Speurhonde laat rower les opsê

Konst. Ashley Kock en sy speurhond, Sem (Foto: Verskaf)

Twee speurhonde van die Hartswater-polisie in die Noord-Kaap se K9-eenheid het vandeesweek daarin geslaag om ʼn rower vas te trek nadat die polisie op ʼn wenk van die gemeenskap gereageer het.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, sê die polisie se speureenheid is Vrydag in kennis gestel van sakeroof wat toe aan die gang was.

Konst. Ashley Kock en sy speurhond, Sem, en sers. Altus Coetser en sý speurhond, Tiger, is na die toneel ontbied waar die roof plaasgevind het.

“By hul aankoms by die pakhuis was twee mans op die dak besig om gedwonge toegang tot die gebou te verkry,” sê Kock. “Dít ten spyte van die feit dat dit 10:00 helderoordag was.”

Een van die verdagtes het op die vlug geslaan terwyl die tweede man in die gebou weggekruip het. Kock sê die man het die polisie met blikkieskos gegooi. Hy was klaarblyklik nie swaar gewapen nie.

“Konst. Kock het toe drie waarskuwings aangekondig en toe vir Sem [en Tiger] ingestuur. Hy het hom gehelp om die 23-jarige man in hegtenis te neem,” sê hy. Die tweede verdagte is steeds op vrye voet.

Die 23-jarige man sal vandeesweek in die landdroshof in Hartswater verskyn.

Sers. Altus Coetser en sý speurhond, Tiger (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cherokee ·

Hy’t hulle met blikkieskos gegooi – nie swaar gewapend nie. Gelukkig was dit nie Dogmor nie.

Bossie ·

Konstabel Ashley en Sersant Altus, baie dankie, jul word werklik waardeer. Sonder julle sou Sem en Tiger dit nie kon doen nie. Ons is trots op julle en die pragtige en getroue diere.

Leahim ·

Dit is nou goeie nuus ten minste doen die polisie honde wat van hulle verwag word ek hoop hulle is net so goed met ondersoeke ook want hulle twee been kollegas het oorgegee baie geluk sem en tiger julle kook.

honourable member ·

Pragtige hond. Gee vir hom n lekker groot been vir sy goeie werk

Wappie ·

Die hondemanne het nog nooit gaan lê nie. Hulle opleiding maak voorsiening om hulle daardie ekstra myl te laat loop.

Zanmar ·

Dis Hartswater se trots. Hierdie manne moes al Brigadier gewees het. Hulle lewer altyd sulke werk

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.