Spele: Só lyk medaljewenners se prestasiebonusse

Tatjana Schoenmaker het die goue medalje in die 200 m-borsslagitem in ’n nuwe rekordtyd gewen. Foto: Twitter.

Suid-Afrika se goue meisie, Tatjana Schoenmaker, gaan ’n prestasiebonus van altesame R850 000 ontvang vir haar besonderse prestasie in die Olimpiese swembad in Tokio.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het Vrydagmiddag spesiale bonusse vir Suid-Afrika se medaljewenners by die Olimpiese en Paralimpiese Spele asook hul afrigters aangekondig.

Dít ná aanvanklike berigte dat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) nie prestasiebonusse sou gee aan atlete wat medaljes by die Spele verower nie en organisasies self ingespring het om geld in te samel.

Schoenmaker gaan wel nou R450 000 ontvang vir daardie goue medalje wat sy gedurende die 200 m-borsslag verower het, asook nóg R220 000 vir haar silwer medalje gedurende die 100 m-borsslag.

Sy sal ook ’n spesiale bonus ontvang vir die wêreldrekord wat sy in die 200 m-borsslag verpletter het.

Die Olimpiese branderplankryer Bianca Buitendag sal op haar beurt R220 000 ontvang vir die silwer medalje wat sy in Tokio verower het.

Soveel steek Olimpiese sterre in sak

Olimpiese en Paralimpiese atlete wat vanjaar ’n goue medalje in Tokio verower, sal volgens die minister ’n prestasiebeloning van R450 000 ontvang terwyl die betrokke afrigter R120 000 sal ontvang vir sy of haar aandeel in die medalje.

’n Silwermedaljewenner sal met R220 000 beloon word en die afrigter met R70 000.

Wat ’n brons medalje betref, sal die atleet R100 000 ontvang en die afrigter R30 000.

Suid-Afrika se Olimpiese branderplankryer Bianca Buitendag (Foto: @southafricasportimages en @Team_Mzansi/Instagram)

Die prestasiebonus vir die verbetering van ’n wêreldrekord beloop vanjaar R180 000.

Mthethwa het Schoenmaker en Buitendag gelukgewens met hul besonderse prestasie in Tokio en die vroue bedank dat hulle “trots en eer” na ons land gebring het en Suid-Afrikaners se gemoedere te midde van die Covid-19-pandemie gelig het.

Mthethwa het voorts gesê hy is vol vertroue dat die Suid-Afrikaanse Paralimpiese Span, wat tans in Tokio deelneem, nog meer medaljes huis toe gaan bring.

Barry Hendricks, president van Saskok, het op sy beurt gesê die prestasiebonusse moet atlete daaraan herinner dat hulle nie net vir hul land deelgeneem en presteer het nie maar ook vir hulself.

“Die prestasiebonusse moet gebruik word om selfs nog beter wêreldkampioene te word en hul land verder te verteenwoordig.”

Maroela Media het vroeër berig meer as R1 miljoen is vroeër vandeesmaand binne enkele dae vir Schoenmaker en Buitendag ingesamel toe daar aanvanklik gedink is dat hulle nie vir hul prestasies beloon gaan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kobus ·

Wonder waar km die fondse nou vandaan? Het dit dalk iets te doen met die Junior aflos span wat ‘n wereld rekord opgestel het?

Samuel ·

Weet die agbare minister dat die twee vroue medaljewenners nie deel van ‘our people’ is nie? En vanwaar die geld?

Jaco ·

Help die ANC dan nou white priveledge aan? Ek is regtig verbaas.

SwartBees ·

Hahaha….die anc lede kry die maand nie pay nie want hulle pay gaan net so aan die medalje wenners.

Jr ·

Mthetwa vat jou geluk wense en steek hom waar die son nie skyn nie

DieKriek ·

En vat hulle nou weer n bietjie meer as die helfte terug vir persoonlike inkomstebelasting?

Tanniepetoors ·

Mthethwa is regtig net ‘n leë dop moeilikheid maker wat geen benul het van wat dit verg om die hoogste vlak in enige sport te bereik nie. Stommerik.

Skappie ·

Baie geluk aan julle wat medaljes terug gebring het. Trots op julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.