‘Spioenasiebande’-saak in appèlhof aangehoor

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die sogenaamde spioenasiebande-saak tussen pres. Jacob Zuma en die DA word Donderdag in die appèlhof in Bloemfontein voortgesit.

Zuma het die appèlhof genader met ʼn aansoek om verlof tot appèl na aanleiding van ʼn hooggeregshofbevinding in April 2016 dat 783 strafregtelike aanklagte weer teen die president ingestel moet word. Die aanklagte teen sluit korrupsie, rampokkery, geldwassery en bedrog in.

Die DA voer al ʼn byna agt jaar lange stryd om weer die 783 aanklagte oor die sogenaamde spioenasiebande teen Zuma in te stel.

Die kern van die dispuut is die presiese tyd van Mokotedi Mpshe, destydse hoof van die NVG, se besluit in 2009 om Zuma, toe net ANC-president, nie te vervolg nie.  Zuma was ten tyde hiervan in ʼn magstryd met voormalige president, Thabo Mbeki, gewikkel.

Mpshe het die saak laat vaar nadat hy na die bandopnames, gesprekke tussen Bulelani Ngcuka, Mpshe se voorganger, en Leonard McCarthy, hoof van die Skerpioene, geluister het. Mpshe was glo van mening dat McCarthy die proses vir versteekte doeleindes gebruik het, naamlik ʼn politieke komplot om glo te verhoed dat Zuma president word.

Volgens die DA was Mpshe se besluit irrasioneel, onredelik en geneem met ʼn versteekte politieke agenda.

Zuma se regspan voer aan sy aansoek om verlof tot appèl moet toegestaan word omdat hulle ʼn redelike vooruitsig van sukses het en dit onder meer in openbare belang is en toekomstige kwessies kan beïnvloed.

Hulle verdedig verder Mpshe se besluit om die vervolging te staak en voer aan McCarthy was eintlik heeltyd die dryfveer agter Zuma se vervolging. “Dit is ontwerp om Zuma as presidensiële kandidaat te elimineer,” het hulle aangevoer.

Hulle gaan ook verder en verwerp die hooggeregshof se bevinding dat daar geen sinvolle rede vasgestel is waarom McCarthy sou wag voordat hy die aankondiging dat Zuma vervolg sou word gedoen het nie. “Dit is redelik voor die hand liggend waarom hulle so besluit het, dit het vir ʼn rede gebeur.”

Zuma se regspan voer aan Mpshe het sy besluit gemaak nadat hy die bewyse aan hom voorgehou bestudeer het en besef het die openbare belang weeg swaarder as die volgehoue vervolging van Zuma.

Zuma se regspan haal verder regspraak aan dat die hof slegs in uitsonderlike gevalle die besluit van ʼn onafhanklike vervolger en ondersoeker sal ontwrig.

Die DA kritiseer op sy beurt in sy betooghoofde vir Mpshe omdat hy die besluit om die vervolging teen Zuma te onttrek amper alleenlik op die inhoud van die spioenasiebande gedoen het. Die DA dui ook aan dat Zuma nog nooit die herkoms van die opnames bekend gemaak het nie of hoe dié opnames in die hande van sy regspan beland het nie.

Die DA sluit af deur te sê Mpshe se besluit was beïnvloed deur emosie, ongegronde feite, ʼn onvolledige ondersoek, verwarring oor sy eie rol en verwarring oor die effek van McCarthy se aksies.

Die appèlhof het twee dae opsygesit om die aansoek van Zuma en die NVG se regsverteenwoordigers aan te hoor asook die reaksie van die DA se regsverteenwoordigers.

Uitspraak word binne ʼn paar weke ná die voorleggings aan die hof verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Soekie ·

Ag wat, hy gaan hiermee ook wegkom, soos altyd. Hy is mos onaantasbaar…niemand kan hom iets aandoen nie…maar hy kan miljoene mense se lewens hel maak!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.