Speaker moet besluit oor SAL-jaarverslag

Dudu Myeni, voorsitter van die Raad van SAL

Dudu Myeni, voorsitter van die Raad van SAL

Yunus Carrim, voorsitter van die parlementêre staande komitee oor finansies, het Maandag gesê die Speaker moet besluit of die finansiële verslae van die SAL met ʼn jaar uitgestel kan word, aangesien die Demokratiese Alliansie regsadvies oor die saak versoek het.

Carrim het aan die African News Agency (ANA) gesê al wat hy oor die saak te sê het, is dat dit by die Speaker se kantoor is, en dat dit standaardprosedure is, aangesien Pravin Gordhan, minister van finansies, ʼn brief ingedien het om te versoek dat die sperdatum tot 15 September geskuif moet word.

Dit is die derde keer wat Gordhan uitstel versoek en dit is ook gebaseer op die feit dat die nasionale tesourie nog nie sy oorweging van die nasionale lugredery se behoefte aan bykomende finansiële hulp afgehandel het nie.

“Neem asseblief kennis dat die proses, om die SAL se aansoek vir ʼn volgehoue waarborg te hersien, nog nie afgehandel is nie,” het Gordhan in die brief geskryf. “Ek versoek die staande komitee om die sperdatum vir SAL se jaarverslag uit te stel tot 15 September 2016.”

Die SAL skuld R15 miljard, wat alles deur regeringswaarborge onderskryf is.

Alf Lees, adjunkwoordvoerder oor finansies vir die Demokratiese Alliansie, het gesê hy twyfel of die uitstel sin maak of in lyn is met die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Hy het gesê die parlement moet daarop aandring dat die finansiële verslae dadelik beskikbaar gemaak word. Hy het daarop gewys die verslae moes al in September 2015 beskikbaar gewees het en is dus reeds 10 maande agterstallig.

Die DA skryf die vertraging toe aan ʼn beweerde dooiepunt tussen die minister van finansies en die presidensie oor die Raad van SAL.

Toe Gordhan in Februarie die nasionale begroting bekend gemaak het, het hy aan verslaggewers gesê hy beplan om ʼn nuwe raad aan te stel wat ʼn omdraaistrategie kan volg. Vyf maande later is daar nog geen teken dat dit gaan gebeur nie en die opposisie en waarnemers beskou dit as deel van ʼn volgehoue magstryd tussen Zuma en Gordhan wat hy in Desember heraangstel het ná druk van sakeleiers.

“Die dooiepunt tussen minister Gordhan en Myeni, voorsitter van die Raad van die SAL, dryf die SAL tot algehele ineenstorting en dit kan eenvoudig nie toegelaat word om met die nasionale lugredery gebeur nie,” het Lees gesê.

Myeni het intussen in ‘n onderhoud met eNuus gesê die redery is besig om sy finansiële probleme om te keer. Sy het bygevoeg die SAL het sy skuld met die helfte verminder, en ondersoeke na finansiële verliese werp vrugte af.

Myeni het ook bewerings afgemaak dat sy en president Jacob Zuma in ‘n liefdesverhouding is.

Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris Ws ·

Die SAL/SAA moet verkoop word.Die lugredery is net ‘n bodemlose put en ‘n meulsteen om Suid Afrika se finansiele nek.Die land het NIE die’ lugredery nodig nie.Daar is meer as genoeg ander rederye waarvan gebruik gemaak kan word om oorsee te vlieg.

Oom Ekonoom ·

Hoe vinniger hierdie parasiet bankrot en van ons skouers af kom hoe beter. Die gaping is klaar gevul deur ander wat baie meer effektief is, en hulle sal gou die ander roetes wat lewensvatbaar is optel. Ons land is baie beter af as SAL so vinnig as moontlik sink.

Drieks ·

Hoe kon mense 100 Miljoen se geld gesteel het per maand. Hier is iewers groooot fout en Dudu is verskriklik trors dat hul nou die probleem opgespoor het. Dudu jy het geweet van hierdie groot diefstal en jy het die deur oop gehou vir dit. Né ” DuduZuma”

Marietjie ·

Lyk my min Pravin Gordan se oorsigrol en vasvat van finansiële vermorsing kom ook maar nie van die grond af nie. Die lugdiens maak nes hulle wil en baie duidelik steur hulle hul nie veel aan hom nie

Anti korrupsie ·

Les aan klonkie op plaas wat hoender eiers gesteel het. ‘Ek straf jou nou, nie omdat jy die eiers gesteel het nie, maar omdat jy toegelaat het dat jy gevang word. Nou weet ons hoekom biljoene Rande tussen neus en ore kan verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.