Die opnames (of spioenasiebande, soos dit bekend staan) en tersaaklike dokumente sal by die hooggeregshof in Pretoria en in die teenwoordigheid van ‘n forensiese kenner aan Zille oorhandig word.
“Dit is al vyf jaar en ses hofsake later, en dit is meer as 700 aanklagte van korrupsie,” het Zille aan ‘n groep ondersteuners buite die hof gesê. “Ons sê almal is gelyk voor die reg.”
Daar was tot dusver geen wetlike bewyse oor hoekom die aanklagte van korrupsie teen president Jacob Zuma laat vaar is nie.
Zille het gesê sy glo die aanklagte is om politieke redes laat vaar. “As dit in ‘n demokratiese land gebeur, kan mens dit nie meer demokrasie noem nie. Vandag sê ons, gee vir ons die opnames, ons wil weet hoekom.”
Die appèlhof in Bloemfontein het verlede week beslis dat die Nasionale Vervolgingsgesag moet voldoen aan ‘n vorige bevel en binne vyf dae die spioenasiebande aan die DA moet oorhandig.
Die opnames, interne memorandums, verslae en die notules van vergaderings oor die inhoud van die opnames moet beskikbaar gemaak word.
Mokotedi Mpshe, wat destyds waargeneem het as NVG-hoof, het in 2009 die korrupsieaanklagte teen Zuma laat vaar. Zuma is kort hierna as president ingehuldig.
Daar is destyds aangevoer dat gesprekke op die opnames die rede was hoekom die aanklagte laat vaar is.
Die DA het aansoek gedoen om toegang tot die spioenasiebande te kry, maar ten spyte daarvan dat hulle vorige hofsake gewen het, is die opnames nooit aan hulle oorhandig nie.
Zuma se regspan het tydens die nuutste aansoek aangevoer dat die DA die opnames teen hom sal gebruik vir politieke gewin.
Dis reg DA kry die bande laat die korupte land kan weet wat steek hulle weg vir die land en sy mense wat nie aanhangers is van hulle nie
Goed en wel maar die vraag is nou: Hoeveel van daardie materiaal het intussen voete gekry?
Stem saam Nic…Daar was 5 jaar gewees waarin dokumente of kon wegraak, of mee gepeuter word. 5 jaar is ‘n laaaaaang tyd.