Spanning laai op oor staat-salarisse

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Onderhandelings oor die omstrede kwessie van staatsdienssalarisse hervat Maandag te midde van oplaaiende spanning tussen die regering en staatsdiensvakbonde.

Hoewel staatsdienssalarisse deur bindende driejaar-ooreenkomste tussen die staat as werkgewer en die vakbonde as verteenwoordiger van werknemers bepaal word, het die minister van finansies, Tito Mboweni, in verlede jaar se begrotingsrede aangekondig dat geen salarisverhoging aan staatsamptenare toegestaan sal word nie.

Staatsdiensvakbonde het die regering in die hof getakel om die driejaar-ooreenkoms af te dwing, en daardie uitgerekte hofstryd duur tans voort.

Die arbeidsappèlhof het in Desember uitspraak gegee ten gunste van die regering, maar die kwessie sal nou dien voor die Konstitusionele Hof, met ’n verhoordatum vasgestel vir Augustus.

Intussen moet vanjaar se verhoging (vir die finansiële jaar 2021-’22, wat op 1 April vanjaar in werking moes tree) nou onderhandel word, en dit is waaroor Maandag se geskeduleerde vergadering handel.

Vakbonde eis tans verbruikersprysinflasie (VPI) plus 4%, wat sal neerkom op salaris- en loonverhogings van byna 8%.

Dit is die vakbonde se enigste amptelike posisie, hoewel bronne met kennis van die proses aanvoer as die regering nou ’n verhoging gelykstaande aan VPI aanbied, sal baie vakbonde in die versoeking wees om dit namens hul lede te aanvaar.

Terselfdertyd is daar groeiende druk vanuit sommige Cosatu-geaffilieerde vakbonde om ’n bevel van nie-voldoening teen die staat te verkry, ’n dooiepunt te verklaar en te begin voorberei vir ’n massa-staking – wat alles meewerk om waarskynlik ’n baie interessante vergadering vir Maandag in die hand te werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Johanncb ·

Het staatsdiensvakbonde méér seggenskap oor die land se ekonomie as die Regering self?

Wilhelm ·

Ja, en nie net oor die ekonomie nie, maar ook skole, eskom, SAL… die lys gaan aan.

Persheks Adri ·

Niemand kry op die stadium salaris verhogings nie magtag man! Plaas kry die klomp in die kabinet minder salaris, want daai salarisse is hopeloos te veel pffft vir niks doen nie in elk geval plus hulle plunder ons land!

Di ·

Daar is nie geld vir verhogings nie maar daar word steeds honderde poste elke jaar geskep waarvan die meederheid Bestuurders poste is. Hulle moet eerder begin om oop poste glad nie te vul nie en poste waar mense nie ‘n duit werk in verrig nie, van kant maak.

Blikkies ·

Hoe meer salaris betaal word hoe meer geld druk die unie in sy sak.

Anoniem ·

Hoewel in die minderheid, is daar wel nog hardwerkende “old school” staatsamptenare. Ongelukkig gaan hulle wat naby aftrede is, se pensioen erg daardeur geraak word. Weereens ‘n geval van die minderheid wat die meerderheid se werk doen wat daaronder gaan ly.

Lizette ·

Ja my man was maart 40jaar by staats diens en werk van 1 april 2020 nog aaneen. Nou ly hy ook daaronder ja want wil op pensioen gaan ????

Misky ·

Meeste SA’ners is maar te dankbaar om nog ‘n werk te hê in die tye, wat nog van op sy agterpote spring en “demand”

Janine ·

Ja, want ‘meeste van ons’ betaal ten duurste vir krag/water/kos/diesel of petrol. Ander betaal vir bykans niks. Geen verhogings of bonus, maar mens klou maar vas, sny waar jy nog kan.

Pieter ·

Maak soos margaret thatcher van engeland verban alle unies dan sal dit baie beter gaan in die vrot ANC land

Debbie ·

Die groot koppe in die parlement wat so lekker sit en slaap as daar vergadering gehou word kry genoeg geld dankie. Heeltemal onredelik om vir hulle nog verhoging te gee.

Jakes ·

Die regering sal waarskynlik toegee want die munisipale verkiesing is om die draai. Seker die lekkerste werk om vir die staat te werk. Min werk en baie groot salaris. N goeie verhoging sal meebring dat KFC en Macdonalds meer besoek kan word as die huidige 4 dae per week.

Danie ·

Mense verloor hul werk by die duisende en die armoede word al groter.
Maar die staatsamptenare sien hulself as verhewe bo diegene wat moet opoffer om weer die ekonomie aan die gang te kry.
Arrogansie is te n mooi woord.

Zoey ·

En almal kla weer oor die staatsamptenare. Onthou net dat hierdie verhogings waarvoor baklei word die polisie, onderwysers, verpleegsters en dokters insluit. En hoeveel van daardie vier groepe mense is dood agv van covid omdat hulle in die voorste linie staan. verminder eerder die mense in die hoë poste of gee ten minste ‘n verhoging aan die mense op die laagste vlakke. Ons moes steeds werk, al is geboue weekliks toegemaak oor die uitbreek van covid onder polisielede. Ek verwag nie ‘n helse verhoging nie. en ek voel jammer en respekteer die mense in die privaat sektor wat ook aan die kortste ent getrek het. Familielede en vriende het baie verloor. Daar is altyd geld vir belaglike begrafnisse en naamveranderings. Dan word die tjekkies geteken. Feit is, die land sorg nie vir sy mense nie, staat of privaat. En dis dalk tyd dat daar nie in die algemeen verwys word na ons “staatsamptenare” nie. Daar is nog eerlike mense onder ons wat die werk doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.