Spanning verhoog oor Soedan se Basjir in Suid-Afrika

Omar al-Bashir, president van Soedan

Omar al-Basjir, president van Soedan

Pretoriase hooggeregshofregter Hans Fabricius het Sondag ʼn tussentydse bevel toegestaan wat die Soedannese president Omar al-Basjir verhoed om Suid-Afrika te verlaat, hangende ʼn besluit deur die hof.

Dit volg ná ʼn dringende aansoek dat hy in hegtenis geneem moet word nadat hy opgedaag het om die Afrika-Unie se beraad, wat tans in Johannesburg plaasvind, by te woon.

Die AU-beraad se staatshoof-komponent begin Sondag en Al-Basjir sou na verwagting deelneem.

Basjir word deur die internasionale strafhof (ICC) gesoek vir beweerde volksmoord en ander misdade teen die mense van Darfoer in Soedan en as ʼn lid van die ICC, is Suid-Afrika verplig om hom in hegtenis te neem.

Die Suid-Afrikaanse regering het Vrydag egter die ICC versoek om die land vry te stel van sy verpligting, aangesien Basjir immuniteit teen vervolging geniet, aangesien hy die AU-beraad bywoon en die AU sy lede aangesê het om nie met die ICC saam te werk nie. Die ICC het hierdie versoek baie sterk teengestaan.

Kajaal Ramjathan-Keogh, uitvoerende direkteur van die Suider-Afrikaanse Litigasiesentrum, het Sondag gesê die organisasie doen aansoek om ʼn bevel van die hof om die Suid-Afrikaanse owerheid te dwing om Basjir onder die land se eie ICC-wet in hegtenis te neem. Kragtens dié wet word Suid-Afrika verplig om aan sy ICC-voorwaardes te voldoen.

Fabricius sal na verwagting Sondag om 15:00 argumente vir en teen die dringende aansoek aanhoor.

Cuno Tarfusser, voorsittende regter van die ICC, het Saterdag Suid-Afrika se aansoek om toelating dat Basjir nie in hegtenis geneem moet word nie, van die hand gewys. Fatou Bensouda, ICC-staatsaanklaer, het Tarfusser versoek om ʼn bevel uit te reik wat dit duidelik stel dat Suid-Afrika verplig is om die Soedannese leier in hegtenis te neem. Dit volg ná ʼn vergadering Vrydag tussen Besouda se kantoor en die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nederland, Bruce Koloane, waarin Koloane die vrystelling van Pretoria se voorwaardes versoek het. Koloane het verduidelik “daar is ʼn gebrek aan klaarheid in die wet en die Republiek van Suid-Afrika is onderworpe aan teenstrydige voorwaardes”. Die staatsaanklaer het sy versoek verwerp.

Tarfusser het ook die versoek verwerp en gesê sy bevel het dit Saterdag baie duidelik gestel dat daar “geen dubbelsinnigheid in die wet is nie” en dat die Republiek van Suid-Afrika “onder verpligting staan om Omar al-Basjir in hegtenis te neem en aan die hof oor te gee”.

Koloane het gehoor dat Al-Basjir se immuniteit wat hy onder die internasionale reg geniet en wat hom as staatshoof toekom, uitdruklik deur die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies deur resolusie 1593(2005) van die hand gewys is, en die situasie in Darfoer is na die staatsaanklaer van die hof verwys en die RSA kan nie enige ander besluit, insluitend dié van die Afrika-Unie, voorhou nie.

Intussen het Sidiki Kaba, president van die beheerliggaam van die ICC, ʼn verklaring uitgereik wat Suid-Afrika ook herinner aan sy verpligting om Basjir in hegtenis te neem. Hy het Pretoria daaraan herinner dat die ICC twee lasbriewe vir sy inhegtenisneming, onderskeidelik op 4 Maart 2009 en 12 Julie 2010, uitgereik het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

tina ·

Laat hierdie regering nou eenmaal ‘n les leer wat gebeur wanneer jy VOLKSMOORD EN ANDER MISDADE pleeg en dat jy nie vry sal kom by die internasionale strafhof nie. NEEM KENNIS..want my eens pragtige land Suid-Afrika, is akuut ge-infesteer van misdaad,bedrog,gelddiewe,ens.op alle vlakke en raak amper elkeen as jy nie op jou beginsels van eerlikheid en integriteit bou nie..baie blatant om te dink dat hierdie land en van sy volksgenote sommer net ander pad sal.kyk…hoop die lang van die gereg bars sy ‘bubble’ sommer gou. Elk is MOEG dat die ander wereldlande moet dink almal in Suid-Afrika is deur die bank korrup tot op die been toe.

AH ·

tina moet nie jou hoop te hoog op kry nie want die sogenaamde regering in ons eens mooi land steur hulle aan geen hof bevel nie presies soos Omar al-Bashir

Rheinhard ·

Waarom wil Suid Afrika sy inhegtenisname teenstaan, is dit nou die geval van “cANCer Comrades se Struggle-maatjies”, wat om nie die Vriendskappe wat gesluit is, te benadeel nie?? Arresteeer hom Suid Afrika, en voer julle PLIGTE uit, soos die Resolusie bepaal, en doen vir ‘n slaggie ‘n beter werk, as wat julle altyd doen, deur die mense wat skuldig is, vry te koop, deurdat alles net onder die mat ingevee word..

fiki ·

Die ICC is ook ‘n manier om van Afrika se goeie leiers ontslae te raak… Ou PW Botha is niks aan gedoen nie.

tina ·

Vir AH…my hoop IS JUIS NIE op die regering van die dag nie (daarvoor is hulle bedrieglik en onbetroubaar) MAAR OP ICC om wel sy vlerke kort te knip…ek glo die ICC sal wel hul manier vind om reg en geregtigheid te laat geskied maar op so ‘n manier dat hierdie regering ‘n voprsmakie kry van wat wag!! Ek se maar net Hulle IS NIE ONAANTASBAAR…..ek HAAT onreg ….my kom die wraak nie toe…MAAR die Hre is WAKKER.

CHRISTA ·

Die ANC se kleure kom weer na vore. Wanneer dit HULLE pas, vra hulle dat “menseregte” toegepas word. Wil hulle voorgee dat die Soedanese burgers nie mense is nie?

nico ·

Ag shaim dink hulle regtig die regering gaan optree suid afrikaners moet net hulle oe oop maak en teen die regering stem
dis al manier om ge regtigheid te laat geskiet maak oop julle oe of suffer

Suzette ·

Die Frankfurter Algemeine Zeitung meld reeds dat Bashir met ‘n militêre vliegtuig vanaf Waterkloof Lugmagbasis onvlug het….. Dit kon net met regeringsondersteuning gebeur het…. SWAK!

neelsie ·

Kon ons iets anders verwag het van n korrupte Anc?
Hulle “struggle ” nog steeds ongeag hulle “democracy”!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.