Speelgoedpistool-rowers loop hul rieme styf

Die speelgoedpistool wat tydens die rooftog gebruik is. Foto: SAPD

Die speelgoedpistool wat tydens die rooftog gebruik is. Foto: SAPD

ʼn Inhegtenisname het Dinsdag ʼn onverwagse wending geneem toe KwaZulu-Natalse polisiebeamptes twee vermeende rowers in die vroeë oggendure vasgetrek het.

Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê beamptes het omstreeks 03:50 die Westmead-gebied gepatrolleer toe twee petroljoggies langs ʼn vulstasie hulle nader geroep het. Die petroljoggies het na twee verdagtes gewys wat in die rigting van nabygeleë bosse gehardloop het.

“Die beamptes het die twee verdagtes agternagesit en in hegtenis geneem,” het Zwane gesê. Dit is toe dat die beamptes ontdek het die “vuurwapen” wat tydens die rooftog gebruik is, bloot net ʼn speelgoedpistool was.

Dit het later aan die lig gekom dat die verdagtes glo die vulstasie se winkel binnegegaan het en hulself as kliënte voorgedoen het. Een van die verdagtes het ʼn pakkie sigarette by die kassiere gekoop toe die ander verdagte glo ʼn “vuurwapen” uitgeruk en kontant by die kassiere geëis het. Die verdagtes het na bewering met ʼn onbekende bedrag geld op die vlug geslaan.

“Die verdagtes is aangekla van sakeroof en sal binnekort in die Pinetown-landdroshof verskyn,” het Zwane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Daar is ‘n straf as jy jou voordoen as ‘n wetstoepasser (misbruik van uniform as voorbeeld), dan kan daar ook ‘n straf uitgedink word vir ‘n misdryf met speelgoedwapens.

Harry ·

Hi Peet.
Die straf is daar. Ons wet bepaal dat gewapende roof is gewapende roof, ongeag die wapen, net so as ‘n mes gebruik sou word. Die slagoffers het gedink dis ‘n ware Jakob en die hof sien dit ook so.

Hennie ·

Ek stem saam met Harry. Die speelgoed lyk deesdae so na die ware Jakob,, dat enigeen dit as eg sal beskou en dienooreenkomstig sal reageer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.