Spesiale taakspan om kwessies by Diepsloot te takel

Bheki Cele. (Foto: @GovernmentZA/Twitter)

Bheki Cele, die polisieminister, het Vrydag ʼn spesiale taakspan aangestel om polisiëringskwessies deur inwoners van Diepsloot, ʼn informele nedersetting noord van Johannesburg, te takel.

Cele het Vrydag met leiers vergader wat die Diepsloot-gemeenskap verteenwoordig ná gewelddadige betogings in die gebied plaasgevind het ná die afsterwe van ʼn polisiekaptein in die gebied.

Kapt. Oupa Matjie is op 17 Januarie doodgeskiet terwyl hy verdagtes agternagesit het. Die gemeenskap het die strate ingevaar en aangevoer dat uitlanders die mees gewelddadige misdade pleeg in die digbevolkte nedersetting. Hulle het aan Cele gesê meeste van die persone is onwettig in die land.

“Dit is inderdaad bevestig dat die vier verdagtes, wat in verband met dié misdaad in hegtenis geneem is, ongedokumenteerde uitlanders van Zimbabwe is. Dit is deur die departement van binnelandse sake bevestig,” het Cele gesê.

“Ons onderneem ook dat die immigrasiebeamptes van die departement van binnelandse sake met die polisie se spanne sal saamwerk sodat ons ʼn duideliker prentjie kan kry van die status van persone in die nedersetting. Maar dit beteken nie dat die fokus slegs op uitlanders sal wees nie. Ons sal streng optree teen misdadigers, ongeag hul nasionaliteit.”

Cele het inwoners gerus gestel dat hul besware dadelik aangespreek sal word en hy het ʼn spesiale taakspan aangestel om misdaad te takel. “Lede van die taktiesereaksie-eenheid (TRT) sal binne 24 uur in Diepsloot ontplooi om polisiesigbaarheid te verhoog. Die beamptes sal gereeld patrollies doen, soektogte uitvoer en padblokkades hou,” het Lirandzu Themba, Cele se woordvoerder, gesê.

“Ander lede van die SAPD sal teen Maandag by die spesiale taakspan aansluit. Dit sluit beamptes van misdaadintelligensie, openbare orde en forensiese dienste in.”

Themba het gesê speurders sal ook na ou sake kyk en bewerings dat sommige ondersoeke, waar onwettige immigrante betrek word, nie opgelos word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andre Coetzee ·

Ja ou Cele daar is miljoene onwettige Zim mense in SA.Misdaad sal volg.Wat het jy verwag ?Wens ou Cele was so gretig om na die boere te luister en taakspan op te stel vir plaasmoord ondersoeke.

Pieter ·

Die ANCircus kaders kan baie mooi broodjies bak, maar kry dit bitter min reg om dit in praktyk te laat slaag.

johan ·

Die amerikaanse President het die regte verwysing ,hulle praat baie nonsens maar doen min ,die land was eers n eerste wêreld land het onder hulle sogenaamde bewind geval tot n vierde wêreld misdaads nes.

Johan Venter ·

Nou wanneer kry die hele land ‘n spasiale taakspan om al die kwessies aan te pak? Vergelyk nou hoe China ‘n krises hanteer teenoor wat in Suid -Afrika gebeur waar die ANC regering die hele land in ‘n krises gedompel het met sy bestuur!

JohanR ·

Kry nog ‘n taakspan groot geld? Hoe kan ek ‘n arme soos ekke, myself op ‘n taakspan kry?

Hb ·

Almal is mos net ingenooi van die buurlande af, en toe backfire Zuma se modus operandi……..xenofobie, moorde, werkloosheid onder burgers………en die belasting betaler moet maar Pa staan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.