Spertyd vir Ace kom en gaan

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, oudpres. Jacob Zuma en pres. Cyril Ramaphosa by die viering van die ANC se 107de herdenkingsfees in Durban in 2019. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Die slagordes is opgestel vir ʼn rowwe stryd in die regerende party na die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, die party se spertyd om die tuig oor beskuldigings van bedrog neer te lê, gemis het.

Magashule is op 30 Maart 30 dae gegun om te bedank, nadat hy aangekla is van verskeie oortredings wat glo plaasgevind het gedurende sy termyn as Vrystaatste premier. Hy ontken die aanklagte teen hom.

Sy lot is ʼn toets vir die ANC se onderneming om ontslae te raak van ʼn beeld van korrupsie, vertroue in die party te herstel en kiesersteun terug te wen.

Dié strategie, sê ontleders, gaan slaag of sleg misluk met die 61-jarige Magashule, ʼn taai politieke vegter met ʼn permanente frons en ʼn net so getroue gevolg.

“Vir die eerste keer staan die ANC op die punt om sy eie sekretaris-generaal af te dank. Dit het nog nooit in die geskiedenis gebeur nie,” sê Mcebisi Ndletyana.

Die Magashule-kwessie raak ook aan die hart en die geskiedenis van die ANC. Die party was die krag wat Suid-Afrika se apartheidsbestel beëindig het en regeer die land sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994.

In hierdie geslote hiërargie het Magashule sy pad deur die range oopgeveg. Hy het begin in sy tuisprovinsie, die Vrystaat, en al die pad ʼn ondersteuningsnetwerk opgebou.

Zuma-era

ʼn Belangrike oomblik het in die 2000’s aangebreek, toe Magashule die hoof‑ politieke vertroueling vir beleërde oudpres. Jacob Zuma geword het.

“Zuma se opgang het die weg gebaan vir ʼn verlaging van standaarde wat betref die vereistes vir leierskap in die party,” sê politieke ontleder Ongama Mtimka.

Ndletyana sê onder sy leierskap sou ʼn korrupte amptenaar toegelaat word om voort te gaan, solank as hy hulde bring aan die president.

ʼn Verslag getiteld “Betrayal of the Promise: How South Africa is being Stolen”, wat in 2017 bekend gestel is, noem Magashule as een van die sogenaamde elite wat ʼn netwerk van patronaatskap gebou het en die onwettige verspreiding van voordele onder Zuma moontlik gemaak het.

Die aanklagte teen Magashule hou verband met die staatsgeld wat aangewend moes word vir ʼn ondersoek na asbesdakke in die Vrystaat in 2014. Die gevaarlike dakke is nooit vervang nie en ondersoekers meen nagenoeg R174 miljoen het uiteindelik in die betrokkenes se sakke beland.

Magashule is in November vlugtig in hegtenis geneem en daarna op borgtog vrygelaat. Hy verskyn na verwagting in Augustus weer in die hooggeregshof.

Red ANC se siel

Die ANC se voorgenome skoonmaakproses het ʼn lang aanloop. In 2017 het die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) beslis dat enige lid of leier wat strafregtelik aangekla word, vrywillig moet bedank of geskors word. Dit het egter tot verlede jaar geneem voor dié bepaling eindelik in werking gestel is en het gevolg op groot openbare onthutsing oor ʼn vlaag Covid-19-korrupsieskandale waarby staatsamptenare betrek is.

ʼn Handvol senior staatsamptenare in die ANC is die afgelope week op dié manier die deur gewys.

Die opsystaan-strategie is ʼn “stryd om die behoud van die ANC se siel as ʼn organisasie met integriteit en moraliteit”, sê Mtimka.

Hy en andere sien ʼn party deurspek met verdeeldheid tussen stoere ondersteuners van Zuma – wie se korrupsieverhoor nou reeds jare lank sloer – en diegene wat pres. Cyril Ramaphosa ondersteun.

Magashule is ʼn Zuma-kampvegter en het die konsolidering van mag vir die nuwe president – Ramaphosa – teengestaan, sê Mtimka. Hy waarsku ook dat Ramaphosa “kwesbaar” gaan bly solank as Magashule in die tuig is.

“Die party het geen ander keuse as om bedag te wees op openbare persepsies oor sy integriteit nie en moet optree op ʼn manier wat sy verbintenis tot die stryd teen korrupsie en misdaad bevestig,” sê Mtimka.

Ramaphosa het vandeesweek voor die Zondo-kommissie na staatskaping getuig en het die versekering gegee dat die ANC vasbeslote is om die vergrype wat plaasgevind het, te stuit.

Sommige ontleders het hul bedenkinge hieroor en vermoed dat Magashule se afdanking net verder vertraag gaan word.

Paul Mashatile, die ANC se tesourier-generaal, het verlede week gesê dit sal ʼn “oorvereenvoudiging” wees om ʼn gedwonge bedanking teen die spertyd te verwag. Die ANC-woordvoerder Pule Mabe het op sy beurt gesê Magashule se lot sal bespreek word nadat die NUK ʼn lys van “kamerade” ontvang het “wat moontlik geraak kan word” deur die opsystaan-besluit.

“As hulle Magashule toelaat om in sy pos te bly, gaan dit net nog ʼn spyker in die doodskis van die ANC se geloofwaardigheid wees,” het die DA-leier John Steenhuisen vandeesweek gewaarsku.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Persheks Adri ·

Cyril gaan hom beslis nie afdank nie hy weet Ace weet te veel en het beslis nie die “guts” om dit te doen nie pffft! Ekskuus tog verskoon my van watter vertroue praat die klomp?

Punisher ·

Ek verstaan nie die af duimpie nie jy praat immers net die waarheid of iemand is ‘n aanhanger van die klomp

Riana ·

ANC is ‘n joke … yet they win all the votes…. Jammer maar ek kan nie meer mense bekostig nie so daar is nog 2 ANC ondesteuners wat sonder werk gaan sit die jaar…

Dries ·

Dit is hartverskeurend om te besef dat SA deur sulke karakterlose kriminele regeer word. As daar nie optrede teen hierdie korruptes gaan wees nie beteken dit net een ding en dit is dat die meerderheid in die NUK net so korrup is

Chris dupreez ·

Vinkel en koljander, die een is so korup soos die ander

Nie Verbaas ·

CR sekere trots daarop om so ruggraatloos en n bespotting vir alles logiese denkers in die wereld te wees.

SomeOne ·

hy voel nie ‘n duit om wat die wêreld van hom dink nie

Danie ·

As Ceryl Ramaphosa nou nie daadwerklik optree en vir Ace uitsmyt uit die party nie dan moet hy maar stepdown as president en dan kan ons as witman ons maar regmaak vir n geveg soos nog nooit vantevore.

Snowball ·

‘n Put vol adders is minder gevaarlik as hierdie lot. Hulle is gewetenloos, karakterloos en onaantasbaar. ‘n Mafiastaat en SA is die slagoffer.

annie ·

Ace se lot… Zuma se lot… die Ghupta’s se lot… en so hou die hele lot aan en aan regeer. Antie Winnie se lot het verander in heugelike naamsveranderinge tot haar eer en waar is Stompie… Waar sal ons Ace standbeeld staanmaak? Links of regs van Mandela?

koos10 ·

Kan/wil nie eers hulle eie beleid uitvoer nie. Hou nie by sperdatums nie, MAAR ‘n land wil ulle bestuur?

Jannie van Niekerk ·

Volgende jaar op 1 Mei 2022 gaan Zuma en Ace nogsteeds niks oorgekom het nie. Glo my vry.

Lian ·

Verskoon die Engels ” Mr Ace, you know the drill, take your medicine ” .

KB ·

‘n Jakkals verander van haar, maar nooit van kleur (streke) nie…

Michal ·

Hoe voorspelbaar, n kindtjie sou ook vir ons kon sê dat die spertyd sou kom en gaan. CR is n kamma n leier, in ander woorde, ruggraadloos.

Jan ·

Nou ja, ek onthou nou net die gesegde “There is honor amongst thieves”. Die klomp ANC kriminele sal mekaar beskerm tot die dood toe.

Jack ·

Soos alle diktators gaan hy nerens heen nie. Net die dood sal hom uit die posisie lig.

Hennie ·

Hoe kan ‘n vrot appel, ‘n ander vrot appel verwerp? Die ANC is ‘n sepsis van magsvergrypers en diewe!

Pietertjie ·

Hoe lekker kuier onse maters nie saam nie! Hulle lag sekerlik in die mou, oor hoe hulle die massas aan die neus rondlei.

johann ·

As hy skuldig is (soos ek glo hy is) hoekom word hy nie voor die hof gedaag en tronk toe gestuur nie ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.