‘Spinnekoppe’ pla glo moord-verdagte  

Paul Prinsloo, Kosmos, moord

Paul Prinsloo (62). (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Spinnekoppe byt hom en die omstandighede in die tronk is glo so haglik dat ʼn moordbeskuldigde glo dit is rede om hom op borgtog vry te laat.

Paul Prinsloo, die 62-jarige man wat van die dubbelmoord op sy vrou, Catherina Magdalena Prinsloo (58), en stiefdogter, die 31-jarige Ruzanne Weideman, beskuldig word, het Woensdag in die Brits-landdroshof verskyn.

Hy het in sy eedsverklaring aangevoer dat hy drie keer – op die linkervoorarm, sy enkel en nek – deur ʼn sakspinnekop gebyt is.

Die mediese personeel in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria steur hulle glo ook nie aan sy hulpkrete nie en hy moes meestal self sien kom klaar om die wonde te behandel.

“Daar was skade aan die vlees en sy medegevangenes moes hom help om die spinnekopnes op te spoor en uit te roei,” het adv. Zirk Pansegrouw die hof meegedeel.

Hy het Prinsloo se eedsverklaring, asook ʼn bykomende eedsverklaring in die hofrekord ingelees as deel van die borgtogaansoek.

Prinsloo, onder meer ʼn professionele jagter van beroep, staan tereg op twee aanklagte van moord met voorbedagte rade.

Luidens die klagstaat sou Prinsloo vir Magdalena en Ruzanne na bewering op 27 November verlede jaar met sy eie jaggeweer in hul huis in Kosmos, Hartbeespoort, doodgeskiet het.

Die skietery is glo voorafgegaan deur ʼn rusie tussen Prinsloo en die twee vroue.

Prinsloo is kort hierna in hegtenis geneem en het sedertdien al ʼn paar keer in die hof verskyn. Hy het aanvanklik aangedui dat hy sy borgtogaansoek laat vaar, maar ná hy ʼn nuwe regspan aangestel het, besluit om wel daarmee voort te gaan.

In sy eedsverklaring het hy nie uitgewei oor die dag van die skietery nie, buiten om vlugtig te noem dat hy daardie dag “baie bier gedrink het”. Hy neem ook glo psigiatriese medikasie wat ʼn “moontlike botsing” met die alkohol kon veroorsaak het. Prinsloo neem die medikasie ná hy in 2007 met kolonkanker gediagnoseer is.

Paul Prinsloo

Paul Prinsloo word Woensdag terug na die Brits-landdroshof se aanhoudingselle gelei. (Foito: Isabel Venter/Maroela Media)

Volgens Prinsloo onthou hy ook nie veel van daardie noodlottige dag nie.

Magdalena was sy tweede vrou en volgens Prinsloo was daar soms onmin tussen hulle oor haar kinders. Hy het aangevoer hulle sou onder meer ʼn motorfiets as gesteel aanmeld om die feit te verbloem dat hulle dit verkoop het vir “dwelmgeld”.

Hy het verder uitgewei oor sy jare lange kankerstryd. Ná verskeie operasies en strawwe behandeling is sy kanker langer as tien jaar in remissie.

Ruzanne Weideman en haar ma, Magdalena Prinsloo (Foto: Facebook/Ruzanne Weideman)

Die behandeling het hom egter verswak en hy sukkel sedertdien pal met sy gesondheid. Volgens Prinsloo kan sy spysverteringstelsel geen vaste kos hanteer nie en het hy gevolglik oor die jare baie gewig verloor.

Hy volg sedertdien ʼn spesiale dieet wat hy nie in die tronk kan volhou nie. Daarbenewens word sy kos en medisyne, wat sy familie van tyd tot tyd vir hom bring, by hom afgeneem, beweer Prinsloo. Hulle het tot onlangs toe vir hom vitamienaanvullings, toiletware en eetgoed soos kondensmelk, melkpoeier en Bovril gebring.

Die besoeke het opgedroog omdat dit te ver en duur geword het vir sy familie om hom te besoek.

En toe word hy boonop deur spinnekoppe gebyt in sy “reeds brose toestand” en “behoorlike mediese bystand geweier”. Dit was volgens Prinsloo se verklaring sy medegevangenes wat hom bygestaan het om sy wonde te dokter.

Hy ontvang ook nie sy psigiatriese medikasie volgens skedule nie. Volgens Prinsloo is dit wesenlike redes wat sy vrylating op borgtog regverdig.

Sou hy vrygelaat word, het Prinsloo aangedui dat hy R10 000 vir sy borgtog beskikbaar het. “My vrylating sal in die belang van geregtigheid wees, want ek sal nie met die staat se saak of getuies inmeng nie en hou ook geen gevaar vir lede van die publiek in nie.”

Prinsloo se saak is uitgestel tot Donderdag vir die voortsetting van die borgtogverrigtinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Casper ·

Hy is nou al 10 jaar in remission wat beteken die kanker is onder beheer.Hou sou sy mede gevangenis die spinnekopbyte behandel het.Snaaks hulle is nie gebyt nie,maar die spinnekoppe teiken hom.Ek dink hy vat ‘n kans.

Cherokee ·

Hy het geen simpatie gehad vir die vrou met wie hy getroud was, en haar dogter. Nou soek hy simpatie vir homself. Die Tswana vrou wat ‘n kantoor gehad het aan die onderkant van die gang waar my kantoor was, het graag met klem gesê “Det lat mens denk, nè!’

Johan ·

@Thys
‘Sonde’ het niks te doen met die persoon en wat hy gedoen het nie. Hou op agter die Bybel wegkruip as mense iets verkeerd gedoen het. Moord is nie in vergelyking met n sweetie wat ek ge vat het toe ek 10 jaar oud was, wat nie aan my behoort het nie.
Doodstraf moet terug gebring word vir hierdie tiepe mense.

schalk ·

geen simpatie nie . as hy nie moord gepleeg het nie was hy nou nie in die situasie nie

Republikein in die Wes Kaap ·

schalk, dwelmgebruik deur familielede dryf mense oor die afgrond.

Debbie ·

Wees bly jy leef vir spinnekoppe om jou te pla, jou vrou en haar dogter sou eerder gekies het om gepla te word net om te leef maar jy het daai keuse by hulle weg gevat. Betaal vir wat jy gedoen het gaan jy en mag daai spinnekoppe die res van jou lewe jou pla in jou sel.

George ·

@Rep, maak nie saak nie, hy is skuldig aan dubbele moord, hy moet sit tot hy opkap

Renier ·

As dit waar is van die motorfiets,kan ek insien hoe iemand tydelike waansinnigheid kon ervaar.

AH ·

Niks wat hy gebruik as verweer is rede vir die pleeg van ‘n dubbele moord nie. Nou kan hy kamtig nie onthou nie, soos alle moordenaars ly hy skielik aan amnesia. Geen simpatie van my kant af nie. Die spinnekoppe moet maar lekker byt!

Danie ·

Moord op twee vrouens gewetenlose krimineel hy moet nie weer die buitekant van n tronk sien nie.Erger as die kan jy nie kry nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Danie, wag vir die hofsaak. Die aanloop tot die noodlottige dag gaan jou dalk skok.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.