Spesiale skoolprogram vir Malamulele-leerlinge

'n Skool brand in Malamulele (Februarie 2015) Foto: @eNCAnews op Twitter.

‘n Skool brand in Malamulele (Februarie 2015) Foto: @eNCAnews op Twitter.

ʼn Spesiale skoolprogram sal vir skoliere in Malamulele ingestel word om seker te maak dat hulle agterstallige werk kan inhaal, het die departement van onderwys in Limpopo Woensdag gesê.

Leerlinge kon weke lank nie skool toe gaan nie weens betogings in die gebied. Inwoners het die skole gesluit en vyf van die skole is afgebrand. Die jongste voorval van beweerde brandstigting is Woensdagoggend by Nkatini High School aangemeld.

“Alle belanghebbendes sal vergader om die proses te bespreek en seker te maak dat ons die program instel,” het Paena Galane, provinsiale woordvoerder van die departement, gesê.

Jerry Ndou, waarnemende LUR van onderwys, sal na verwagting Donderdag ʼn afvaardiging na die verskillende skole lei om ʼn begrip te kry van die behoeftes en om ʼn plan te ontwikkel.

“Ons lewer handboeke af. Ons hanteer die kwessie rondom mobiele klasse. Ons hanteer die kwessie van onderwysers,” het Galane bygevoeg.

Inwoners eis hul eie munisipaliteit vir Malamulele, aangesien die bestaande Thulamela-munisipaliteit glo hoofsaaklik die Tshivenda-sprekers bedien en die Xitsonga-sprekers in Malamulele agterweë laat. Die Munisipale Afbakeningsraad het die inwoners se aansoek van die hand gewys.

Inwoners het Maandag die betoging opgeskort.

Lees alle vorige berigte oor Malamulele op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.