Spioenasiebande-saak ‘nog geensins verby’

jacob-zuma-2

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die DA het Maandag gesê pres. Jacob Zuma sal waarskynlik nuwe vertoë aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) rig oor hoekom hy nie op 783 aanklagte van onder meer korrupsie verhoor moet word nie.

Dit kom nadat Zuma se regsverteenwoordiger verlede week in die appèlhof toegegee het dat die besluit om die aanklagte teen die president terug te trek irrasioneel was.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende komitee, het gesê die party verwag dat indien die appèlhof bevind dat Zuma wél op die aanklagte teen hom moet teregstaan, hy op Shaun Abrahams, die nasionale direkteur van openbare vervolging, sal staatmaak om die saak te laat sloer.

“Ons verwag spesifiek dat Zuma nuwe vertoë sal rig oor hoekom die aanklagte teen hom laat vaar moet word. Hy het in 2009 geskrewe en verbale vertoë gelewer oor hoekom die aanklagte laat vaar moet word en hierdie vertoë is verwerp,” het Selfe gesê.

“Maar nou gaan hy waarskynlik aanvoer [Mokotedi] Mpshe [voormalige hoof van die NVG] was hopeloos onbekwaam – soos verskeie howe al bevind het – en daarom is hy geregtig om weer vertoë op nuwe gronde te maak, insluitend die tyd wat verloop het sedert die aanklagte geformuleer is.”

Selfe het gesê indien Zuma se vertoë nie slaag nie, kan hy aansoek doen vir ʼn permanente vrywaring van vervolging op die aanklagte van korrupsie, bedrog en rampokkery wat spruit uit die land se 1999-wapentransaksie. “So hierdie sage is geensins verby nie, maar ons sal dit deursien tot die bitter einde.”

Prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder aan Unisa, het ook verlede jaar voorspel dat Zuma sal probeer om die saak vir so lank as moontlik te laat sloer. “Zuma is ná Desember 2017 nie meer president van die ANC nie en dan dalk ook nie meer van die land nie. Hulle sal dit waarskynlik minstens tot ná die verkiesing later vanjaar probeer uitstel,” het hy destyds gesê.

Adv. Shaun Abrahams, die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Foto: Flickr/GovernmentZA

Die appèlhof in Bloemfontein het verlede week uitspraak voorbehou nadat Zuma en die NVG se appèlaansoek aangehoor is teen ʼn hofuitspraak dat die besluit om die 783 strafregtelike aanklagte teen Zuma te laat vaar, irrasioneel was.

Zuma en die NVG se regsverteenwoordigers het in die hof toegegee dat Mpshe “die verkeerde mag” gebruik het om die aanklagte teen Zuma te laat vaar, maar gesê dit beteken nie hofverrigtinge teen Zuma kan sommer net weer hervat word waar dit voorheen geëindig het nie.

Die DA het oor die afgelope meer as agt jaar R10 miljoen aan die sogenaamde spioenasiebande-saak spandeer om te probeer verseker dat Zuma op die aanklagte teen hom vervolg word. Selfe het Maandag gesê Zuma moet beveel word om die hofkostes te betaal omdat hy belastingbetalers se geld gebruik om die gereg te ontduik.

“In die mees onlangse voorbeeld van onnodige regskostes was Zuma geneë daarmee dat groot regspanne na die appèlhof in Bloemfontein gestuur word terwyl hy goed weet dat die regspanne gaan toegee die oorspronklike besluit om die aanklagte te laat vaar was irrasioneel, en daarmee basies te waarborg dat die hof die besluit ter syde sal stel. Dit is ʼn absolute skande en daarom moet mnr. Zuma persoonlik aanspreeklik gehou word vir die mors van waardevolle finansiële hulpbronne.”

Dr. Llewelyn Curlewis, ʼn regskenner, het verlede jaar aan Maroela Media gesê indien die klagtes teen Zuma heringestel word, sal dit die eerste keer in die land se geskiedenis wees dat ʼn sittende president van korrupsie aangekla word. “Dit sal moontlik die eerste keer in die wêreld wees. Daar is geen riglyne uit die verlede om aan te dui wat nou sal gebeur nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eish ·

Die man moet eenvoudig sy dag in die hof kry en hoe gouer hoe beter. Die verwoesting wat hy aangerig het, is onverskoonbaar.

Ouma ·

Ooooo, die kat kom weer want hy wil nie langer wag♫ …Die kat kom weer nét die volgende dag♪…. Die kat kom wéér, glo vir my dis wáár, die ander dag môre was die kat wéér daar ♫♪♫♪

Swart Piet ·

Terwyl stortkop en die anc aan bewind is sal daar absoluut net mooi niks met hierdie sake gebeur nie. En as daar dalk daarna iets kan gebeur sal al die dokumente weg wees.

Peet J ·

Die DA moet in gedagte hou Zuma se regsverteenwoordiger is briljant.

John ·

Ja, en dit is toe wie die ANC werklik is. Onlangs het hulle die kans gehad om hierdie leier uit die stoel te lig en hulle wou nie. Hoekom? Omdat hulle van so ‘n leier hou. Inderwaarheid het hulle geweet wie hy was nog voordat hy verkies is. Die hele ANC, buiten vir die paar wat die moed van hul oortuiging gehad het om teen Zuma te stem, is dus soos hy. En die ergste is, die apartheidsregering het ook gedink die ANC is net te oulik vir woorde.

Swannie ·

Dieselfde Dr Llewelyn Curlewis het vanoggend op RSG gesê Zuma sal nooit vervolg word nie, aangesien weens vertragingstaktiek sal hy op die ou end te oud wees vir gevangenisstraf.

Anoniem ·

As hy so oud word soos Mugabe kan hy nog ‘n goeie paar jaar in die tronk gaan verwyl.

Piet Pille ·

Ja, dan te oud. Clive Derby-Lewis het ouderdom en selfs terminale siekte nie gehelp.

frenchpeteers ·

Net so terloops., Schabir Shaik was te jonk om in die tronk te sit, met die land se beleid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.