‘Spioenasiebande’-saak: ‘Zuma moet sy dag in die hof hê’

Die appèlhof in Bloemfontein. Foto: ANA

Die DA het gesê gegewe die toegewings wat Donderdag in die appèlhof in Bloemfontein tydens die aanhoor van die sogenaamde spioenasiebande-saak teenoor pres. Jacob Zuma gemaak is, lyk dit asof die president wel “sy dag in die hof gaan hê”.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende komitee, het gesê dit lyk asof die hof gereed is om die besluit, om Zuma nie op die 783 strafregtelike aanklagte teen hom te vervolg nie, ter syde te stel.

“Dít maak die pad oop vir Jacob Zuma om uiteindelik sy dag in die hof te kry waarvoor hy al die afgelope 15 jaar gevra het. Soos enige ander gewone burger moet hy teregstaan op die berg aanklagte teen hom,” het Selfe gesê. Hy hoop ook die hof sal in sy uitspraak duidelikheid gee oor hoe die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die hernude vervolging moet hanteer.

Maroela Media het vroeër berig Zuma en die NVG se regsverteenwoordigers het Donderdag toegegee dat die besluit om die aanklagte teen Zuma te laat vaar irrasioneel was. Zuma en die NVG het die appèlhof genader nadat die hooggeregshof in Pretoria in April 2016 beslis het dat 783 strafregtelike aanklagte weer teen die president ingestel moet word.

Mokotedi Mpshe, destydse hoof van die NVG, het in 2009 besluit om Zuma, toe net ANC-president, nie te vervolg op aanklagte van korrupsie, rampokkery, geldwassery en bedrog nie. Zuma was ten tyde hiervan in ʼn magstryd met die voormalige president, Thabo Mbeki, gewikkel.

Mpshe het die saak laat vaar nadat hy na die bandopnames, gesprekke tussen Bulelani Ngcuka, Mpshe se voorganger, en Leonard McCarthy, hoof van die Skerpioene, geluister het. Mpshe was glo van mening dat McCarthy die proses vir verskuilde doeleindes gebruik het, naamlik ʼn politieke komplot om glo te verhoed dat Zuma president word.

Die DA het aangevoer Mpshe se besluit was irrasioneel, onredelik en geneem met ʼn verskuilde politieke agenda en hulle het hulle tot die hof gewend om die besluit te laat omkeer.

Zuma en die NVG se regsverteenwoordigers het Donderdag toegegee dat Mpshe “die verkeerde mag” gebruik het om die aanklagte teen Zuma te laat vaar, hoewel dit egter nie beteken hofverrigtinge teen Zuma kan sommer net weer hervat word waar dit voorheen geëindig het nie.

Die hof het sy uitspraak voorbehou.

Selfe het ná afloop van die verrigtinge gesê indien nodig sal die party verdere regstappe doen om te verseker dat Zuma wel aangekla word. “Die ANC se politieke elite is vir te lank toegelaat om aanspreekliheid te ontduik bloot omdat hulle politieke bande het. Dit kan nie langer toegelaat word nie. Alle burgers moet teregstaan op aanklagte as dit teen hulle aanhangig gemaak word en dieselfde moet vir Jacob Zuma geld,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

verbaas ·

Niks minder as reg nie laat geregtigheid geskiet of wat is nou weer die vangplek hulle kom mos weg met enige iets sien is glo

Chevy ·

Zuma gaan weer een van sy tricks uit sy towerhoed tevoorskyn haal en vir die soveelste keer gaan hy vry uit.

Alida ·

Die DA het bloed geruik. Lekker Zuma die wiel draai. Jy wou mos van Mbeki ontslae raak met jou slinksheid nou sit jou turf. Doen die eerbare ding nou, vermy die verleentheid en BEDANK.

Wouter ·

Ek wonder net waar is al die bewyse? Het iemand dit vir 10jaar gebêre?

John ·

‘n Man het darem ook die reg om siek te voel as jy uiteindelik in die hof beland. Soveel klagtes en net soveel kwale wat ‘n man kan uitdink… En dan is daar ook soveel vriende en kwakke en ghoema’s wat met behandelings teen pyn en lyding kan help. Nee wat, die dag toe ‘n sekere regter met ‘n groot glimlag, baie jare gelede, vir Zuma en teen Mbeki beslis het is die pad na vreugde vir die Zuma’s skoon gevee en met rose besaai na weelde in oorvloed en nimmer eindigende duur ellende vir die volk verseker…

Callie ·

Net dit weer noem. As hy nie sy gewese vrou kan laat wen sodat sy hom kan beskerm in die toekoms teen vervolging nie bly daar net een uitweg oor. Al sy idees is nou tot niet. Of hy gaan verdwyn en by die Guptas bly, of met al die mense tans op die regte plekke in die SA Weermag, Polisie, intelligensie, valke,al die plekke gaan hierdie man n staatsgreep uitvoer en so mag behou. Pasop, hy sal Mugabe soos n kleuter laat lyk. Kyk mooi hoe beplan hy dinge

Adriaan ·

As jz nie meer president is nie sal hy niks meer vir dieguptas beteken nie. Hulle sal hom drop.

SARIE VAN HEERDEN ·

Die dag wanneer ons Zuma in die hof kry moet julle die koerante dophou want dit sal die dag wees wat my MANNETJIES KAT kleintjies kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.