselbaai-munisipaliteit/Facebook)
- Powertown (Foto: Mosselbaai-munisipaliteit/Facebook)
- Powertown (Foto: Mosselbaai-munisipaliteit/Facebook)
- Powertown (Foto: Mosselbaai-munisipaliteit/Facebook)
… skoon soos normaal te laat lyk… Goed gestel!
Was gister by 1st en 2de strand in Danabaai, jy kan nogsteeds nie daarin.
Die strande onder normale omstandighede m. a. w die verwydering van dit wat uitspoel na normale getye word altyd verwyder. Hierdie is abnormale omstandighede, die munisipaliteit werk op baie ander gebiede waar daar ander tiepe skade is, met die ekstra materiaal wat verwyder moet word sal dit natuurlik langer neem. Een van die mooi dae, is ons strande weer net so mooi soos altyd.