Spanning laai op voor staatsrede

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede in 2019 (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Enkele ure voor pres. Cyril Ramaphosa met sy staatsrede begin, het hoogwaardigheidsbekleërs reeds by die parlement begin aankom.

Vanjaar se staatsrede behoort om 19:00 te begin, mits die EFF hom gedra.

Dis ʼn snikhete dag in Kaapstad, maar teen vroegmiddag het ʼn windjie begin opsteek wat heelwat ongerief kan veroorsaak as hy teen vanaand sterker waai.

Kapenaars is die afgelope paar dae vermaak met verskeie verbyvlugte van die lugmag se stralers wat vanaand ook in aksie gaan wees. Dít terwyl die blaasorkeste van die polisie en die Kaapse Hoogland Skotse Blaasorkes hul note en passies op en af in Pleinstraat in die middestad geoefen het.

Die rooi tapyt was teen Donderdag vroegmiddag reeds uitgerol en al wat leef en beef, is gereed vir die groot mode-spogtery wat jaarliks plaasvind. ʼn Rekordgetal lede van die media (844 joernaliste) sal na verwagting vanjaar se verrigtinge bywoon.

Daar is veral vyf hoofpunte waarvoor belanghebbendes vanjaar uitkyk:

  • Wat gaan die president sê oor die ANC se planne met die bewoording van die Grondwet-wysiging oor onteiening sonder vergoeding?
  • Wat is die nuus oor nasionale gesondheidsorg?
  • Wat beplan die regering met die Suid-Afrikaanse Lugdiens?
  • Watter planne het die regering om die land uit die ekonomiese verknorsing te kry wat tans heers?
  • Gaan die EFF gewelddadig uit die parlement verwyder word?

Dis waaroor die land wonder terwyl die kraaie gaap, die hoogwaardigheidsbekleërs gereed maak en die horlosie aftik na sewe-uur en pres. Ramaphosa se groot toespraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gato ·

Ag nee wat ek hou nou regtig nie my asem op vir die toespraak nie. Dit sal weer dieselfde ou storie wees waar baie belowe word en ‘n paar nuwe kommissies die lig gaan sien, maar van werklike aksie sal daar min sprake, indien enige wees. Ramaphosa is ‘n politikus en sal net die regte goed se om die ANC kiesers te paai tot die volgende keer.
Die meeste van die hogere gaste is in elk geval net daar om hulle duur klere te vertoon en lekker partytjie te hou, op die belasting betaler se koste, na die tyd .

Martie ·

Waarborg dat niemand wat daar is ‘n veer voel vir wat gese gaan word nie….kannie wag vir die paartie na die tyd nie

Magda ·

Weer net n gepratery, en geen aksie – NET n geld mors affere. VERBAN die EFF van die staatsrede. Hulle behoort glad nie eers daar te wees nie.

Stefan ·

Wat wonder julle nog, alle tekens is daar dat die land in sy peetjie is maar hulle sal dit nooit erken nie maar wil graag nog bietjie skep as daar nog iets te skep is.

Werner ·

Hy gaan weer net n klomp nonsens kwyt raak wat net hy en sy volgelinge sal glo tot volgende jaar die tyd dan wonder hulle hoekom is daar nie krag nie

Anel ·

Seke weer net ‘n klomp gepraat en eintlik sê hy niks. Wil net gaan partytjie hou na die tyd. Die mense wat vir hom gestem het vrek van die honger en hulle hou partjie na ‘n niksseggend toespraak.

marius ·

Ou reeks van Dallas op kasset gevind. Baie opgewonde om dit te kyk…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.