Spar tjeers op 55%-styging in drankverkope

Drankverkope vir die tydperk verteenwoordig ʼn groei van 27,9% teenoor dieselfde tyd twee jaar gelede. (Argieffoto: pixabay)

Die kleinhandelaar Spar se algehele verkope in Suider-Afrika het met 8,2% toegeneem – en dit word hoofsaaklik toegeskryf aan die abnormale groei in drankverkope die afgelope jaar.

Nadat die landwye verbod op drankverkope wat ingestel is in ʼn poging om die verspreiding van Covid-19 te stuit in September verlede jaar opgeskort is, het Tops-winkels “ongelooflike vlakke van groei in drankverkope” ondervind. ʼn Algehele styging van 55,8% vir die 18 weke tot 29 Januarie vanjaar is aangemeld.

In vergelyking met dieselfde 18 weke ʼn jaar tevore, toe 58 handelsdae weens die verbodsbepalings verlore gegaan het, het geen handelsdae in hierdie tyd verlore gegaan nie.

Drankverkope vir die tydperk verteenwoordig ʼn groei van 27,9% teenoor dieselfde tyd in 2020, dus voor enige streng inperkings weens die koronaviruspandemie in werking gestel is, wat volgens Spar ʼn goeie aanduiding is dat verkope beter vaar as tevore.

Baie verbruikers is egter steeds platsak en Spar sê dit lei tot uitdagende handelstoestande weens “beperkte verbruikersbesteding, voorgesette hoë vlakke van werkloosheid en aggressiewe mededinging” in die sektor.

Die groep se sake is boonop geraak deur die burgerlike opstand in Julie verlede jaar. Verskeie winkels moes tydens die oproer gesluit word; 20 winkels behoort deur die loop van die jaar te begin sake doen, terwyl agt winkels nie hul deure sal open nie.

Build it, Spar se groep hardewarewinkels, het egter ʼn afname ondervind van die buitengewoon hoë vlakke in verkope wat vroeër ondervind is. Mense het tydens die streng afsonderingstyd hoofsaaklik van die huis af gewerk en skoolonderrig het aanlyn plaasgevind – daar was dus baie tyd vir selfdoenprojekte in en om die huis.

Die winkels se omset het met 1,8% gestyg in die 18 weke tot 29 Januarie en met 27,8% wanneer dit vergelyk word met dieselfde tydperk twee jaar gelede. Verkope in Limpopo, die Laeveld en KwaZulu-Natal het in Januarie gedaal weens swaar reën wat in die gebiede uitgesak het en ʼn uitwerking op verkope gehad het.

Ook by Build it-winkels het die Julie-oproer ʼn uitwerking gehad en tot verlore verkope gelei. Agt Build it-winkels is steeds gesluit, maar almal sal na verwagting mettertyd heropen.

Benewens bedrywighede in Suider-Afrika, het Spar ook winkels in Switserland, Pole, Ierland en Engeland. ʼn Sterk algehele vertoning het omset met 6,9% verhoog. In Switserland is groei van 1,9% aangeteken, terwyl die syfer in Pole op 11,8% staan.

“Die groep het sy verkope met 5,8% van R43 miljard tot R45,5 miljard vir die tydperk verhoog wanneer dit met die vorige tydperk vergelyk word. Wanneer die Covid-19-pandemie in gedagte gehou word en die uitwerking wat dit op die groep oor die laaste sowat twee jaar gehad het, baat die groep steeds by sy diversiteit en demonstreer hy robuustheid en veerkragtigheid tydens hierdie ontwrigtende tye.”

Spar se aanlyn platform vir kruideniersware en drank, Spar2U, is in dieselfde tyd bekend gestel. Die platform sal teen die einde van Maart vanjaar beskikbaar wees vir ʼn groep winkels in Johannesburg se noordelike voorstede. Spar sê belangstelling in sy nuwe platform bly hoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Marius ·

Ongelukkig draai baie mense se lewens om drank. Dit is ‘n hartseer storie.

Delia ·

Eintlik nie iets om op trots te wees. Alkohol in oormaat verwoes lewens.

VaalDonkie ·

Nee wat. Alkohol bring net jou ware karakter na vore. As jy ‘n dronk vark is, is dit nie die drank se skuld nie. Die drank maak jou net bietjie harder praat.

Stofdonkie ·

Ongelukkig as prysverhogings in ag geneem word dan is daar nie werklik groei in die sin dat daar meer verkoop is nie.

Miskruier ·

Om te spog met n enorme wins terwyl sommige enorme verliese ly is sonde.

VaalDonkie ·

Nee dit is nie. Dis dalk slegte smaak. Maar dis nie sonde nie.

Miskruier ·

Lewensverlies deur dronk bestuurders, honger omdat die geld aan drank spandeer is, afwesige geliefdes, dié wat drank hoër ag as n geliefde….ek drink self, maar ken my perk.

VaalDonkie ·

Ek ken ook my perk. En dis R800 vir ‘n bottle KWV 15 jaar so eenkeer ‘n jaar. Res van die tyd drink ek 10 jaar.

Heinrich ·

Moenie dat kopdoek hierdie sien nie; dit gaan teen die ANC se beginsels in dat die vrye mark goed doen!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.