‘Spanning bedaar’ ná geweld in PE

Altesaam agt taxi’s is tydens die rumoer aan die brand gesteek (Foto: Manikivana, Twitter)

Die geweld en brandstigting wat Woensdag in Gqeberha (Port Elizabeth) uitgebreek het ná ’n botsing tussen ’n minibustaxi en ’n Audi het teen Donderdag bedaar.

Dít volg nadat die polisie samesprekings met taxibestuurders en sakelui gevoer het en dié glo ooreengekom het om ’n vreedsame oplossing te vind sodat die situasie nie vererger nie.

Die polisie het Donderdag in ’n verklaring gesê altesame 12 voertuie is tydens die geweld in Durbanweg aan die brand gesteek of beskadig. Drie stalletjies wat by ’n nabygeleë taxistaanplek opgerig was, is aan die brand gesteek.

Bheki Cele, polisieminister, het die toneel in Korsten besoek en sê dat hy die samewerking van die betrokke groepe verwelkom, maar dat “brandstigting ’n ernstige oortreding is wat nie ongestraf kan bly nie”.

Cele het ook sy kommer uitgespreek oor mense wat tydens die voorval met grootkalibervuurwapens gewaar is.

“Dit wet sê duidelik dat jy nie ’n vuurwapen in die openbaar mag dra en rondswaai nie. Wanneer jy dít doen, oortree jy die wet. Ons is nie besig om oorlog te maak nie.”

Cele het ook stappe deur die polisie verwelkom om nog beamptes na die toneel te ontplooi om stabiliteit te verseker.

Maroela Media het berig die polisie ondersoek ’n saak van openbare geweld. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Werner ·

As ou cele die dinges uit sy oe uitvee sal hy agterkom dat hy lankal in n oorlog is.

Shakespeare ·

Jammer Werner maar ongelukkig moet ek jou meedeel dat Cele blind gebore is. Om die “dinges” uit sy oë uit te vee, gaan niks help nie.

KB ·

Cele ken nie eers die vuurwapenwet nie, en dan is hy die minister van Polisie?! (O nè, “DIT wet sê duidelik…” Snert man, loop doen jou huiswerk!)
Nee wat, hou verby.

Harley Davidson ·

Dit is wat verkeerd is in SA die taxi operateurs en “besigheid ” mense kan miskien nou koek en tee vat maar misdade is gepleeg en die wet moet sy gang gaan wat duidelik nie hier gaan gebeur nie.

annie ·

Cele wag telkens dat die stof, rook en boewe die wyk neem, die lyk gekis en al die winkels leeg gestroop is voor hy (viva) opdaag; veer in die hoed, skoene gepoets. Gister het ons so amper ‘n staatsgreep beleef met ons minister van verdediging onder beleg en Zuma op die tuis-podium. (Ons sekuriteits-maatskappye, toevallig, gebind.) Cyril moes skarrel. Die bose is bewapen, gereed dog Cyril wonder waar hy laas sy kunsgebid neergesit het. O, wag?!%, Ek het nog my eie tande en tong… Maar waar is…?

Kobus ·

Nou goed Cele,die wapens is openlik rondgeswaai maar wat het jy daaraan gedoen? Het jy opdrag gegee dat die boewe ge-arresteer word of is die verkiesing in jou kop…eskuus in jou hoed? Jy handhaaf dubbel standaarde

Di ·

Cele is useless verby! tyd dat al die korrupte narre in die regering moet nou aftree.

ES ·

Dis waar jy verkeerd is Hoedman – ons is besig met ‘n grootskaalse oorlog teen misdaad want daar is nie genoeg polisie om ons te beskerm nie.

Misky ·

Cele het sommer nou baie vinnig enige misverstande uitgeskakel rakende Malema se saak en rondswaai en afvuur van vuurwapens in publiek. Nou kan hy seker aangekla word en tjoekie toe gaan. Dankie Cele!!!!

Karina ·

Die lisensie afdeling is juis in Durban Rd, nou hoe veilig moet ‘n mens voel om soontoe te gaan vir hernuwing van jou lisensie, of leerling lisensie/bestuurslisensie toetse? ‘n Mens kan nie ‘n kans waag om in daardie omgewing te beweeg nie.

Piet parys ·

Snaaks die naamsverandering pas nogal by die geweld en brandstigting.

Leon ·

Met al die tonele van misdaad wat Hoedman so ywerig en verkiesingpraterig besoek, wanneer is hy op kantoor om sy werk te doen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.