Spioenasiebande-saak: Wat beteken dit vir Zuma se toekoms?

jacob-zuma-2

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Terwyl die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nou onmiddellik weer die aanklagte van bedrog en korrupsie teen pres. Jacob Zuma sal moet instel, sal sy regspan sekerlik alles in hulle vermoë doen om tyd vir die president te probeer wen.

Dit is die mening van politieke ontleders met wie Maroela Media Vrydag met gesels het oor wat die toekoms nou vir Zuma inhou kort nadat regter Eric Leach die president en die NVG se verlof om appèl in die voortslepende spioenasiebande-saak met koste van die hand gewys het.

Leach het die uitspraak in die appèlhof in Bloemfontein gelewer nadat Zuma en die NVG die hof genader het nadat die hooggeregshof in Pretoria verlede jaar beslis het die besluit om Zuma nié te vervolg nie was irrasioneel. Die hof het ook bevind die 783 strafregtelike aanklagte teen die president moet weer ingestel word.

Die appèlhof se uitspraak kom nadat Zuma se regspan verlede maand in dié hof toegegee het dat die besluit om Zuma nie op aanklagte van onder meer korrupsie te vervolg nie was irrasioneel.

“Die president se regspan se erkenning hiervan is net nog ʼn tegniek om vir meer tyd in hierdie saak te speel. Dit is my oorhoofse siening van die hele saak,” het prof. André Duvenhage, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, gesê.

President Jacob Zuma aan die lag tydens ‘n vorige geleentheid in die Nasionale Vergadering. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Dr. Eugene Brink, ʼn politieke ontleder by die vakbond Solidariteit, meen egter die uitspraak is ongetwyfeld ʼn reuse-terugslag vir Zuma.

“Tog twyfel ek sterk of dit sy onmiddellike politieke einde sal beteken. Hy het al ander ongunstige uitsprake oor Nkandla en die skending van sy ampseed oorleef en daar kan nog lank met hierdie een gesloer word. Hy het wel nou al in twee hoër howe bloedneus hieroor gekry: Die hooggeregshof en die appèlhof. En dit is baie betekenisvol, maar hy het ander groot terugslae ook al oorleef. Die saak gaan waarskynlik nou vorder tot by die konstitusionele hof indien daar gronde is.”

Duvenhage meen egter die saak mag dalk ʼn groter toets vir adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging, wees. Die Suid-Afrikaanse publiek sit nou oorgehaal om te sien of sy span die saak teen die president verder met die nodige ywer sal opvolg.

Zuma kan nuwe voorleggings aan die NVG maak waarin hy moet verduidelik waarom die saak teen hom laat vaar moet word.

“Hierdie saak sloer reeds byna agt jaar lank, ek verwag nie dat dit nou sommer vinnig afgehandel sal word nie. Ek vermoed Abrahams en sy span gaan sloer en hulle voete met die saak sleep,” het Duvenhage gesê.

“Ek twyfel of enigiemand in die ANC wat die volgende president van die party en daarna regering na Desember sal wees – hetsy dr. Nkosazana Dlamini-Zuma of Cyril Ramaphosa of wie ook al – sal toesien dat Zuma weer aangekla word indien hy nie meer president is nie. Dit is net nie hoe dinge in die ANC gedoen word nie. Ek dink daar sal weer ʼn toenadering tussen die faksies wees ná die leierskonferensie vir die ontwil van eenheid in die party. Zuma het ook steeds baie steun in die party en land,” het Brink bygevoeg.

Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: Ntswe Mokoena, GCIS

Hy reken die hofsaak kan ook lank uitgerek word indien die konstitusionele hof met die twee ander howe saamstem en bepaal dat die klagtes heringestel word.

“Abrahams is ʼn Zuma-aanstelling en hy kan allerlei regstegniese punte opper om dit nie te doen nie en lank talm om enige aanklagte in te stel. Natuurlik kan die DA dit weer beveg, maar dit sal hierdie hele proses net weer herhaal en so kan die saak net bly sloer en in die howe uitgerek word.

“Die grondwethof sal nie sommer teen hierdie beslissing gaan nie. Sy kanse om vervolg te word raak wel al hoe groter. Dié hof werk met politieke aangeleenthede en Zuma is tans baie minder gewild as in 2009 toe die klagtes laat vaar is. So die grondwethof kan voel ʼn beslissing teen Zuma is nie noodwendig een teen die regering of die ANC nie. Hofprosesse beweeg egter stadig en dit sal nie gou politieke gevolge vir hom hê nie,” het Brink gesê

Luvuyo Mfaku, woordvoerder vir die NVG, het gesê hulle het die appèlhof se uitspraak verwag en sal dit nou verder bestudeer voordat die volgende stappe gedoen word.

Die ANC het gesê hulle neem kennis van die hof se beslissing. Die party het bygevoeg hulle het volle vertroue in die regbank en die opsies wat dit aan alle verontregte partye bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Justice ·

Sedert 2009 het daardie aanklagtes heel moontlik al verdubbel indien nie meer.

Alida ·

Goeie tyd om van hom ontslae te raak. Hoeveel huise kon nie al gebou gewees het met al die regskostes wat aangegaan is nie. TATA

Johann ·

Grootste toets vir die onaantasbaarheid status van die hoof Zuptopianer! En om te dink ons praat van ons land se president? ANC LEGACY!!!!!! Magsbehepte vergrypers van karakter.

JanAlleman ·

Wat my verstand te bowe gaan is as dit JanAlleman was, was jy lankal aangekla en moontlik in die tronk. Hoekom kan die president nie vervolg word nie?
Geld die wet nie vir die ANC nie?

Michelle ·

Hy moet uit, hy doen niks goed vir die land nie, en het homself al verryk met ons belasting betalers se fondse.

Petro ·

Shaun Abrahams Jacob Zuma en die Guptas gaan seker die naweek bos beraad hou

Boer se roer ·

‘n Zimbabwe boer het op ‘n stadium vir my gesê in Zimbabwe was daar heeltyd opflikkeringe van hoop, net om daarna weer te sien hoe gaan die land drie trappe agteruit.

Die laaste ding wat ons moet kry is hoop dat hierdie enigsins ‘n verskil kan maak in SA. Die ENIGSTE ding wat verskil kan maak is as ANC verkiesing verloor.

Eish ·

Wat nie moontlik is nie.
“Zuma het ook steeds baie steun in die party en land.”
Ons versugtinge is soos n gebed wat die wil verder as die plafon nie.

SARIE VAN HEERDEN ·

eK IS ‘N VOORUITVOORSPELLER. Jy wil weet wat is Zuma se toekoms? ‘n Lekker luukse huis met baie voordele in Dubhai.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.