‘Spesiale verlof’ vir Mkhize

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, tydens Dinsdag se besoek aan ‘n inentingsentrum in Kimberley. (Skermgreep: Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het sy minister van gesondheid op “spesiale verlof” geplaas te midde van ʼn herrie wat woed oor dr. Zweli Mkhize en die toekenning van ʼn tender aan die maatskappy Digital Vibes.

“Die tydperk van spesiale verlof gaan die minister toelaat om aandag te gee aan bewerings en die ondersoek na kontrakte tussen die departement van gesondheid en die diensverskaffer Digital Vibes,” lui ʼn verklaring van die presidensie.

“Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek die kwessie en die president wag op ʼn verslag oor die uitkoms van die ondersoek.”

Die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayii-Ngubane, sal intussen as minister van gesondheid waarneem.

Daar was die afgelope ruk toenemend oproepe dat Ramaphosa die beleërde minister in die pad steek weens sy beweerde betrokkenheid by die toekenning van die tender.

Siviwe Gwarube, die DA se woordvoerder oor gesondheid, het verlede week ʼn strafregtelike aanklag teen Mkhize, asook die direkteur-generaal van gesondheid, dr. Sandile Buthelezi, oor die toekenning van die tender aanhangig gemaak.

Dinsdag het sy gesê die DA gaan ook ʼn klag by die parlement se etiekkomitee teen Mkhize indien oor “sy rol in die toekenning van die multimiljoen rand tender” aan Digital Vibes.

“Berigte dui daarop dat min. Mkhize persoonlik die voorlegging wat die kontrak met die maatskappy, wat bedryf en besit word deur nabye vennote van hom, afgeteken het,” sê Gwarube.

Sy sê die portefeuljekomitee het verlede week boonop versuim om Mkhize aanspreeklik te hou, met die ANC wat sy meerderheid in die komitee gebruik het om laer te trek om die minister en hom te beskerm. Mkhize het nie voor die komitee verskyn om vrae oor die tender te beantwoord nie, ʼn stap wat deur verskeie politieke partye gekap is.

“Die DA doen ʼn beroep op die etiekkomitee om die kwessie te ondersoek.”

Mkhize was vroeër vandag in die Noord-Kaap waar hy inentingsentrums besoek het. Hy het daar aan verslaggewers gesê dat hy die president gevra het om met spesiale verlof te gaan.

Die presidensie het die verklaring ʼn ruk later uitgereik.

Digital Vibes – en Mkhize – is in die spervuur weens die departement se toekenning van ʼn kontrak van R150 miljoen aan die onderneming. Twee van die maatskappy se grootste rolspelers, Tahera Mather en Naadhira Mitha, het albei noue bande met Mkhize.

Die minister het vroeër ten sterkste ontken dat hy enigsins ʼn rol gespeel het in die toekenning van die tender, óf dat hy daarby gebaat het.

Die SOE het reeds bevind dat die kontrak onreëlmatig toegeken is, maar die verslag daarna is nog nie afgehandel nie.

Op ʼn vraag of hy gaan bedank, het Mkhize Dinsdag geantwoord dat die kwessie nie vooruit geloop moet word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pieter ·

Gaan sit lekker by die huis ons belasting betalers betaal mos julle niks werd menisters se selarisse.

Hendrik Marthinus ·

Ag nee man wat het Dan geword van not guilty until proven
Die man is n brilljante dokter, kyk net hoe goed vorder dIe inenting
Hoop hy kry darem volle salaris en byvoordele, hy verdien dit
Enjoy the rest my Comrade

Snowball ·

Hendrik lyk my nie die mense verstaan jou sarkasme nie. Jy moet eerder sê in SA gaan korruptes op spesiale verlof, word nie afgedank nie en kry vol salaris. En word vervang met een wat regtig NIKS weet nie, sodat die een wat gaan rus het weer met ope arms kan terugkom. Die núwe een gaan seker inentings net vir our people reserveer soos die toerismevonds.

Hennie ·

Die inentingsprogram is ‘n grap ou maat. Hierdie kader is net so useless soos die res

Persheks Adri ·

Ons betaal vir die kader om spesiale verlof te kry… Wat het ‘n minister van toerisme te doen met gesondheid?

JohanR ·

En hier begin dit! Nie afgedank en gese om te #Voertsak nie, maar op “spesiale verlof” nog met al die “perks.”

Johan ·

Die waarheid suifer maar altyd deur, te laat maar tog. Wees gewaarsku covideers wat so lekker vrees verkoop…
Daar gaan nog dokters hul dag kry, hou maar dop.

Hendrik ·

Met volle salaris natuurlik. Nou is daar 2 wat 1 pos se salaris kry. Wonder wat doen sy adjunk dan?

Jack ·

Hoop regtig nie hy gaan die tyd gebruik om dinge toe te smeer nie. Hy is n teleurstelling.

Anoniem ·

Sê asb. vir my…………………….wat beteken Spesiale Verlof?????? Moes hy nie GESKORS gewees het nie???? Ramaphosa jy FAAL in jou plig!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.