Spelers sal namens Boucher getuig

Mark Boucher. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Mark Boucher se dissiplinêre verhoor sal op 16 Mei begin.

Hoewel Krieket Suid-Afrika (KSA) so gou moontlik met die verrigtinge wou begin het, het die beleërde Protea-hoofafrigter se regspan onder meer aangedui dat ’n paar huidige nasionale spelers namens hom sal getuig.

Die Proteas vertrek vandag na Nieu-Seeland vir ’n reeks van twee toetse, waarna hulle teen Bangladesj in aksie is.

KSA het gevra dat die verhoor reeds in Maart – sommer tussen die twee reekse – moet begin.

Boucher het egter spesifiek vir ’n datum in Mei gevra omdat hy nie die spelers in die middel van hul internasionale seisoen wou ontwrig nie. Adv. Terry Motau (verhoorvoorsitter) het tot sy voorstel ingestem.

“KSA het gepleit vir ’n spoedige aanvang en afhandeling van die verrigtinge omdat sommige van die bewerings ’n tyd gelede plaasgevind het,” het adv. Motau in ’n verklaring gesê.

“Nadat ek na al twee partye geluister het, het ek met die argument wat namens mnr. Boucher aangevoer is, saamgestem.”

Dit is nog onduidelik wie die spelers sal wees wat namens Boucher sal getuig.

Dean Elgar (toetskaptein) het egter al vantevore gesê dat die spelers die afrigters en spanbestuur ondersteun.

“Hulle doen soveel werk agter die skerms en dit gaan dikwels ongesiens verby, terwyl dit ook gereeld in mediaberigte afgewater word. Dit is nie lekker nie om te sien hoe ons afrigters vir dinge gelooi word, terwyl ons as spelers baie dankbaar vir hul harde werk is,” het Elgar net voor die aanvang van die suksesvolle reeks teen Indië gesê.

KSA het in Januarie aangedui dat die Protea-hoofafrigter dissiplinêr verhoor sal word om die bewerings van wangedrag teen hom te ondersoek.

Mark Boucher en Paul Adams vier Andrew Flintoff se paaltjie. Foto: Martyn Hayhow/AFP.

Die voormalige Protea-draaier, Paul Adams, het tydens die krieketbeheerliggaam se transformasiesittings aangevoer dat die 45-jarige Boucher een van die spelers was wat hom in sy speeldae glo “brown sh*t” tydens vergaderings genoem het.

Boucher het kort daarna op die aantygings gereageer en onder meer gesê dat “niks wat ek gesê of gedoen het deur kwaadwilligheid of rassisme gemotiveer was nie”.

Van die meer onlangse klagtes hou verband met die bedanking van Enoch Nkwe (assistent-afrigter) en die knielherrie.

Onder die oudpaaltjiewagter se toesig het die Proteas net een wedstryd tydens die T20-Wêreldbeker in die Verenigde Arabiese Emirate verloor, terwyl hulle ook met die hoogaangeskrewe Indiese span in die afgelope toets- en eendagreeks afgereken het.

Boucher was in sy speeldae ’n gedugte teenstander en hy hou die paaltjiewagter-rekord vir die meeste slagoffers (555) in toetskrieket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Vernon ·

Ek is geen krieket kyker nie… Mark gaan oorsee om rus te kry vir jou siel,gaan speel of rig daar af. Hierdie klomp sal enige iets uitdink om van jou ontslae te raak want jy is wit.

Althes ·

Hoekom weghardloop altyd?
Staan eers jou man voordat mens oorsee oorweeg.
Hoe anders gaan dinge in die land verander, as almal net padvat?

Renier johannes ·

Haal politik uit sport en hou op met julle geneul oor ras

Alfred E Neuman ·

Nee, haal die verraderlike anc uit die vergelyking, dan is die probleem opgelos.

Delia ·

Dis reg Mark…veg vir jou reg en verdedig jouself. Hierdie is jou land…..ons almal s’n.
Hoekom moet ons almal padgee. Ons het ook n geboortereg hier.

Anel ·

Die groen, jaloesie monster wat praat. Adams het seker gedink dat Mark afgedank gaan word en dan kan hy die pos kry en nou weer gaan toer! Wat se suksesse het Adams nou al behaal met afrigting? En wat doen hy deesdae? Is die nie dalk maar ‘n manier om geld te maak nie? Maklikste manier om geld te maak, gooi die rassekaart. Net jammer die werk nie altwee kante toe nie!

George ·

Anel, jy kyk nie krieket nie ne, hy het al baie sukses as afrigter behaal. So ek sou se, lees op oor jou feite voor jy kom raskaart gooi.

Nick ·

Ek weet van geen wit krieket ondersteuners wat NIE fans van Gogga Adams was nie. Hy was ALMAL se hero. Dit is nou jammer dat sy vroutjie hom nou aangepor het om Boucher as ‘n rassis af te maak. Shame soek seker ‘n bietjie limelight. Ek is nie meer ‘n fan nie. Van hero tot crybaby in my oe.

George ·

Ek was nooit a fan nie, snaakse bowl aksie was nie vir my genoeg om n aanhanger te wees nie.

Maritza ·

Hartseer dat as jy nie jou sin kry nie dan word rassisme blameer. Adams moet eerder na homself eers kyk voor hy die vinger wys

N ·

Dis maar wat gebeur. Hy was gewoond aan al die aandag, nou herken niemand hom op straat nie. Doen verseker vir aandag.

Shakespeare ·

Paul Adam’s. Dit wat jy besig is mee word die beste in Engels verduidelik….D E S P I C A B L E !!!

Vonkprop ·

Moet so gou as moontlik afgehandel word anders vergeet hulle hulle rympie wat hulle geoefen het. Hoekom die haas? Nou sê hulle van die goed het baie lank terug gebeur so dit moet nou vinnig afgehandel word? Vir wat? Paul Adams was vir jare stil hoekom nou eweskielik so drasties optree? Hulle is bang Mark maak nog feite bymekaar en kry meer steun.

Casper ·

Adams se vroutjie wil ‘n paar rand maak.Hoeveel kolwers kon Gogga vang van sy eie boulwerk af,nie een nie want hy het mos sy kop onder sy arm weggesteek soos ‘n volstruis.Het nog nooit tyd gehad vir die meneer nie en nou het hy weer gewys hoe ruggraatloos hy is.

Misky ·

Adams se vrou soek ‘n geldjie. Het hom nie gepla nie, net vir haar.

Catherina ·

Aandag soek. ……. Maklik om iets te sê as dit oor ras gaan! Hoe belaglik. Kry iets om jou besig mee te hou Adams

david ·

Ek wil vir daardie hele bende rassiste in KSA net herinner aan ‘n ou Englse gesegde–“it takes a thief to catch a thief”……..It takes a Racist to see another racist.

Regtig KSA, dink julle nou werklik die krieket publiek gaan ag slaan op julle private, amateuragtig-nagebootse klein WVK verhoortjie ..?

Julle het almal sielkundige hulp nodig

Samuel ·

KSA wil seker graag van die wit afrigter ontslae raak. Die Proteas vaar baie goed onder sy leierskap.

Sarel ·

Soos ek verstaan het die outjie die klag ingedien in opdrag van sy vrou???
Indien Boucher moet gaan sal die mannetjie seker die pos kry…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.