Sperdatum vir platinum-staking vandag

Amcu-lede van Lonmin by Wonderkopstadion in Februarie 2014 Foto: @thembaelvis, Twitter

Amcu-lede van Lonmin by Wonderkopstadion in Februarie 2014 Foto: @thembaelvis, Twitter

ʼn Groot polisieteenwoordigheid sou Dinsdagaand deurnag by die platinumgordel ontplooi word om hopelik ʼn einde te bring aan ʼn vyf maande lange staking by ‘n Lonmin-myn.

“Daar gaan ʼn reuse-ontplooiing wees om seker te maak dat ons diegene wat graag wil teruggaan werk toe, se grondwetlike regte kan beskerm,” het brig. Thulani Ngubani, woordvoerder vir die polisie, Dinsdagaand aan AFP gesê.

Drie mynwerkers is die afgelope paar dae vermoor voor ʼn stakingsperdatum wat Lonmin vir Woensdag bepaal het. Lonmin het aan die begin van die maand ‘n SMS aan sy werkers gestuur om deur middel van teksboodskappe en e-pos te bepaal of sy werkers bereid is om terug te keer werk toe. Sue Vey, woordvoerder van Lonmin, het aan City Press gesê dit is dringender vir Lonmin om vervaardiging weer aan die gang te kry as vir Impala of Amplats. Impala het steeds sy bedrywighede in Zimbabwe en Amplats se grootste myn in Suid-Afrika is steeds aan die gang.

Meer as 80 000 lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) staak al sedert 23 Januarie by Lonmin, Amplats en Implats en dring aan op ʼn intreevlaksalaris van R12 500.

Betogers van die Lonmin-myn het Dinsdag winkels in Marikana, Noordwes, afgebrand, het ʼn AFP-fotograaf berig.

Ongeveer 60 mense het winkels by ʼn informele nedersetting langs die myn aan die brand gesteek en met knuppels en byle betoog.

Lede van die National Union of Mineworkers en werkers wat nie staak nie, het sedert die begin van die staking voorvalle van intimidasie en geweld deur die stakende meerderheid aangemeld.

Amcu het ʼn aanbod deur die drie werkgewers, om die R12 500 teen 2017 te behaal, verwerp. Mynbase het intussen direk met die werknemers begin konsulteer en Lonmin sê talle werknemers het vandeesweek vir werk opgedaag. Volgens ʼn bedryfswoordvoerder het ʼn paar van die myners by Amplats ook teruggekeer werk toe. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.