Speaker meen ‘geheime stemming’ is teen die wet

Speaker Baleka Mbete in die parlement. Foto: GCIS

Speaker Baleka Mbete het Vrydag dokumente by die konstitusionele hof ingedien in die saak van ʼn geheime stemmery oor die mosie van wantroue in die parlement.

Mbete hou vol dat die reëls van die parlement nie voorsiening maak vir ʼn geheime stembrief nie. Sy het gesê sy is persoonlik nie gekant teen die idee van ʼn geheime stemming nie, maar dat die wetgewer die kwessie in die verlede oorweeg het, en gekies het om nie voorsiening te maak daarvoor nie.

“Die kollektiewe meerderheid van die Nasionale Vergadering het die voorstel verwerp.”

Die United Democratic Movement (UDM) het die konstitusionele hof versoek om te beslis dat die Grondwet LP’s toelaat om ʼn geheime stem uit te bring wanneer daar gestem word in ʼn mosie van wantroue.

Die UDM het die aansoek ingedien nadat die Demokratiese Alliansie sy vyfde mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma gebring het toe hy die kabinet aan die einde van verlede maand geskommel en Pravin Gordhan as minister van finansies verwyder het.

ʼn Debat oor die mosie is vir 18 April geskeduleer, maar is uitgestel hangende die uitslag van die hofaansoek.

Mbete het in haar dokumente aangevoer indien die hof beslis dat die parlement se reëls in dié verband ongrondwetlik is, die saak na haar kantoor terugverwys moet word met ʼn bevel om die reëls te verander.

Die Inkatha Vryheidsparty en die Ekonomiese Vryheidsvegters het ook hul ondersteuning gebied tot die UDM se aansoek.

Die partye wil hê ANC-LP’s moet kan volgens hul gewete kan stem. Julius Malema, leier van die EFF, het gesê die opposisie benodig ongeveer 70 ANC-LP’s om die mosie te ondersteun wat daartoe sal lei dat Zuma uit sy amp verwyder word.

Jackson Mthembu, hoofsweep van die ANC, het dit duidelik gemaak dat daar van die regerende party se LP’s verwag sal word om teen die mosie te stem.

Kgalema Motlanthe, voormalige president, het in die openbaar hiervan verskil en gesê as verkose openbare verteenwoordigers is die LP’s se plig ten eerste nie lojaliteit teenoor die ANC nie, en diegene wat nie met die hoofsweep saamstem nie, moet nie gestraf word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Michael ·

Ek hoop dat Zuma bly tot met die volgende verkiesing want dan is die anc en alles wat met hom gepaardgaan iets van die verlede en hopenlik kry ons ‘n beter regering en leiers

William ·

’n Mens kan maar net hoop, Michael. Ek is in ’n tweestryd gewikkel. Want aan die een kant wil ek hê hy moet aanbly en verder droogmaak sodat kiesers se oë sal oopgaan. Aan die ander kant wonder ek of ons land dit kan bekostig.

Justice ·

Michael en William ek deel julle sentimente. Die skade wat Zuma aan die land bereken is kommerwekkend maar die skade wat hy aan die ANC bereken is blywend. Hulle sukkel werklik om die land effektief en eerbaar te regeer. Die ANC het sedert 2004 onteenseglik bewys dat hy nie in staat is om die ekonomie te stimuleer en groei nie. Geeneen van hul leiers gaan na 2019 weer met landsake vertrou word nie ongeag wat ookal. Selfs op voetsoolvlak wat hul meerderheid van kiesers uitmaak word daar nou relevante inkrimerende vrae rondom die ANC as `n party gevra. Ons begin nou in `n Mugabe era in beweeg waar die wereld sit en wag vir langtermyn, nuwe en eerbare leierskap voordat ons weer aansien in die wereld ekonomie sal he.

Henk ·

So skelm soos die houtjie van die galg. “Indien die hof vind dat die reels ongrondwetlik is, moet dit terug verwys word na haar kantoor sodat die reels verander kan word ” Ja, sodat die vier maande tot die ANC se nasionale konferensie opgebruik kan word in rompslomp sodat vriend Zumatjie sy onderhandelde uittree pakket kan kry en onaantasbaar daar uitstap ?

Elmarie Pieters ·

All wet waarteen ñ geheime stemming kan wees is die ANC se wet. Want daar geld mos ander (geen)wette vir hulle as vir Jan publiek.

AL ·

Mbethe lieg vreeslik. Natuurlik voel sy vere of die ANC LP’s later geviktimiseer word sou hul teen Zuma stem.
Ek glo ons sal maar moet wag en kyk hoe dinge uitspeel, op die ou end sal dinge ten goede meewerk, hetsy nou of in 2019.

Chris ·

Indien geheime stemming onwettig is moet die aanstelling van zuma onmiddelik tot niet verklaar word want hy is met ń geheime stem ingestem. Dan moet daar in elk geval ń nuwe president vekiesing gedoen word.

Adam ·

SA het ‘n stelsel van proporsionele verteenwoordiging en dit bring mee dat LP’s die landsburgers verteenwoordig en teenoor hulle aanspreeklik is in die eerste instansie. Ek glo dat in lyn daarmee alle stemme openlik uitegbring moet word en dat slegs in uitsonderlike gevalle oorweging aan geheime stemmings verleen moet word. Tydens stemming wat volg op ‘n mosie van wantroue in die President is dit eenvoudig so dat geheime stemme nie uitgebring behoort te word nie. Ongelukkig is die Speaker net so ‘n groot verleentheid vir die Parlement as wat die President vir die land is.

cor ·

Watter wet sy en haar party respekteer geen wet nie, nou is dat die bal na hulle kant toe geskop word is dit skielik teen die wet want n wet is mos net daar om haar en haar party te beskerm

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.