‘Spesiale reünie’ vir jong man, hond in hospitaal

Hilux kuier by Alwyn Griebenow in die Aurora-hospitaal. Foto: Verskaf

Hilux kuier by Alwyn Griebenow in die Aurora-hospitaal. Foto: Verskaf

Dit was ʼn spesiale oomblik toe Alwyn Griebenow, die 20-jarige student van Port Elizabeth wat kritieke beserings opgedoen het toe hy verlede maand tydens ʼn ongeluk uit ʼn bakkie geslinger is, die afgelope naweek in die hospitaal deur sy lojale vierpotige vriend, Hilux, besoek is.

Alwyn is Vrydag, ná twee weke in die hospitaal, na die Aurora-hospitaal in die stad oorgeplaas waar hy nou rehabilitasie ondergaan.

Alwyn het ernstige beserings, onder meer ʼn breinbesering, opgedoen toe hy en ʼn vriend ná ʼn geselligheid die aand van 19 Januarie teruggery het huis toe en naby Alexandria noord van Port Elizabeth in ʼn ongeluk betrokke was. Die vermoede is dat Alwyn se vriend agter die stuurwiel aan die slaap geraak het en Alwyn is tydens die ongeluk uit die bakkie geslinger.

Alwyn se hond, Hilux, wat agterop die bakkie was, het ook beserings opgedoen, onder meer ʼn gebreekte poot. Hilux het egter sedert die ongeluk net so goed soos sy baas aangesterk.

Alwyn se suster, Anmari, het in ʼn Whatsapp-boodskap gesê Hilux het Saterdag en Sondag vir Alwyn in Aurora gaan kuier en die hereniging was “werklik iets spesiaals”. “Ons is dankbaar aan Aurora wat toelaat dat Hilux se besoeke deel vorm van Boetie se terapie,” het sy gesê.

Alwyn Griebenow en Hilux. Foto: Verskaf

Alwyn Griebenow en Hilux. Foto: Verskaf

Volgens Anmari loop Alwyn elke dag ʼn bietjie verder en met meer sekerheid, maar sal hy nog heelwat fisioterapie moet ontvang om volkome te herstel. Hy praat ook nog baie onduidelik en ondergaan spraakterapie om sy spraak te verbeter. Sy sê dat hy ook baie pyn in sy skouer ervaar nadat dit in die ongeluk ontwrig is, maar dat dit ook mettertyd sal herstel.

“Alwyn kan nie ophou eet nie! Hy maak beslis nou op vir al die verlore etes wat hy gemis het toe hy in ʼn koma was,” skerts Anmari. “Hy maak ʼn bietjie grappies en hy probeer regtig om sterk te bly deur hierdie ding, net soos die Boetie wat ons almal ken.”

Alwyn is oor die naweek in ʼn algemene saal onder waarneming gehou, maar sal vandag volstoom met sy onderskeie rehabilitasie-sessies begin.

Lees alle vorige berigte oor Alwyn Griebenow op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

CAROL ·

BAIE DANKIE AAN DIE HOSPITAAL DAT HULLE TOEGELAAT HET DAT DIE HOND KON IN GAAN. DUIDELIK WAS DIE PATIENT BAIE BLY!!

Albert Marais ·

Die beste medisyne vir albei. Terloops albei was betrokke in dieselfde ongeluk, verstaan waaroor dit gaan. Telepatie in werking Sterkte en voorspoed aan albei, Alwyn en Hilux

m ·

Diere is lieflike goed en sal enige mens gou laaat beter voel met al die liefde wat hulle het.

wilma ·

Werknemers by Aurora. Jul harte klop warm vir jul pasiente en vir diere. Baie baie dankie. Jul is tops.

Johann ·

Lekker is dit om te sien en te hoor van die goeie! Gaan summier vannaand vir my drie “4 voet manne” ‘n GROOT bederf gee.

Celia ·

Dis fanasties! Dankbaar daar is soveel beterskap! Baie seen en baie liefde vir die pragtige Kollie en sy basie…. wow

Gerrit ·

Liefde tussen mens en dier is iets wat baie kosbaar is vir my.

`n BAIE GROOT dankie aan die personeel wat die hondebesoekie toegelaat het !!!

Ek het dieselfde soort hondedogtertjie wat absoluut als in my lewe is.

Kaye ·

Die mooiste fotos wat die lojaliteit van ‘mans best friend’ uitbeeld. Sterkte met jou rehabilitasie Alwyn en kyk mooi na Hilux. Groete Kaye

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.