Spesiale taakmag blink uit by internasionale uitdaging

(Foto: sapoliceservice_za/Instagram)

Boewe beter ligloop vir Suid-Afrika se Spesiale Taakmag (STF). Lede van die taakmag, wat deel uitmaak van die nasionale polisiediens, het vandeesmaand gewys hulle is wêreldklas deurdat hulle 16de uit 73 spanne in die gesogte Verenigde Arabiese Emirate (VAE) se SWAT-uitdaging geëindig het.

Die VAE se SWAT-uitdaging word deur die Dubai-polisie aangebied en deur die VAE se ministerie van binnelandse sake geborg. Die kompetisie is bekend vir sy veeleisende formaat, wat ontwerp is om deelnemers se taktiese insig, spanwerk, behendigheid en stamina oor verskeie vlakke te toets. Die uitdaging het vanaf 3 tot 7 Februarie plaasgevind.

Kol. Gladwin Barties, bevelvoerder van die spesiale taakmag, sê hy is uiters trots op sy span se prestasie, wat saam met top-wetstoepassing- en militêre taktiese spanne van oor die wêreld in ʼn streng vyfdagbyeenkoms meegeding het.

Suid-Afrika is deur twee spanne verteenwoordig, die Spesiale Taakmag en die Gespesialiseerde Operasionele Span – ʼn saamgestelde eenheid wat uit lede van verskeie taktiese eenhede in die polisie bestaan.

“Ondanks formidabele mededinging het albei spanne merkwaardig presteer, wat Suid-Afrika se teenwoordigheid in die wêreldwye taktiese gemeenskap verder versterk het,” sê hy.

Vanjaar was Suid-Afrika se derde agtereenvolgende deelname aan die uitdaging.

“En elke jaar vaar ons beter. Van 13de plek onder 33 spanne in 2022 tot 9de plek uit 53 spanne in 2023, en nou 16de uit 73 spanne in 2024,” sê hy.

“Dit beklemtoon die konsekwente opwaartse trajek, die onwrikbare toewyding, streng opleiding en operasionele vaardigheid van die Suid-Afrikaanse spanne.”

Barties sê  die sukses by die VAE se SWAT-uitdaging weerspieël nie net die individuele toewyding van spanlede nie, maar versterk ook die polisie se statuur op die globale verhoog.

“Die Gespesialiseerde Operasionele Span, wat sy debuut in die uitdaging gemaak het, het 46ste op die ranglys geëindig. Hul prestasie voorspel goeie goed vir toekomstige deelname, wat die potensiaal vir voortgesette sukses en groei ten toon stel.”

Hy sê voorbereiding vir die uitdaging het streng opleidingsregimes behels, insluitend fisieke kondisionering en taktiese en situasionele oefeninge.

“Ondanks die balansering van voorbereiding met operasionele pligte het die spanne gefokus en vasbeslote gebly om op die internasionale platform uit te blink.

“Die positiewe terugvoer en ondersteuning van leiers, eweknieë en lede van die publiek dien as motivering om voort te gaan met ons strewe na uitnemendheid in diens en prestasie,” sê hy.

Hy sê verder die sukses van Suid-Afrikaanse spanne by die SWAT-uitdaging beklemtoon nie net die taakmag  se vaardigheid en professionaliteit nie, maar versterk ook die land se verbintenis tot die handhawing van hoë standaarde in wetstoepassing en taktiese operasies op die internasionale verhoog.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Terwyl hulle daar pronk baljaar die skelms op tuisbodem.

Chopper ·

Wat ‘n prestasie!!
Die “formidabele mededinging” wat die trotse Barkies van praat en wat ons gewen het was:
Dubai Police B (UAE), Dubai Police A (UAE), SARDAR (Kazakhstan), Department of Special Force Kalkan, Royal Thai Police A (Thailand), SUNKAR, SSN A, AKHMAT (Russia),
POLIS OZEL HAREKAT TEAM A (Turkey), GENDARMERIE MINISTRY OF THE INTERIOR OF THE REPUBLIC SERBIA (Serbia), San Antonio PD (USA), RNP SWAT TEAM 1, SOBT, Royal Thai Police B (Thailand), TEK Hungary (Hungary)

:-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.