Speurder sê Xander ‘was nie dronk’ tydens bekentenis

Xander Bylsma in die hof. Foto: Mariné Lourens

Die verhoor teen Xander Bylsma (19), die jong man wat van die moord op Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) op Stella in Noordwes beskuldig word, is Donderdag in die hooggeregshof in Mmabatho hervat.

Die kruisondervraging van Chris Saunders is vanoggend voortgesit. Saunders is ʼn private speurder wat op 26 Mei 2018, die dag wat die twee tienermeisies se liggame in hul koshuis by Hoërskool Stella aangetref is, vir Xander ondervra het.

Saunders is deur die destydse voorsitter van die Hoërskool Stella se beheerliggaam gevra om Sharnelle en Marna se dood te ondersoek. Daar is aanvanklik vermoed dat die meisies hul eie lewe geneem het, maar by nadere ondersoek het die skool en die polisie vuilspel vermoed.

Saunders het op die dag wat die liggame ontdek is eers die moordtoneel besoek voordat hy na die Bylsmas se plaas is om daar met Xander te praat. Hy het daar vir Xander opgelaai en met hom na Vryburg gery. Saunders beweer Xander het in die motor erken hy het vir Sharnelle en Marna vermoor. Hy het ʼn opname van die gesprek gemaak en dié opname, asook ʼn transkripsie daarvan, vorm deel van die bewyse voor die hof.

Chris Saunders is ʼn private speurder wat Xander ondervra het. Foto: Mariné Lourens

Xander se regspan beweer egter Saunders het Xander gedreig om die bekentenis af te lê en aan hom voorgeskryf wat om te sê. Saunders ontken dit en sê Xander het self skuld beken.

Die hof moet dus beslis of die opname wel as bewys toegelaat sal word.

Saunders het vandag weer tydens kruisondervraging bevestig dat hy vir Xander, sy pa, Monté, en Stefans Engelbrecht, Marna se pa, op 26 Mei op die plaas aangetref het toe hy daar aangekom het.

Hy het aan die hof gesê Xander het “koponderstebo” buite met sy rug teen die muur gesit en daar was braaksel langs hom. Hy het ook genoem Engelbrecht was woedend en het vir hom gesê hy is een van die meisies wat dood is se pa.

Saunders het in sy aanvullende verklaring aan die polisie meer as een keer genoem dat Xander nié dronk was toe hy hom op die plaas aangetref het nie. Adv. Niven Rai, Xander se regsverteenwoordiger, het Saunders gevra hoekom hy meen Xander was nie dronk nie. “Want ek het nie drank aan hom geruik nie,” het hy geantwoord.

Rai het hom gevra of hy nie opgemerk het dat Xander se spraak vreemd is nie. Hierop het Saunders gesê nee, hy het nie gedink daar is iets fout met Xander se spraak nie.

Op die bandopname kan egter gehoor word hoe Saunders verskeie kere vir Xander vra of hy oukei is. Rai wou by Saunders weet hoekom hy dit dan sou vra as hy nie gedink het Xander tree vreemd op nie.

“Ek het hom nog nooit voorheen ontmoet nie, so ek het nie geweet hoe hy gewoonlik optree nie. Dit het net vir my gelyk of hy onder erge spanning en stres is,” het Saunders geantwoord.

Monte Bylsma, Xander se pa, praat met ʼn lid van sy seun se regspan in die hof. Foto: Mariné Lourens

Die verdediging het daarna voorgelees uit ʼn transkripsie van die bandopname waarin Saunders sê: “Ek sit met Xander hier langs my. Hy lyk nie goed nie. Lyk of hy onder verdowing is of iets.”

Die verdediging voer aan Xander het tien keer sy normale dosis Serdep gedrink. Serdep is medikasie wat gewoonlik vir depressie en angs voorgeskryf word. Volgens die verdediging het Xander tien van dié tablette gesluk, waar hy gewoonlik net een tablet neem. Die verdediging het ook in die hof genoem dat een van die newewerkings van die oordosering van Serdep braking is en dat dit verduidelik hoekom Xander gebraak het.

ʼn Kwessie wat weereens onder die loep gekom het, is hoe lank Saunders se bandopnemer afgeskakel was tydens die rit na Vryburg. Saunders voer aan hy het die bandopnemer afgeskakel toe hy gedink het sy gesprek met Xander is verby, maar toe Xander weer begin praat, het hy dit weer aangeskakel. Hy sê die bandopnemer was nie langer as ʼn minuut af nie.

Die verdediging betwis egter die stelling en beweer die bandopnemer was tussen 30 en 40 minute afgeskakel en dit was in dié tyd dat Saunders vir Xander voorgeskryf het wat om te sê. Saunders ontken dit.

Saunders en Rai het tydens die kruisondervraging geredekawel oor die tyd wat Saunders op die plaas aangekom het en die tyd wat Saunders en Xander in Vryburg aangekom het. Rai het dit aan Saunders gestel dat die bandopname 82 minute lank is en dat dit onmoontlik sou wees om dié afstand in so ʼn kort tyd af te lê. Saunders het aan die hof gesê hy weet nie presies hoe laat hy by die plaas aangekom en presies hoe laat hy in Vryburg aangekom het nie.

Rai het dit aan Saunders gestel dat hy vir Xander gesê het indien hy nie erken hy het die moorde gepleeg nie, sal hy nie borgtog kry nie. Saunders ontken dat hy dit gesê het.

Saunders is daarna verskoon en die volgende getuie is na die getuiebank opgeroep.

Xander en Sharnelle was voorheen in ʼn verhouding, maar het uitgemaak. Die staat voer aan dat Xander die twee meisies vermoor het nadat Sharnelle nie versoen wou raak nie, deels omdat Marna teen die verhouding gekant was.

Die verhoor duur voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

SjN ·

Tragiese gebeurtenis, wonder nog steeds of hy man alleen daartoe in staat was?

J ·

Ja hy was daartoe in staat. Nou is hy nie meer so braaf nie, en nou soek hy al wat verskoning is. Klink na Griekwastad en byl knaap.

Petro ·

Ek vra al lankal ook daardie vraag was daar iemand anders ook by wat hom gehelp het ek wonder maar net

Abe ·

SjN + Petro,
Ja, hy was in staat daartoe en hy vertel self hoe hy dit gedoen het.

madels ·

Hy kon maklik gewag het tot Marna badkamer toe gegaan het en toe vir Sharnelle vermoor het en daarna vir Marna in die badkamer gaan vermoor het want dis mos waar Marna vermoor was is dit nie? Ek glo dit was n beplande moord.

jakes ·

De hele saak is n klug soos meeste van hierdie moordsake maar is. Advokate sal ten hemele probeer om die skuldige los te kry om hul kamtige reputasie te beskerm en hul aansien te verhoog. As Bylsma nie die moorde gepleeg het nie, was dit dan feetjies wat dit gedoen het? Die ou gesegde dat wanneer weet jy dat prokureurs of advokate lieg? Dis wanneer hul monde oopgaan.

Abe ·

Jakes,
Wat maak n klug van die saak? Advokate vir die verdediging se werk is om hul kliente los te kry. Nie een van die advokate en prokureurs in die saak het nog gelieg nie. Jy praat mos twak.

Nettie ·

@jakes – as gereelde kyker van misdaad-programme op Crime & Investigation, ID en Fox Crime, kan ek jou ook vertel dat die polisie alte dikwels “hul man/vrou” baie vroeg in die misdaad-ondersoek vind en dan nét in-zoem op daardie persoon. Ek kan jou ook vertel dat baie “bekentenisse” gemaak word nadat boelie-tegniek gebruik is, hetsy dit deur ‘n PI of polisie-ondersoekbeamptes is.

Cherokee ·

Jakes praat nie noodwendig twak nie. Dink aan ‘n besigheidsman wat verlede jaar gevonnis is vir moord op sy (pragtige) vrou. Hy het in ‘n kar gesit en in ‘n gesprek met een van sy trawante, is sy aandeel dmv ‘n versteekte klankopnemer opgevang. Dit was deurslaggewend tydens die verhoor maar sy verdediging wou om bloot tegniese redes, die klankopname onwettig verklaar. So, jakes is nie verkeerd nie.

George ·

Wat ek gladnie verstaan nie is dat een darem alarm kon gemaak het deur te skree of so iets. Was die matrone dan nie in die nabyheid nie?

Abe ·

George,
Die matrone het niks gedoen wat sy moes doen nie en sy was nerens waar sy moes wees nie.

Lana ·

Abe, wat jy vergeet, is dat wanneer die advokaat sy kliënt se liegstorie voor die hof hou, is dit so goed soos hyself lieg.

Karel ·

Ek wonder ook soos jy, George. Meisies sal mos gil en skree en roep vir hulp. Hy kon tog nie albei se monde gelyk toedruk nie. Was die matrone nie naby om te hoor nie? Kon een van die meisies nie na haar toe hardloop om hulp te ontbied nie? Of was haar kamer te ver?

Fj ·

So Jakes volgens jou is daar net twee moontlikhede…. of Bylsma of Feetjies? Hahaha

Cherokee ·

Jou hahaha beteken handdoek ingooi. Ek is net teleurgesteld dat Jakes die feetjies as verdag beskou. Sy ander alternatief is logies. Dit klink nie asof jy, benewens jou hahaha, enige alternatief voorstel nie.

Abe ·

Fj,
Ons weet ten minste dis nie feetjies nie. Ons het n goeie idee dat dit Bylsma was.

Urs ·

Dit wil vir my voorkom asof hul weer net n verskoning soek hoekom die beskuldigde nie gevonnis moet word nie. Kringe en draaitjies so onnodig, dink net aan die ouers en familie van die twee dogters wat vermoor is. Jy moes darem geweet het wat jy doen om seker te maak hulle is dood of hoe? Hoe dit ookal sy, in vandag se lewe word als geblameer op depressie en pille. Dit is nooit jou skuld nie jy was onder die invloed van iets. Dit is belaglik.

Sê maar net ·

Kan myself gladnie indink,in die betrokkenes se hartseer, weerskante toe nie! Mens vries eintlik,as jy besef, jyself sit met jeugdige groen koring op die land….
Baie sterkte aan almal,dis tragies ?

Neewat ·

Hierdie sg bekentenis teenoor Saunders sal nooit staan in die hof nie. As hy self op band sê dit lyk of die verdagte onder verdowing is, beteken dat dit uitgegooi gaan word. Die priv speurder was op die moordtoneel en dan gaan ry hy met die hoof verdagte rond en mors alles op. Waar was die polisie toe hy so lekker rondrits en die bandopnemer aan en afskakel die heeltyd? Het hy die verdagte behoorlik gewaarsku en ingelig oor sy regte? Hy het geen wetlike bevoegdheid gehad om n moord verdagte te ondervra nie, wat nog te se op ‘n misdaadtoneel gaan rondkrap. En voor almal weer skree hoe pateties die polisie is, dit gaan nie daaroor nie, dit gaan oor n privaat speurder wat die reg belemmer en geen wetlike mandaat het om die polisie se werk te doen nie

Sonneblom ·

@Urs, mag die Goeie Vader gee dat daar eendag kringe en draaitjies is wanneer jy of een van jou geliefdes in ‘n takbos vassit….dink aan alle partye in hierdie saak – daar is altyd twee kante. Wie maak jou die Regter?

Kom ons hoop hulle het die regte verdagte vasgekeer en dat daar nie ‘n moordenaar buite rondloop nie. Mense maak foute, speurders ook. Kom ons wag en sien wat gebeur. Moenie oordeel vel oor ander mense nie – wees liewer opbouend, hier is mens wat deur geweldige pyn en seer gaan. Gee hulle die ruimte om sin te maak uit die tragedie.

Sterkte aan al hierdie families!!!

Lana ·

Stem saam dat daar nou geweldige pyn en seer na albei kante toe is. Dit alles word voor die deur van een testosteroon gedrewe mannetjie gelê.

Hannah ·

Gaan die hofsaak om te bewys die opname is ” genuine” of gaan dit oor n egosentriese bedorwe brokkie…wat nie sy sin kon kry ni…en 2 jong meisies vermoor het.???
Vra maar net??

WieWeet ·

Okay ek volg die hele besigheid van dag eenaf… En ja daars n paar goed wat nie vir my sin maak nie. So ruk terug was daar n berug dat Xander sy ma of pa gevra het vir hulp om die staatsaanklaer om te koop om hom te laat gan maar voor dit alles het hy borg geweier omdat hy vir sy lewe vrees? Nou my vraag is as hy nie die meisies vermoor het nie hkm dan vra oom eerder in aanhouding te wil bly en dan vra hy vir hulp sodat hy kan landuit vlug. Niks van sy goed maak vir my sin nie. En sy ma was die een wat bewyse gegee het waarin hy vra vir hulp. Ek hoop net dat hy die straf sal kry wat hy verdien. Eintlik sou die doodstraf 100% gepas gewees het. Ek dink die doodstraf moet terug kom. As jy mans genoeg is om te moor wees mans genoeg om pa te staan vir jou dade.

Lana ·

Stem saam dat daar nou geweldige pyn en seer na albei kante toe is. Dit alles word voor die deur van een testosteroon gedrewe mannetjie gelê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.