Spesiale kabinetsvergadering takel ekonomiese groeiplan

Minister Tito Mboweni. (Foto: Nokuthula Mbatha/ANA)

ʼn Uitgebreide kabinetsvergadering wat adjunkministers insluit het vandag by Tuynhuys in Kaapstad plaasgevind oor die minister van finansies, Tito Mboweni, se veelbesproke plan vir ekonomiese groei en transformasie.

Mboweni se idees steun sterk op die markekonomie en het reeds kritiek uit die geledere van Cosatu, die EFF en die populistiese groepering van die ANC ontlok.

Die uitgebreide kabinetsvergadering het duidelik ten doel om steun daarvoor in die ANC te versterk deur ʼn groter groep te dwing om medeverantwoordelikheid daarvoor te aanvaar, ingebind soos hulle sal wees deur die beginsel van medeverantwoordelikheid.

Tydens ʼn voorligtingsessie elders aan die parlementêre perskorps terwyl die uitgebreide kabinetsvergadering steeds voortgeduur het, het die minister in die presidensie en kabinetswoordvoerder, Jackson Mthembu, gesê die kabinetsbespreking is baie opbouend. Hy het ook die sowat 700 Suid-Afrikaanse lede van die publiek wat kommentaar daaroor gelewer het, hartlik bedank.

Op Woensdag se gewone kabinetsvergadering is die nuwe distriksgedrewe ontwikkelingsplan van die regering deurtastend bespreek. Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdag die program van stapel gestuur in die Oos-Kaapse dorp Lusikisiki.

Alle kabinetsministers, die volledige Oos-Kaapse kabinet en alle burgemeesters van die OR Tambo-distriksmunisipaliteit (die voormalige Transkei) het die geleentheid bygewoon, waartydens op ʼn vyfjaarplan vir die gebied ooreengekom is.

Die voltooiing van die Umzimvubu-dam en die N2-dubbelpad langs die Wildekus is van die streek se prioriteite terwyl die kliniek en hospitaal in Lusikisiki loodsprojekte van die nasionale gesondheidsversekering verteenwoordig.

Die kabinet het ook geweld teen en moord op vroue en kinders bespreek en die stappe goedgekeur wat in hierdie verband deur Ramaphosa aangekondig is. Dit sluit in geen parool nie vir seksmisdadigers, die uitbreiding van die skoolkurrikulum vir lewensoriëntasie se fokus op geweld teen vroue, en sensitiwiteitsopleiding vir polisiepersoneel, staatsaanklaers en landdroste.

Mthembu, wat self onlangs ʼn dogter aan die dood afgestaan het, het gevra dat mans hul gedrag verander en ophou om soos diere op te tree teenoor vroue.

Die kabinet het aanvalle teen buitelanders en xenofobie veroordeel, en gesê daar sal opgetree word teen dwelmhandelaars en mense wat onwettig handel dryf in verbruikersgoedere.

Die kabinet het die aanvalle op die huise van stadsraadslede in die Matlosana-munisipaliteit in Klerksdorp veroordeel en gesê die skuldiges moet gearresteer word.

Mthembu het ook aangekondig dat die regering se vorderingsverslag oor die suksesse en mislukkings van die eerste 25 jaar van demokrasie binnekort gepubliseer sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chris Ws ·

Die verslag oor suksesse en mislukkings gaan ‘n eensydige affere wees.Waar het die ANC suksesse gehad?Noem net EEN asb.

Derick ·

Vergader seker weer om te kyk waar daar ge”capture” kan word ….

Johann cb ·

Die Regering pak projekte aan waarvoor tevore begroot is en nou herbegroot is! Kan ons nie maar ophou om geld te mors nie?

Pieter ·

Al hoe ons dit gaan stop is met belasting boikot so nie kan ons maar vergeet so lank as wat die anc regeer so lank gaan hulle bky ons belasting geld mors gaan kyk maar na ons buurstate

Jimmy ·

Ek is nie bekommerd nie. Vroeg volgende jaar is daar weer ‘n nuwe plan.

Trojaanse Donkie ·

Word dit opwaarts of afwaarts aangepas? Wonder maar net.

Attie. ·

Se vir my hoe weerhou ek my belasting van SARS. hou ek op Btw betaal by PnP of Hou ek op om tolgeld te betaal of gooi ek nie meer brandstof im my kar nie? Asseblief iemand, vertel my dan sal ek dit doen. Ons moet net nie slimmer as ons IK probeer wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.