Speaker in hof oor korrupsiebewerings

Nosiviwe Mapisa-Nqakula en pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Die speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sal na verwagting binnekort in die Pretoria-landdroshof verskyn in verband met beweerde omkoopgeld van sowat R2,3 miljoen wat sy glo tydens haar termyn as minister van verdediging ontvang het.

Die onafhanklike ondersoekdirektoraat het nie dadelik op ʼn versoek om bevestiging gereageer dat Mapisa-Nqakula Vrydagoggend by die Pretoria-Sentraal-polisiestasie aangemeld het nie. Newzroom Afrika berig sy sal om 09:00 in die hof verskyn.

Die speaker het vroeër berigte dat sy haarself aan die polisie gaan oorgee ontken en gesê nie sy of haar regspan het enige amptelike kennisgewing van ʼn inhegtenisnemingsbevel of kommunikasie in dié verband ontvang nie. Haar regspan het wel vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aangedui dat Mapsia-Nqakula gereed staan om te voldoen en saam te werk “indien die behoefte ontstaan”.

Sy het in ʼn vroeëre verklaring ook aangedui dat sy met spesiale verlof as speaker gaan. Dié besluit is ook aan die ANC gekommunikeer.

Die regerende party het in reaksie gesê hy neem kennis van die spesiale verlof weens die optrede en stappe teen haar.

“Die ANC sal sy integriteit- en opsystaan-beleid afdwing gegrond op die feite namate dit aan die lig kom,” het Mahlengi Bengu-Motsiri, ANC-woordvoerder, gesê.

Bedank nóú

Die speaker van die parlement en voormalige minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Rise Mzansi het Donderdag geëis dat Mapisa-Nqakula voor middernag bedank. Dié spertyd het gekom en gegaan. Boitumelo Mpakanyane, die party se hoof van interne demokrasie, sê die waardigheid en aansien van die parlement ly skade met elke uur wat Mapisa-Nqakula nog die amp beklee.

“Die parlement is die afgelope 30 jaar onderwerp aan die giere van die regerende party. Daar is genoeg rekords hiervan. Van die dae toe die wapenooreenkoms toegesmeer is, tot die ontbinding van die Skerpioene, die jare van beskerming vir [oud]-pres. Jacob Zuma en die Guptas en meer onlangs die mislukte poging om pres. Cyril Ramaphosa aanspreeklik te hou vir die dollars wat in sy meubels op die Phala Phala-plaas versteek is,” sê Mpakanyane.

Die party sê die parlement is veronderstel om die stem van die mense te wees, maar is deur die huidige regering stilgemaak.

“Die verwikkelinge rondom die speaker is ook ʼn aanduiding van die regerende party se gebrek aan oordeel en respek vir die parlement. Toe Mapisa-Nqakula uit die kabinet verwyder is, het sy gewys sy is nie bevoeg om ʼn openbare amp te beklee nie. Die bewerings van korrupsie teen haar was reeds bekend deur ʼn fluitjieblaser wat haar betrek het.”

Rise Mzansi sê daar is geen groter bewys dat die land nuwe leiers benodig nie.

“As Mapisa-Nqakula in hegtenis geneem word terwyl sy die amp van speaker van die Nasionale Vergadering beklee, sal dit ʼn aanklag teen haar gewete wees en ʼn duidelike aanduiding van die regerende party se hoë toleransie vir korrupsie. In hierdie geval is nie eens die opsystaan-reël voldoende nie; daar moet ʼn algehele breek met die amp wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Wondermaarnet ·

Gee dit net ‘n ander pos in die parlement. Dit is mos wat julle anc doen met jul kaders.

Amelia ·

Almal van anc se probleem Hier gaan ook seker niks van kom nie as al die geld ens wat al tussen neus en oe verdwyn het die afgelope 30 jaar op een lg terug betaal word is ons seker die rykste land

Walter ·

Dit is buitengewoon dat daar so gou op beweringe van korrupsie gereageer word. Waarom word die kamerade in die Zondo verslag nie met dieselfde intensiteit vervolg nie? Oeverblindery kort voor ‘n verkiesing?

domheks ·

Daar is geld vir alles behalwe vir INSTANDHOUDING! Die land val uitmekaar maar die kaders leef in weelde!

Jannie ·

Die omset van speakers is meer as die kliënte van ‘n kfc

Katinka ·

Wat verwag jy, die hele lot is vrot en korrupt, ‘n groot sirkus!

Thelsa ·

Die DNA van die Kaders is om alles te ontken . . . tot die dood toe . . . terwyl die plek wemel van bewyse.

Republikein in die Wes Kaap ·

Adv. Dali Mpofu SA sal haar seker verdedig.

My siening ·

ANC TOT IN DIE HART KORRUP en dit is ons belasting betalers wat die spit afbyt want al hoekom iemand ANC stem is om n stukkie van die korrupte koek te kry! ANC is n genocide wat SA getref het! THABO MBEKI BEAAM DIT IN SY TOESPRAAK!

Ore ·

Wat van die res ? In ander lande sou die betrokke parlementslid summier bedank het. Hier gaan weer ‘n Zuma saak wees, jare vorentoe en sy glimlag maar net

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.