Speaker in die pekel oor spioene se oorsig

Thandi Modise. (Foto: Phando/Jikelo/ANA)

Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, kan eersdaags in die hof in ‘n beskuldigdebank staan weens die parlement se versuim om ‘n oorsigkomitee oor die land se spioene en intelligensiedienste daar te stel.

Sedert die verkiesing in Mei is daar geen burgerlike toesig wat die land se spioenasiedienste – met hul kommerwekkende onlangse geskiedenis van politieke ingryping en wanbesteding, verantwoordbaar hou nie.

Nou het die EFF ‘n prokureursbrief gestuur waarin Modise op terme geplaas word. Sy word daaraan herinner dat die EFF al op 4 September aan haar geskryf het oor die kwessie, maar dat sy net ontvangs van die brief erken het en net mooi niks gedoen het daaraan nie.

Die EFF wys uit dat daar onlangs verskeie verwikkelinge in die land was waar die spioene en intelligensiedienste klaarblyklik ‘n toonaangewende rol gespeel het, waaronder die aanstig of voorkoming van xenofobiese aanvalle op buitelanders, die ontplooiing van die weermag op die Kaapse Vlakte en die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, se verslag oor die sogenaamde “rogue unit” in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Voorts betoog die EFF dat art. 55 (2) van die Grondwet die parlement verplig om die kabinet en die regering verantwoordbaar te hou, en dat die meganisme vir oorsig oor die spioene en die intelligensiedienste die parlement se gesamentlike staande komitee oor intelligensie is.

Sedert die daarstel van die nuwe parlement na die Mei-verkiesing is geen sodanige komitee egter saamgestel nie.

Die EFF stel haar dus in kennis dat sy, as verantwoordelike amptenaar, die parlement se versuim in die Wes-Kaapse hooggeregshof sal moet verdedig as die komitee nie teen Vrydag 27 September saamgestel is nie.

In reaksie het die parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, gesê die kwessie geniet die parlement se dringende aandag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Scalla ·

Hulle dink mos hul is almal verhewe bo die wet, as n kader nie eens vir sy diere kan sorg nie, hoe kan hul n land dien?

JohanR ·

Niks sal gebeure nie. Dit is die ANC, en ‘n ANC hoe wat betroke is. Kon haar nog nie eers tot nou toe in ‘n hof gevonnis gekry, oor die arme diere wat soe erg dood is op haar plaas nie. Sy sal seker ‘n verhooging kry omdat sy nog niks gedoen het nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.