Speelding moet toekomstige ingenieurs inspireer

Ella Gardiner met die speelding wat sy ontwerp het. (Foto: Stefan Els)

ʼn Ingenieurstudent aan die Universiteit Stellenbosch het ʼn opvoedkundige speelding ontwikkel om Suid-Afrikaanse meisies te inspireer om ’n loopbaan in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (die sogenaamde STEM-vakke) te volg.

Ella Gardiner het vandeesweek haar graad in meganiese en megatronika-ingenieurswese by die US se Desember-gradeplegtigheid ontvang. Sy het die speelding ontwerp as deel van haar finalejaarprojek.

Sy het ʼn sonkrag-aangedrewe eenhoring ontwerp wat kan loop en sy vlerke klap. Die speelding word deur ’n storieboek vergesel wat verduidelik hoe die meganiese speelding werk.

Gardiner is deur die Amerikaanse speelgoedmaatskappy Goldieblox® geïnspireer. Die maatskappy is deur ’n ingenieursgegradueerde, Debbie Sterling, gestig nadat sy ’n gaping in die speelgoedmark vir die bevordering van STEM-speelgoed vir meisies raakgesien het.

Die onderwerp is deur haar dosent, Deborah Blaine (medeprofessor in die afdeling meganika), voorgestel, verduidelik Gardiner. “Toe ek ’n onderwerp vir my finalejaarprojek moes kies, het hierdie spesifieke een my aandag getrek omdat dit uniek was. Ek het gehou van die idee om kreatiwiteit met ingenieurswese te kombineer om iets te maak wat ’n impak op meisies sou hê wat nie so gelukkig soos ek is om aan die moontlikheid van ingenieurswese blootgestel te word nie.”

Gardiner se eenhoring bestaan uit afsonderlike stukke wat die kinders inmekaar kan sit om die eenhoring te vorm, terwyl hulle die verhaal van Aisha volg, ’n meisietjie wat wil sien hoe haar eenhoring lewe kry. Belangrike ingenieurskonsepte word verduidelik, soos hoe ’n fotovoltaïese sel sonkrag aan ’n motor verskaf en hoe die motor ’n ratkas aandryf, wat op sy beurt ’n krukas-en-as-meganisme laat werk.

Hoewel daar bekostigbare en toeganklike STEM-speelgoed in Suid-Afrika beskikbaar is, maak dit nie spesifiek voorsiening vir meisies nie. Terwyl die Goldieblox-konsep® in Amerika geslaag het, word hierdie produkte nie in Afrika bemark nie, en dit is duur om dit in te voer, verduidelik Gardiner.

Sy het ook uit haar persoonlike ervaring inspirasie geput. “Ek onthou hoe ek as kind al hierdie oulike robotspeelgoed gesien het wat jy self kon bou, en ek het altyd gewens dit kon pienk en vonkelend en mooi wees.”

As kind het sy ook graag LEGO gebou. “Ek sou maande lank my sakgeld spaar om ’n nuwe stel te koop om by my versameling te voeg. Selfs vandag nog wens ek ek kon al die oulike stelle koop wat beskikbaar is. Ek hou daarvan om te sien dat al meer nuwe stelle op meisies gerig is.”

Benewens die ontwerp en konstruksie van die speelding, wou Gardiner ’n manier vind om dit toeganklik te maak vir die gemiddelde Suid-Afrikaanse skoolmeisie. Dit is waar die meegaande storieboek vandaan kom.

Oorweldigende reaksie   

Ella Gardiner het dié speelding en boek ontwerp om jong meisies te inspireer om ingenieurs te word. (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Gardiner sê die storieboek is so ’n kragtige instrument, aangesien dit haar in staat gestel het om ’n karakter te skep wat as ’n STEM-rolmodel vir meisies kan optree, terwyl sy ook die meganiese werking van die speelding aan die kinders verduidelik. “My benadering was om die ingenieurskonsepte so eenvoudig as moontlik te verduidelik, terwyl die inligting akkuraat bly. Ek het baie foto’s te gebruik om die inligting oor te dra en ook om visuele aantrekkingskrag vir kinders te skep,” sê sy.

Hoewel Gardiner kuns geniet en graag self die boek sou wou illustreer, het tydsbeperkings beteken dat sy hulp moes inroep vir die illustrasies. Sy het die boek en inhoud ontwerp en saam met ’n digitale kunsstudent van die Universiteit van die Witwatersrand, Tamara Tesoriero, gewerk om die storie kunstig uit te beeld.

Die reaksie op haar innovasie was oorweldigend, sê Gardiner. “Almal was gek daaroor. Ek het soveel positiewe terugvoer regdeur die verloop van die hele projek ontvang. Ek dink mense het dit geniet om iets moois in die ingenieursfakulteit te sien. Dit was ’n prettige projek en ’n mens kan dit sien wanneer jy na die eindresultaat kyk.”

Gardiner beskou haarself as bevoorreg om in ’n gesin groot te geword het waar daar gesê is sy kan enigiets word, solank sy hard werk.

Die idee om ’n impak te kan maak het haar geïnspireer om ingenieurswese te studeer, sê Gardiner. “Wat my loopbaankeuse betref, het ek besluit ingenieurswese is een van die beste paaie om in ’n pos te beland waar ek deel van innovasie kan wees wat die manier waarop ons as ’n samelewing leef, kan beïnvloed.”

Toekomsdrome  

Nadat sy soveel kreatiewe energie gebruik het om haar BIng-graad te voltooi, wil Gardiner nou verlore slaap inhaal. “Dit was ’n lang vier jaar en ek is bly dis nou verby. Ek gaan in die vakansie op my ander stokperdjies soos naaldwerk fokus en ook my kreatiewe kant ’n bietjie meer koester.”

Gardiner begin aanstaande jaar as ’n gegradueerde ingenieur in Kaapstad werk om ondervinding op te doen, maar sy droom daarvan om eendag in die speelgoedvervaardigingsbedryf te werk. “Dit is so ’n kragtige instrument om die toekomstige generasie te inspireer en uitbeelding is so belangrik vir jong kinders. Ek wens ek kon as kind speelgoed gehad het soos die eenhoring wat ek ontwikkel het.”

Die speelding is die intellektuele eiendom van die universiteit, so Gardiner dink nie sy sal hierdie presiese konsep verkoop nie. “Maar ek sal graag eendag wil deel wees van die ontwikkeling van die speelgoedbedryf om meer inklusiewe speelgoed te maak. Wie weet, dalk kan ek eendag my eie reeks ingenieurspeelgoed vir meisies maak,” sluit Gardiner af.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.