Spesialisspan moet bobbejane in Kaapstad help bestuur

(Foto: Baboon Matters/Facebook)

ʼn Nuwe diensverskaffer is aangestal om bobbejane in Kaapstad te bestuur.

Marian Nieuwoudt, burgemeesterkomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing, sê NCC Environmental Services is tot Junie 2023 in dié hoedanigheid aangestel. Die maatskappy het tussen Augustus 2009 en Junie 2012 ook hierdie rol vervul.

Die maatskappy was die afgelope paar jaar nou betrokke by die voorkoming van negatiewe interaksie tussen mense en bobbejane by verskeie geleenthede in die Tafelberg- nasionale park.

Daar sal van NCC verwag word om te verseker bobbejane word 90% van die tyd uit die stad gehou. Die maatskappy moet aan streng permitvoorwaardes en werkswyses voldoen, soos uitgestippel in tegniese bestuursriglyne en standaardbedryfsprosedures, het Nieuwoudt gesê.

Volgens haar het NCC het ʼn hoogs gekwalifiseerde span saamgestel wat deur NCC-direkteur Linden Rhoda gelei sal word. Die spesifieke program word bestuur deur Joselyn Mormile, ʼn bewaringsbioloog met jare lange ondervinding in die bestuur van bobbejane. Mormile het ook nou saamgewerk met gemeenskappe en is betrokke by opvoeding- en bewusmakingsprojekte oor hoe om verantwoordelik in gebiede waar bobbejane voorkom, te leef.

Alle personeel betrokke by die projek sal spesifieke opleiding oor bobbejane se gedrag, konflikoplossing en die riglyne oor hoe die diere bestuur moet word, ontvang.

Altesaam 70 werkers, onder wie 44 bewaarders, 22 toesighouers, vier veldbestuurders, vier gebiedsbestuurders en twee projekbestuurders, is betrokke.

Hulle sal daagliks in gebiede soos Kommetjie, Ocean View, Capri, Da Gama Park, Welcome Glen, Glencairn, Groot Olifantsbos, Simonstad, Smitswinkel Bay, Murdoch Valley, Tokai, Zwaanswyk, Plateau Road en Gordonsbaai werk.

Nieuwoudt het ʼn beroep op inwoners gedoen om saam met die span te werk en enige kommer of klagtes dadelik deur te gee.

Inwoners kan die 24 uur-noodlyn skakel by 071 588 6540 of ʼn e-pos stuur na [email protected] om kwessies aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Human

Aaptwak is die oorsaak van die bobbejaanstreke !

Politikus

Lyk my Adoons-hulle het moeilikheid….