Speaker moet die OB ingevolge Grondwet afdank – DA

Openbare beskermer Busisiwe Mkhwebane (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

Die Demokratiese Alliansie (DA) het Sondag gesê Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), moet die trekpas kry omdat Suid-Afrika ʼn objektiewe openbare beskermer benodig wat hom of haar daartoe verbind om die regte van alle burgers te beskerm en hulle sonder vrees of begunstiging te verdedig – iets wat sy volgens die party nié doen nie.

Glynnis Breytenbach, DA-woordvoerder, sê Baleka Mbete, speaker van die parlement, moet die proses nou aan die gang sit om Mkhwebane ingevolge artikel 194 van die Grondwet van haar amp te onthef.

Dié artikel behels onder meer dat die openbare beskermer van sy of haar amp onthef kan word: (a) op grond van wangedrag, onvermoë of onbevoegdheid of (b) as ʼn komitee van die Nasionale Vergadering weens welke rede ook al bevind dat sy afgedank moet word; en (c) as die Nasionale Vergadering samehorig is dat sy van haar amp onthef moet word.

Volgens Breytenbach moet Mbete nou met die stappe begin om haar van haar amp te onthef aangesien Mkhwebane “herhaaldelik getoon het dat sy nie geskik is om as openbare beskermer te dien nie”.

“Sy verstaan nie ​​haar rol as openbare beskermer duidelik nie. Die DA het herhaaldelik gevra dat Mkhwebane as openbare beskermer ontslaan word omdat sy die integriteit van die kantoor benadeel het. Net verlede week het sy gesê die DA was ‘onpatrioties’ om haar werk te kritiseer – ʼn bewys dat sy bevooroordeeld is,” het sy gesê.

Breytenbach sê die parlement kan nie langer sit en toekyk hoe ʼn sleutelkantoor in die Suid-Afrikaanse sfeer “nutteloos” is nie.

Sy het gesê die publiek se vertroue in die openbare beskermer sal herstel word indien Mkhwebane die trekpas gegee word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Katvis ·

Word daar nou al politiek op Sondae ook bedryf. Ag nee sies man.

PJC ·

ń Mens weet nie wat jy voorkant toe van die speaker kan verwag nie. Sy was voorheen baie onwillig om sekere van haar pligte uit te voer en skielik lyk sy nou vol lewe na die verkiesing van CR. As sy so ń opdrag kry sal sy dalk werk maak daarvan.

Grace Mugabe ·

So ja!!! Rook hulle uit terwyl die nuwe winde die vure nog hoog laat vlam!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.