Spanning loop hoog terwyl jong dokters op plasings wag    

(Foto: Leonie Bezuidenhout)

Met die jaar wat einde se kant toe staan raak talle jong dokters al meer gespanne omdat hulle  steeds nie vir hul verpligte een jaar van gemeenskapsdiens geplaas is nie. Hulle is veronderstel om al op 1 Januarie 2024 aan te meld.

Dié junior dokters het onlangs hul twee jaar internskap as deel van die departement van gesondheid se internskap-en-gemeenskapsdiensprogram (ICS) voltooi, en moet nou met die volgende deel van die program voortgaan.

Verskeie dokters sit egter nog met hul hande in hul hare omdat hulle óf nog glad nie geplaas is nie, óf by heel ander plekke en selfs provinsies geplaas is as dit waarvoor hulle aansoek gedoen het – ’n probleem wat homself klaarblyklik elke jaar herhaal.

Dit is nie seker hoeveel dokters tans nog op plasings wag nie, maar volgens Michele Clarke, die DA se woordvoerder oor gesondheid, word die party oorval met oproepe van dokters wat desperaat op plasings wag. Dít ten spyte van dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, se antwoord op ʼn skriftelike parlementêre vraag van die DA dat die departement dit reeds in Oktober reggekry het om plasings vir al 2 530 dokters vir die nuwe jaar te verseker. Phaahla sal na verwagting vandag ʼn aankondiging in dié verband maak.

“Histories is die departement en die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) geneig om die skuld op dokters te pak wat na bewering nie betyds aansoek gedoen het nie of gekies het om te wag totdat hulle by hul voorkeurfasiliteit geplaas kan word,” het Clarke gesê.

Sy meen dié syfers strook boonop nie met die baie jong dokters wat wel betyds aansoek doen en gewillig is om in enige van Suid-Afrika se gesondheidsfasiliteite te werk nie.

“Elke jaar werk duisende mediese studente en interns ongelooflik hard om eendag hul gemeenskappe as dokters te kan dien, net sodat die departement en die RGBSA hulle deur pure onbekwaamheid in die steek kan laat.”

Honderde teken petisie

Gefrustreerde jong dokters het verlede week in die lig van dié probleem ʼn ope brief aan die departement geskryf én ʼn petisie van stapel gestuur. Die petisie het teen Dinsdag al 385 handtekeninge gehad, waarvan baie mense aangedui het dat hulle juis die petisie onderteken omdat hulle self nog op plek vir volgende jaar wag.

In die ope brief kla dokters dat hulle teen 28 November 2023 nog steeds nie hul plasings ontvang het nie – ondanks ʼn verlengde sluitingsdatum vir aansoeke. Luidens die brief het hulle sedert dié sluitingsdatum op 23 Oktober ook nog geen amptelike kommunikasie van die departement ontvang nie.

“Soos bepaal deur die departement en ICS het die departement die mandaat gekry om ons plasings teen 30 November 2023 bekend te maak om genoeg tyd te gun om in ander provinsies te hervestig.

“Hoewel ons by vyf fasiliteite kan aansoek doen, is daar geen versekering dat ons wel by een van hierdie vyf fasiliteite geplaas gaan word nie. Plasing kan beteken dat jy na ʼn ander provinsie moet verhuis met slegs twee dae se hervestigingsverlof. Dit sluit hervestigingskoste in, wat nie deur die departement voorsien word nie. Ander familieverpligtinge moet ook geakkommodeer word,” skryf die groep.

Die dokters sê voorts dat hulle nie net “nog ʼn nommer op ʼn bladsy is nie”, maar werkende, professionele persone met gesinne en persoonlike verpligtinge buite hul werk.

“Die vertragings in hierdie proses het ons jaargroep hopeloos en gefrustreerd gelaat, met geen versekering oor ons indiensneming vir 2024 nie. Gemeenskapsdiens is verpligtend om as ʼn dokter in Suid-Afrika te kan praktiseer. Sonder toegekende poste sal ons nie as mediese dokters kan werk nie, ten spyte van sewe of agt jaar se studie en opleiding.”

Die groep sê verder dat hulle al meer gefrustreerd raak met die departement se traak-my-nieagtige houding rakende dokters se besware en bekommernisse.

“Ons het almal hierdie beroep om verskillende redes betree, die wortel daarvan is egter dat ons mense wil help. Meer spesifiek Suid-Afrikaanse mense. Ons werk al twee jaar lank onverpoosd, in toestande wat dikwels moeilik en nadelig is vir ons eie geestelike en fisieke gesondheid, maar ons doen dit omdat ons omgee. En ten spyte van dit alles, is ons geen versekering gebied van ons indiensneming volgende jaar nie, met geen kommunikasie en geen deursigtigheid oor wat tans die plasings vertraag nie.

“Die behoefte om buite Suid-Afrika te werk het ʼn harde werklikheid geword wat baie van ons as gevolg hiervan oorweeg. Dit is hartverskeurend aangesien Suid-Afrika werklik nie kan bekostig om meer vaardige professionele persone te verloor nie, veral in die gesondheidsorgsektor.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hibiscus ·

Dit is nie net dokters wat met die probleem sit nie, al die ander mediese professies soos arbeids- en fisoterapeute, verpleegsters, oogkundiges ensovoorts, sit met dieselfde probleem. Die aansoeke met spesiale oorwegings (getroud, gesondheid, kinders ens.) is ook glad nie in ag geneem nie. Ander mense is in die posisies geplaas waarvoor hierdie mense aangesoek gedoen. Vergeet van enige kommunikasie van die Departement van Gesondheid, jy kan maar hoeveel eposse stuur en probeer bel, daar is net geen reaksie nie. Dieselfde probleme kom jaar na jaar voor; dit is alles net een groot gemors. En jy mag nie praktiseer as jy nie internskap of gemeenskapsdiens gedoen het nie.

Ek kan nie help om te wonder hoe het die vorige regering dit reggekry het om in die sewentigs en tagtigs elke ses maande duisende troepe suksesvol op te roep nie, en dit nogal sonder al die elektroniese kommunikasie van vandag. Laat mens nogal dink……

Barney ·

My kind het darem verlede week gehoor, maar baie van haar vriende het nog nie ‘n plasing nie. Blykbaar word vergaderings gehou want daar is nie geld in die begroting om hulle te plaas nie. Dit gaan my verstand te bowe – hulle weet tog al begin van die jaar hoeveel mense die einde van die jaar geplaas moet word. Nee, eintlik weet hulle al 2 jaar voor die tyd wanneer die dokters met hulle internskap begin hoeveel daar is.

Wondermaarnet ·

Dit is mos elke jaar se ding en dit is gewoonlik die wit dokters wat wag vir plasings. Geen wonder dokters gaan oorsee om te werk sodra hulle klaar hul opleiding in SA voltooi het nie.

Laeik ·

Plaas hulle!

Hulle wil klaarmaak sodat hulle kan immigreer!

Seker al klaar immigrasie dokumente reg. Wag net vir die laastes.

TRP ·

Daar is sowaar niks wat hulle kan reg doen. Die onbevoegdheid gaan my verstand te bowe.

Marina ·

Ek was in een van die eerste groepe verpleegsters wat hierdie verpligte gemeenskapsjaar moes doen. Wat n nagmerrie! Is aanvanklik by n TB hospitaal 30 km van my huis af geplaas omdat ek aangedui het dat ek my eie vervoer het. Met twee klein kinders in die huis, het ek die plasing beveg en gewen. In ons dorp se plaaslike hospitaal vir die jaar gewerk. Daarna Midde Ooste en nou in die VSA. Suid-Afrika se regering jaag basies professionele mense weg!

Johann ·

Gee bloot nie om vir die chaos van die kader onbevoegdheid nie. Sidder om te dink hoe hierdie verpligte “diens” in die ANC se NGV gaan inpas? Seker verniet werk of in ruil vir n kospakkie en werkloosheids grant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.