Spar-baas kap terug ná KVBA-uitspraak

(Argieffoto: Spar)

Die Giannacoupolous-groep, eienaar van verskeie Spar-winkels, voer aan die arbitrasie van bykans R12 miljoen wat hy aan werkers moet betaal, is deel van ʼn “georkestreerde vlaag aanvalle” op hom wat deur die Spar-gilde van Suidelike Afrika en die Spar-groep gedryf word.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het die groep beveel om R11 935 478 vir onder meer onwettige aftrekkings en oortyd te betaal. Die departement van arbeid het die beslissing verwelkom.

“Die departement het ʼn huursoldaat geword en dit is duidelik dat die tydsberekening van die optrede teen ons meer as net toeval is,” het Harry Giannacoupolous, een van die groep se aandeelhouers, gesê.

“Die departement is nie meer ʼn onafhanklike instelling wat ondersoekers en inspekteurs inspan om sakeondernemings te oudit en klagtes te ondersoek nie. Inteendeel, die amptenare verontagsaam die einste wette wat hulle van ons verwag om na te kom.”

Die groep sê hy verskaf werk aan bykans 3 000 mense en dat die stappe teen hom ʼn bespotting van Suid-Afrika se arbeidswetgewing maak. Hy sê voorts al sy winkels voldoen aan arbeidswetgewing en dat die departement deeglik bewus is daarvan.

Volgens Giannacoupolous teister inspekteurs sy werkers, al vra hulle om uitgelos te word en al sê hulle, volgens Giannacoupolous, dat hulle geen klagtes het om aan te meld nie en gelukkig by hul werkplek is.

“Dit het ʼn punt bereik waar my personeel gedreig het om die reg in eie hande te neem en self met die inspekteurs af te reken,” het hy gesê.

Die groep sê daar is sedert verlede jaar verskeie ernstige maar ongegronde bewerings en valse beskuldigings teen ʼn hele aantal Spar-winkels en ander kleinhandelaars gemaak. Al dié winkels behoort aan die Giannacoupolous-groep. Hy sê in Junie verlede jaar is 31 van sy Spar- en Tops-winkels geteiken en voldoeningsbevele is uitgereik vir verskeie van die sogenaamde oortredings.

Die groep sê hy het probleme wat uitgewys is, gepak en dokumente daaroor aan die departement verskaf. Geld wat werkers toekom, is ook sonder versuim aan hulle betaal.

Die Giannacoupolous-groep sê hy het in die media verneem dat arbitrasie teen hom toegeken is.

“KVBA-kommissaris Thanduxolo Mafanya het duidelik nie die wet gevolg nie omdat dit lyk asof die arbitrasie agter geslote deure en sonder die teenwoordigheid van die Giannacoupolous-groep gedoen is.

“Daar is 970 Spar-winkels in Suid-Afrika, maar nie een ander winkel as dié wat aan die Giannacoupolous-groep behoort, word deurlopend vir arbeidsoortredings geoudit nie. Dit is duidelik dat die groep onbillik geviktimiseer en geteiken word,” het Giannacoupolous gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

lollapot ·

Sterkte aan die Giannacoupolous Groep. AS julle wel reggemaak het, soos julle beweer, dan sien ek nie hoekom julle verder geteiken moet word nie. Dalk is daar mense wat voel hulle kwalifiseer vir “monthly free groceries”. . .

Nie Verbaas ·

Hierdie mense bestuur winsgewende besighede. Maak self die opsomming.

henndrik ·

Een van die winkels wat aan Giannacoupolous groep behoort is naby my huis maar ek verkies om nie daar te koop nie want in vergelyking met ander SPAR winkels is hierdie winkel baie vuil en oor die algemeen slordig. Vars produkte wat ek al daar gekoop het was ook van swak gehalte, ek sal byvoorbeeld glad nie vleis daar koop nie. Ek reken die saak het wel twee kante maar ek sal moet eerlik wees dat ek my gewig agter die vervolging en uitslag sit.

Nie Verbaas ·

Ek het geen klagtes oor die twee Spar winkels wat aan die groep behoort wat ek altyd gebruik nie. Alles is puik. Miskien moet die winkel bestuurder aangespreek word oor die toestand van die winkel.

Louwrens ·

Ek ken vir Harry en het die tyd wat ek in KZN gebly het al my kruideniers daar gekoop. Indien iets met die vleis of groente fout was kon ek dit gaan omruil sonder enige teenkanting. Hulle vleis was ook van goeie gehalte en ek herroep maar een geval waar ek hoender teruggevat het.
Die betrokke winkels was altyd netjies skoon en georden. Die werknemers, van wie ek persoonlik ook ken het nog nooit gekla oor werksure nie.
Die groep en veral Harry het baie al gedoen vir welsyn en selfs die skole in die omgewing.
Ek dink iemand teiken die mense onnodig.

De Villiers ·

Nee wat, ek weet hoe hierdie Spar eienaars hulle mense hanteer. Ek sien dit gebeur by my plaaslike Spar.

Ek is bly hulle word bietjie in die bek geruk sodat hulle besef almal, selfs hulle werknemers, is mense met gevoelens, drome en families.

Grens ·

Een van hulle Spar winkels het ek by gereeld gekoop. Voor hulle daar was dit ‘n fantastiese winkel gewees. Hulle het dit verander in ‘n regte ou stinkende spaza winkel. Ek hoop iemand anders koop dit oor en maak dit weer ‘n lekker Spar. Hulle kry nou wat hulle verdien!!

! ·

Ek bly naby Wierda park Spar in Centurion en hulle is hopeloos die rakke bly leeg en die winkel baie vuil

SomeOne ·

as daai manne een maal snuf in die neus gekry het, sal hulle jou vir jare, JARE, agtervolg, glo my

Kevin B ·

My vrou het vir die Spar, sy MOES 70 uure per week n werk. Sy was net 21 dae per jaar af.

Simon ·

Die uitbuiting van werknemers deur die werkgewers veral op die platteland, kom algemeen voor en word gevoed deur die hoe werkloosheid syfer in SA. Werkgewers word as onaantasbaar beskou en deur die “swart skoene” van ‘n gemeenskap beskerm deur omkopery (byvoorbeeld gratis vleis vanaf die plaaslike slaghuis aan die dorp se prokureur om teen die onkundige werknemer in arbeid dispute op te tree), want hulle weet die amptenare van die Departement van Arbeid is ook omkoopbaar.

Blommie ·

Ek het 19jaar terug by Spar gewerk, toevallig een van die op die lys. Daai jare al moes ons tevrede wees met wanbetaling, aftrekkings sonder rede, teveel ure werk ens… Ek kan boeke skryf oor hoe mens behandel word. Daar was selfs dae wat hulle bloot jou laai oopmaak en geld vat vir persoonlike gebruik (naels by salon bv) en dan vanaand as jy kort is dan verskree hulle jou en beskuldig jou van diefsfal. Ons moes 12uur skofte doen met 30min ete per dag. En behoede jou as jy moes toilet toe gaan buite daai 30 minute. Jy is so sleg gemaak voor almal. Nee wat, dit is hoogtyd dat die wiel bietjie draai.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.