Spesiale oudit vir KZN-rampgeld

Die ouditeur-generaal (OG) van Suid-Afrika, Tsakani Maluleke. (Foto: Verskaf)

Die ouditeur-generaal (OG) van Suid-Afrika, Tsakani Maluleke, sal die hulpverligtingsgeld vir KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap breedvoerig oudit en het Donderdag verduidelik presies hoe sy beplan om die besteding van hierdie boordnodige fondse te monitor.

Maluleke het aan die parlement se staande komitee oor die OG gesê dat sy gereed is om die spesiale oudit in die provinsies van stapel te stuur.

Sy het ʼn intydse oudit ontwerp wat reeds begin het in ʼn poging om swak plekke wat beheermaatreëls betref, te identifiseer en voorkom. Hierdie tipe oudits identifiseer instellings wat nie hul verpligtinge wat betref die fondse nakom nie en vereis van hulle om dit reg te stel. Die bevindinge van die oudits sal ook binne ʼn kort tyd saamgestel word.

“Wanneer die OG haar verslag hieroor indien, sal sy nie net insig kan gee oor hoeveel geld, waar toegewys en herprioritiseer is nie, maar ook hoe die besteding beheer word,” het die komitee se woordvoerder gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede maand, toe hy ʼn nasionale ramptoestand weens die oorstromings in KwaZulu-Natal afgekondig het, gesê dat R1 miljard van die nasionale tesourie vir noodverligting beskikbaar gestel sal word.

Om te verseker dat hierdie geld doeltreffend bestuur word, het Maluleke gesê dat sy na al drie van die regeringsfere – nasionaal, provinsiaal en plaaslik – sal kyk.

Nasionaal sal die OG die departemente van menslike nedersettings; water en sanitasie; vervoer (insluitend Sanral); openbare werke en infrastruktuur, sowel as die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid oudit.

In die betrokke provinsies sal die OG se fokus spesifiek op die departemente van menslike nedersettings; onderwys; maatskaplike ontwikkeling; openbare werke en gesondheid lê.

Die OG sal in die plaaslike regering in KwaZulu-Natal fokus op die eThekwini-metro, wat Durban en omliggende gebiede bedien, asook die Ugu-, uMgungundlovu-, uThukela-, King Cetshwayo-, uMkhanyakude-, iLembe- en die Zululand-distrik.

Die OR Tambo-distrik in die Oos-Kaap sal die OG se hooffokus vir die oudit in hierdie provinsie wees.

“Die komitee is gerusgestel deur die feit dat die oudits reeds begin het. Die komitee is ook bemoedig deur die positiewe gesindheid wat die OG aan die dag lê terwyl sy hierdie werk uitvoer,” het die komitee gesê.

“Verder hoop die komitee dat al die betrokke regeringsfere deur interregeringsverhoudings sal saamwerk om te verseker dat die werk om hierdie gemeenskappe te herbou doeltreffend en op ʼn omsigtige wyse gedoen word.”

Die DA was vroeër bekommerd omdat die tesourie se beloofde R1 miljard nog nie in die provinsies bestee is nie. Die regering het burgers egter kort daarna verseker daar is geen vertragings met die toewysing van geld nie, maar dat ʼn proses gevolg moet word om dit te ontsluit.

Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, het Donderdag, terwyl hy die huidige stand van sake in die provinsie uiteengesit het, gesê benewens die R1 miljard van die regering, het die provinsie ook ʼn toegewyde bankrekening geopen vir skenkings.

Op 15 Mei het die rekening se saldo reeds op R125 000 gestaan.

Volgens Zikalala is R100 000 hiervan spesifiek vir die departement van gesondheid geoormerk. Die res van die geld sal gebruik word om bouprojekte in die provinsie te finansier.

“Die grootste deel van skenkings is direk aan nie-regeringsorganisasies gestuur en die betrokke organisasies kan hiervoor verantwoording doen,” het hy gesê.

“Die Menseregtekommissie (MRK) en die Verenigde Nasies (VN) se koördineringskantoor in Suid-Afrika sal met organisasies saamwerk om te verseker dat burgers ʼn verslag ontvang oor wie wat gedoen het met die skenkings wat geoormerk is vir die mense wat deur vloede in KwaZulu-Natal geraak is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nicky ·

Mooi praatjies is ook al in hul woorde skat, maar dis ook al

Pampoen ·

Sy gaan dit oudit en agterkom daar is baie geld weg, dan stel sy ‘n kommissie van ondersoek aan en 20 mijoen en twee jaar later is niemend in die tjoekie nie.

JohanR ·

Hoop sy is nie soos Fikile Mbalula nie, want hy het Piet Promises lankal verby gesteek!

Deon ·

Priemier, as jy van geld praat dan maak jou somme klaar nie sin nie, van 125 000 in daai rekening is 100 000 die grootste gedeelte. 25 000 vir bou projekte, en hoeveel het jy nou weer gese vir dept gesondheid?

Di ·

Ja nee kyk, dink daar is BAIE van ons wat maar twyfel dat hierdie projek gaan slaag en sonder enige korrupsie sal gebeur. Ons het te veel jare aanskou hoe ALLE projekte waar geld betrokke is misluk het en die geld geplunder is. Daar sukkel ons al HOEVEEL jare om hierdie skelms net in die tronk te kry.

Janee ·

Skenkings sekerlik lankal verdeel….en dan wonder ek wat het geword van rampbestuur se fondse? As daar ooit so-iets was… Moenie jul asem ophou …

domheks ·

‘Our people’ kan maar net nie met geld werk nie! Sterkte OG!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.