Sperdatum vir onteieningskomitee uitgestel  

(Foto: LNR/Facebook)

Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, het Donderdagoggend tydens ʼn virtuele sitting van die Nasionale Vergadering se programkomitee voorgestel dat die ad hoc-komitee oor die wysiging van artikel 25 van die Grondwet hersaamgestel word.

Die ad hoc-komitee wat tot dusver die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding hanteer het, se mandaat het op 31 Mei verstryk en die parlement het dit nie hernieu nie. Dit beteken daar is tans geen komitee wat aan die kwessie aandag gee nie.

Modise het die afgelope week raad ingewin oor die regsposisie van die komitee en die terugvoer was dat die ad hoc-komitee hersaamgestel moet word.

Voorts het dit uit die speaker se oorleg met politieke partye geblyk dat daar nie aptyt was om die proses uit te rek later as die einde van die jaar nie. Modise meen dus die sperdatum vir die afhandeling van die proses moet op min of meer op 30 November vasgestel word. Dié besluit sal deur die Nasionale Vergadering geneem word wanneer die raamwerk vir die nuwe ad hoc-komitee daargestel word.

Twee ander belangrike besluite deur die programkomitee is dat die begroting finaal aanvaar of afgekeur sal word deur ʼn sitting van agt uur van die Nasionale Vergadering op Vrydag 12 Junie. Dit is vanjaar anders as in ander jare omdat ʼn heel nuwe begroting later vandeesmaand voor die parlement sal dien, weens die invloed van die koronavirus.

Laastens het die programkomitee besluit pres. Cyril Ramaphosa sal aanstaande Donderdag drie uur lank mondelinge vrae van parlementslede beantwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nie Verbaas ·

Kan jy glo dat die onbevoegde ANC sirkus dit nog steeds wil probeer, ongeag waarskuwings van oral?

Pappa Beer ·

Gaan hulle nou land diefstal OOK onder die covid dekmantel probeer wegsteek? Dink hierdie idiote dat mense blind of onnosel is?

Nico ·

Het die ANC enige deelname gehad tydens die opbouing van Suid Afrika, nou wil hulle kom met verskonings. Noudat alles in hierdie land opgebou is wil hulle dit kom vat, die ANC is nie by magte om ‘n land op te bou nie, al waar voor hulle goed is, is om af te breek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.