‘Speaker verskoon jouself’

Speaker Baleka Mbete in die parlement. Foto: GCIS

Speaker Baleka Mbete in die parlement. Foto: GCIS

Opposisiepartye het Dinsdag in die Nasionale Vergadering soos een man geëis: “Speaker verskoon jouself”.

Die opposisiepartye het geëis dat Baleka Mbete haarself moet verskoon wanneer die mosie aangehoor word om pres. Jacob Zuma in ʼn staat van beskuldiging te plaas en dat die mosie deur die adjunkspeaker aangehoor moet word. Floyd Shivambu, adjunkleier van die EFF, het aan die begin van die sitting gesê Mbete moet haarself verskoon aangesien “die grondwet teen jou beslis het”. Shivambu het verwys na die konstitusionele hof se beslissing dat Zuma versuim het om die grondwet te handhaaf of sy presidensiële plig na te kom toe hy die openbare beskermer se bevindinge en regstellende stappe in haar Nkandla-verslag geïgnoreer en van die hand gewys het. “Jy verdien nie om in daardie stoel te sit nie,” het ʼn uitdagende Shivambu gesê.

John Steenhuizen, hoofsweep van die DA, het ook geëis dat Mbete haarself moet verskoon en gesê sy was die eerste respondent in die saak voor die grondwethof en dus ʼn “party tot die misdaad wat plaasgevind het”. Cope, die IVP, die Vryheidsfront Plus en die UDM het ook geëis dat Mbete haarself verskoon.

Mbete het egter volgehou dat daar geen grondwetlike bepaling of parlemente reël is wat haar dwing om haarself te verskoon nie. Daar is voorgestel dat die Nasionale Vergadering stem oor of Mbete haarself moet verskoon waarna Julius Malema, leier van die EFF opgespring het en gesê het LP’s moet na “beter logika luister en ophou stem oor goed”. Hy het die ANC se LP’s as “bleddie stemvee” beskryf.

Mbete het die verrigtinge hierna vir tien minute verdaag om met die partye se hoofswepe te vergader.

Volg die Zuma-mosie regstreeks hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hannelie ·

Malema verskoon jouself ook asseblief……… Die vergaderings lyk my ontaard elke keer in ‘n sirkus. SWAK vir mense in sulke hoë posisies. En hul is in top posisies. Nou verstaan mens hoekom ons land so in sy dinges is.

Ben Prinsloo. ·

Mbete verskoon jouself asseblief. Of het jy nie common sense nie?

Poplap ·

Parlement sou net vir 10 min asemskep. Nou al meer as ‘n uur. Wonder wat aangaan ?

alida ·

Die oposisie het reg opgetree !! Sy is ‘n party tot die geding en hoort nie in daardie stoel nie. Mooi so EFF, VF+ DA en sommer almal. Dit vrou en Zuma is kop in een mus. Laat haar gaan.

Pieter de bruin ·

Sy weet Zuma doen baie skelm en hom beskerm soos goud maar Here slaap nie.

Veritas ·

Ek voel so aan my bas dat hierdie walgooiery van die ANC, niks anders is as die laaste stuiptrekkings van ‘n vrekkende muishond nie. Al die opposisie-partye moet nou saamstaan en die skroewe goed aandraai. Moet die ANC nie kans gee om te hergroepeer nie.

Rosa ·

Hy wag vir sy ex vrou om te kom sodat nog ‘n Zuma president kan wees. Sodoende sal hy nog in beheer kan wees, slim nê?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.