Speurhoof lei Nkandla-ondersoek

Lt.genl. Vinesh Moonoo. Foto: Werner Beukes / SAPA

Lt.genl. Vinesh Moonoo. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die hoofondersoekbeampte in die moordsaak teen Oscar Pistorius gaan aanklagte van korrupsie teen president Jacob Zuma ondersoek oor veiligheidsopgraderings by sy Nkandla-woning in KwaZulu-Natal.

“Lt.genl. Vinesh Moonoo is die polisie se nasionale speurhoof en hy sal die ondersoek lei,” het lt.genl. Solomon Makgale, nasionale polisiewoordvoerder, Dinsdag gesê. “Al die verskeie sake wat oor Nkandla aanhangig gemaak is gaan saamgevoeg word en by die hoofkantoor ondersoek word. Lt.genl. Moonoo sal deur spanne by die hoofkantoor bygestaan word.”

Die polisie het Maandag bevestig dat aanklagte van korrupsie wat by verskeie polisiestasies teen president Jacob Zuma ingedien is, gesentraliseer is en nasionaal ondersoek word.

“Die aanklagte is by verskeie polisiekantore deur lede van opposisiepartye aanhangig gemaak. Dit is by die nasionale kantoor gesentraliseer,” het Makgale toe gesê. Hy wou nie uitwei oor die besonderhede rakende die ondersoek nie, maar het gesuggereer dat Zuma nog nie formeel aangekla is nie. “Die politieke partye is na die aanklagkantoor en het ons versoek om korrupsie te ondersoek. Hulle het die Openbare Beskermer se verslag ingedien.”

Mmusi Maimane, parlementêre leier van die DA, het in Maart vanjaar verskeie aanklagte teen Zuma aanhangig gemaak in verband met die opgraderings aan sy private woning in Nkandla, KwaZulu-Natal.

Nathi Nhleko, minister van polisie, het Vrydag in antwoord op ʼn parlementêre vraag deur Maimane, bevestig dat ʼn ondersoek van stapel gestuur is. “Die ondersoek in hierdie verband is begin en geen verdere inligting kan in hierdie stadium bekend gemaak word nie, aangesien die saak nog sub judice is,” het Nhleko gesê.

Maimane het gevra of die saak ondersoek word, wie die ondersoekbeamptes is en of daar ʼn tydlyn aan die ondersoek gekoppel is. Nhleko wou geen verdere besonderhede bekend maak nie.

Maimane het die aanklagte teen Zuma ingedien kort nadat Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, haar verslag oor die opgraderings aan Zuma se Nkandla-woning bekend gestel het. Sy het in haar verslag bevind dat Zuma “onbehoorlik gebaat” het by die R246 miljoen se opgraderings.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ghost ·

Wat is die kanse dat hier iets van gaan kom. Nog n tydperk wat verby gaan gaan, n verslag wat gekry word en dan word daar gese die ondersoek komitee was nie bevoeg nie en ken nie al die aspekte nie, dan word iemand nuut aan gestel. en als begin van vooe af.

Linnie ·

Ag tog wie op aarde gaan glo dat ‘n puppet nou regtig ‘n ordentlike geloofwaardige ondersoek gaan doen.? Die verslag van die openbare beskermer is nie deur haar persoonlik alleen gedoen nie. Dit is gedoen met opgeleide personeel wat ongelooflik baie dokumentasie moes deurwerk en ondersoek. Dit is mense wat die kennis het om dit te doen? Nou wie gaan die puppet ondersoek beampte bystaan.? En gaan hy sowaar bevind dat daar miljoene se ongerymphede was? Wil hy sowaar nou sy pos en inkomste gaan staan en verloor.? Net nog geld in die water gooi!! Nie in hierdie tydperk sal ooit ‘n vinger na die gryper gewys word nie. Ek lees nou die dag dat Kalibusa Zuma sê daar gaan nog gebou word op Nkandla en die openbare beskermer kan gaan doppies blaas. Nou met wie se geld gaan die bouwerk gedoen word. Al is dit Zuma geld????? hoe word dit verdien? Met staatskontrakte en DRK myne met RSA soldate wat daar oppas??

Drieks ·

Nr 1 wen in R.S.A.
In die res van die wéreld is zuma nr 0 (zero)

jakoos ·

In die res van die wereld? Maar hy is hoog aangeskrewe by die Russe en China en Afrika hou van hom en sy ANC-regering. Hoe nou?

jakoos ·

Dis dieselfde ou wat aan die hoof was van die ondersoek teen Oscar P – wat daartoe gelei het dat OP uit die staanspoor van voorbedagte moord aangekla is, wat toe uiteindelik misluk het omdat hy duidelik net aan Strafbare Mansslag skuldig bevind kon word – en is.

En dis dieselfde ou wat aan die hoof was van die ondersoek na die moord op daai sokkerkaptein – en waarvan die hoofverdagte (wat glo op ‘n uitkenningsparade uitgewys is) nou vrygelaat is weens gebrek aan getuienis!

Afleiding: Zuma gaan heeltemal los kom. Nie ‘n enkele aanklag in ‘n hof nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.