Sperdatum vir kommentaar op Gautengse skoleregulasies verleng

skool-skoolskoene-onderwys

Argieffoto.

Die Gautengse onderwysdepartement het Maandag aangekondig die sperdatum vir kommentaar op die voorgestelde wysigings aan die toelatingsregulasies van dié provinsie se skole, is nou tot Vrydag 14 September verleng.

Volgens Steve Mabona, woordvoerder vir die departement, is dit om ouers, wat nog nie ʼn kans gehad het om kommentaar te lewer op die voorgestelde regulasies nie, nou die kans te gee om dit te doen.

Die departement het belanghebbendes en ouers gevra om kommentaar te lewer op die kriteria vir die voedingsgebiede van skole, die aanlynregistrasiestelsel vir gr. 1- en gr. 8-leerders en die goedkeuring van skole se toelatingsbeleid.

Mabona het ouers wat die departement se inligtingsessies in Augustus bygewoon en dié wat reeds kommentaar gelewer het, bedank vir hul tyd en deelname aan die proses sover.

“Ons wil soveel moontlik ouers aanmoedig om aan hierdie proses deel te neem, want hul insette op die nuwe regulasies is vir ons belangrik.

“Hierdie voorgestelde wysigings aan die regulasies sal geen invloed op die aanlyntoelatings vir die 2019-akademiese jaar hê nie. Dit sal wel in werking tree in 2019 vir die 2020-akademiese jaar se aanlynregistrasieproses,” het Mabona benadruk.

Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, het Panyaza Lesufi, die LUR vir die Gautengse onderwysdepartement van politiekery beskuldig.

Bloem het na ʼn twiet van Lesufi verwys waarin hy Dinsdagoggend getwiet het: “I declare, it will happen, a non racial [sic] quality education for all in our lifetime. You might have oppressed our grandparents and gave our parents gutter education and succeeded but you will never oppress our children and our children’s children and succeed, never!”

“Lesufi gaan voort om ʼn politieke spel te speel ten koste van leerders in die Gautengse onderwysstelsel,” het sy gesê.

Bloem het aangevoer Lesufi hamer deurentyd op rasbeperkings ten opsigte van skooltoelating in Gauteng, terwyl hy die vernaamste redes vir swak onderrig in wanfunksionele skole heeltemal ontken en misken, soos ʼn gebrek aan moedertaalonderrig, oorvol geriewe, die ideologiese speletjies van vakbonde en gebrekkige kwalifikasies van onderwysers.

“Dit is alles faktore waarna Lesufi as LUR moet verwys en waarvoor hy nie die blaam na ander kan verskuif nie.”

Die burgerregte-organisasie het ouers aangemoedig om steeds kommentaar teen die voorgestelde regulasies by www.virskole.com te gaan lewer. Meer inligting oor die regulasies kan ook op AfriForum se webblad bekom word onder die skakel #VirSkole.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Disselboom ·

Dis tog ironies dat die sogenaamde “gutter education” wat die swartmense sou gekry het, in die hoogtepunt van die Nasionale Party-bewind baie van die latere ANC-politici laat skoolgaan het tot ‘n punt waar hulle blykbaar in staat is om maatskappydirekteure en ministers te word, en saam te praat in die wêreld. Selfs Mandela het in die tyd wat beweer word dat swartes geleenthede ontsê is, opleiding tot by regsgraad gekry. Die hele redenasie wil net nie lekker klop nie – soos die ironie om te vra watter regering het vir wie al die skole gebou wat hulle in die 1970’s bv kon afbrand, en wie toe die belastinglas gedra het waarmee hierdie skole gebou is?

Michelle ·

Die ironie is dat dit nie die probleem gaan oplos nie, en dan gaan daar nie meer iemand wees om te blameer. Sy onwerkbare sisteem gaan hulle beslis nie gee wat hulle dink ons gevat het nie.
Sy opmerkings is kinderagtig en insigloos.
As die hele situasie nie so tragies was en met kinders se toekoms roekeloos omgaan nie, wil mens amper sê dat hulle wat nie wil/kan verstaan maar moet kry wat hulle kant toe kom.
Hopelik kan die Afrikaanse alternatiewe met sterk iniasitief en kundigheid nou na vore tree om oplossings te word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.