Speaker reg om Mkhwebane in konstitusionele hof te pak

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die speaker van die Nasionale Vergadering (NV), Thandi Modise, het Woensdag gesê dat sy nie die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, se aansoek by die konstitusionele hof om verlof tot appèl teen ʼn uitspraak van die hooggeregshof in Maart vanjaar gaan teenstaan nie.

Mkhwebane se aansoek sal na verwagting Donderdag in die konstitusionele hof aangehoor word.

Die Pretoriase hooggeregshof het in Maart in ʼn snydende uitspraak alle bevindings van Mkhwebane teen pres. Cyril Ramaphosa in haar verslag oor die finansiering van sy presidentsveldtog ter syde gestel.

Mkhwebane het in haar verslag bevind dat die president die parlement opsetlik mislei en die etiese kode vir die uitvoerende gesag oortree het. Mkhwebane het ʼn omvattende verslag van 106 bladsye bekendgemaak waarin sy bevind Ramaphosa het die parlement doelbewus mislei oor die R500 000 wat Bosasa (nou African Global Operations) aan sy veldtog geskenk het om president van die ANC te word.

ʼn Volbank regters het bevind Mkhwebane het regsdwaling gepleeg en haar magte in die ondersoek oorskry.

Die hof het bevind geen openbare geld was by die veldtog betrokke nie en dit het dus buite die mandaat van die OB se kantoor geval. Die hof het ook bevind dat Mkhwebane se verwarring oor regspunte soos dié haar hele verslag teen die president besoedel het.

Oor die kwessie van geldwassery het die hof gesê dit lyk asof Mkhwebane haar bevindings daarop gegrond het dat Ramaphosa sy veldtogrekening opgestel het met die doel om omkoopgeld van skenkers in ruil vir politieke gunste te vra.

Mkhwebane het gesê daar was prima facie-bewys van geldwassery, maar die hooggeregshof het bevind daar is geen bewyse om haar bevindings te staaf óf haar najaag van die bewerings te regverdig nie.

Ramaphosa het die hof ook gevra om Mkhwebane se verslag te hersien.

Mhkwebane het die NV sowel as die nasionale direkteur van openbare vervolging beveel om verdere ondersoeke te doen. Sy het Modise ook opdrag gegee om die president na die parlement se etiese komitee te verwys.

Modise sê indien Mkhwebane se aansoek slaag, sy as tweede respondent (in haar hoedanigheid as speaker) kennis gegee het dat sy die kwessies wat die OB geopper het, sal teenstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Ek stem nie saam met die hof nie. Bossasa het gefunsioneer met openbare (omkoop?) geld.
Die geld wat CR gekry het kom amper seker van die staat af.
Dat sy haar mandaat oortree het daarteen stry ek glad nie, dis net die hof uitspraak oor die geld wat vir my vaag is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.