ʼn Langverwagte eenheid vir wetstoepassing spesifiek met die oog op treine in Kaapstad is Maandag op die Kaapstad-treinstasie bekendgestel.
Brett Herron, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir vervoer, het gesê die eenheid is op die been gebring ná die memorandum van ooreenkoms tussen die Stad Kaapstad, die Wes-Kaapse regering en die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa).
Herron het gesê sowat ʼn 100 beamptes het die afgelope paar maande omvattende opleiding ontvang. Hulle is nou gereed om ontplooi te word.
Die Stad het gesê die stigting van dié eenheid is ʼn toonbeeld van die “samewerkende gees tussen die verskillende sfere van die regering”.
Dié toetsprojek sal ʼn tydperk van 12 maande duur. “Spoorlyne is die mees doeltreffende en bekostigbare vorm van openbare vervoer. Hier in Kaapstad maak honderde duisende inwoners staat op treine om werk en skool toe te gaan.”
Herron sê dit is die Stad se verantwoordelikheid om die pendelaars se veiligheid te verseker. JP Smith, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid van veiligheid en sekuriteit, het gesê dié inisiatief is aanduidend van hoe ernstig die Stad is oor pendelaarveiligheid asook hul toewyding om weer die spoorwese te stabiliseer.
Dié eenheid sal op die veiligheid van die pendelaars fokus, asook vandalisme aan en diefstal van noodsaaklike Metrorail‑infrastruktuur en ‑bates.
Die eenheid sal die bestaande veiligheidsdienste bystaan en aanvul.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Moet daar nou eers magte geplaas word na al die miljoene rande verbrand is regtig glo dit nie
As wat staan hulle bekend – Amptelike benaming? S.A. Spoorweg Polisie se ontbinding was ‘n fatale fout destyds. Ek wonder of hierdie nuwe eenheid enigsins naastenby so effektief sal wees – tyd sal leer. Ek hoop dat die persone wie die opleiding verskaf het ten minste ex-S.A. Spoorweg Polisie lede is.
die verbranding van treine is omdat die brandsrigters geen respek vir die polisie het nie. en wie moet ons bedank?
Voorheen was daar die Spoorwegpolisie en hulle kon die werk doen. Nou wil hul nuwe eenhede begin. Stel die Spoorwegpolisie weer in, skep so werk en sorg dat misdaad bestry word.
Die spoorwegpolisie was in plek toe skaf die ANC dit mos af. Nou miljarde rande se treine verbrand nou kom eers agter watse fout hulle gemaak het. Het mos alles wat mooi grwerk het verander. Leer ook nie.