Spies tref skoolseun by atletiekbyeenkoms

Argieffoto: Pixabay

Argieffoto: Pixabay

ʼn Leerder van ʼn Bloemfonteinse hoërskool sterk tans in ʼn hospitaal aan nadat hy Vrydag deur ʼn spies by die skool se atletiekbyeenkoms getref is.

Johan Vorster, skoolhoof van Hoërskool Sentraal, het gesê Christiaan Snyman het by die spiesgooipunt van die Top-20-atletiekbyeenkoms by die Vrystaatstadion gehelp toe die voorval gebeur het.

“ʼn Leerder van ʼn ander skool het die spies buite die toegelate radius gegooi en dit het Christiaan in sy regterheup getref. Paramedici wat op die terrein was, het hom onmiddellik behandel en hy is na die Rosepark-hospitaal se ongevalle-afdeling geneem,” het Vorster gesê.

Christiaan is later die dag na die Pelonomi-hospitaal oorgeplaas waar hy geopereer is om seker te maak dat daar geen inwendige skade aangerig is nie. “Soos ek verstaan, was daar ʼn klein perforasie aan een van sy derms, wat geheg is. Ek was Saterdagoggend by hom in die hospitaal en hy het goed gelyk en kon reeds op sy eie stap,” het Vorster gesê.

“Gelukkig het die spies nie baie skade aangerig nie. Ons weet dit kon baie erger gewees het en ons is dankbaar dat hy nie ernstig beseer is nie. Ek het vandeesweek weer met sy ouers gesels en dit gaan baie goed met hom. Hy word waarskynlik vandag ontslaan,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

reynette ·

Daar is altyd soveel toeskouers, beamptes en atlete wat rondstaan by byeenkomste en nie oplet wat om hulle aangaan nie. Ek kry die seun jammer, maar die atleet wat die spies gegooi het, nog meer! Dis n groot letsel as jy iemand raakgooi!

OtterBotter ·

Dit is ‘n hartseer insident en alle sterkte aan beide leerders wat direk geraak word hierdeur.
Ongelukkig is die berig nie feitlik korrek nie, aangesien die atleet die spies tydens deelname in die afgebakende gebied gegooi het, maar ongelukkig het Christiaan nie die spies gesien nie en kon nie betyds uit die pad kom nie. My bede is dat Christiaan ten volle sal herstel en die atleet wat die spies gegooi het ook sal voortgaan om aan atletiek deel te neem.

Sune van Heerden ·

Dagsê OtterBotter

Die berig is opgestel uit die inligting wat ons direk van die skool se bemarker (wat tydens die voorval teenwoordig was) en die skoolhoof ontvang het.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Rudi ·

Met die chaos wat skole atletiekbyeenkomste deesdae is, is dit n wonder dat erger ongelukke nog nie voorgestel het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.