‘Spioenasiebande’-saak: Zuma, NVG se regspanne gee toe

Die appèlhof in Bloemfontein. Foto: ANA

Die appèlhof in Bloemfontein het Donderdag uitspraak voorbehou in die sogenaamde spioenasiebande-saak tussen pres. Jacob Zuma en die DA.

Zuma en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se regsverteenwoordigers het toegegee dat die besluit om die aanklagte teen Zuma te laat vaar irrasioneel was. Zuma en die NVG het die appèlhof genader nadat die hooggeregshof in Pretoria in April 2016 beslis het dat 783 strafregtelike aanklagte weer teen die president ingestel moet word.

Mokotedi Mpshe, destydse hoof van die NVG, het in 2009 besluit om Zuma, toe net ANC-president, nie te vervolg op aanklagte van korrupsie, rampokkery, geldwassery en bedrog nie. Zuma was ten tyde hiervan in ʼn magstryd met die voormalige president, Thabo Mbeki, gewikkel.

Mpshe het die saak laat vaar nadat hy na die bandopnames, gesprekke tussen Bulelani Ngcuka, Mpshe se voorganger, en Leonard McCarthy, hoof van die Skerpioene, geluister het. Mpshe was glo van mening dat McCarthy die proses vir verskuilde doeleindes gebruik het, naamlik ʼn politieke komplot om glo te verhoed dat Zuma president word.

Volgens die DA was Mpshe se besluit irrasioneel, onredelik en geneem met ʼn verskuilde politieke agenda.

Zuma en die NVG se regsverteenwoordigers het Donderdag met ywer probeer om die hof te oorreed om die aansoek om appèl toe te staan. Daar is aanvanklik twee dae toegestaan vir die saak om aangehoor te word, maar teen middagete is die voorleggings afgehandel.

Die NVG se regsverteenwoordigers het toe reeds toegegee dat Mpshe “die verkeerde mag” gebruik het om die aanklagte teen Zuma te laat vaar. Adv. Kemp J. Kemp, Zuma se regsverteenwoordiger, het dieselfde toegewing gemaak.

Die res van die verrigtinge het gefokus rondom argumente wat volgende moet gebeur rakende regstappe teen Zuma. “As die besluit om te vervolg nie uitgedaag word nie en die poging om dit ongedaan te maak ongeldig bevind word, wat is die gevolg?” het regter Navsa gevra.

Kemp het toegegee dat die besluit om Zuma aan te kla dan steeds geldig is, maar het daarop gewys dat dit nie beteken hofverrigtinge teen Zuma kan sommer net weer begin word waar dit voorheen geëindig het nie.

Uitspraak is voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Stan ·

Hoop jy is reg ‘Realis’, want hoe langer Zuma en die res van hooggeplaasdes weg kom met derglike dinge, hoe meer anargie en agteruitgang sal daar in die land wees.

Oom Piet ·

Wakker slaap, die Applikante se appel blyk ‘n afleidende rookskerm gerig daarop om meer as 10 jaar se alreeds afgehandelde verweer prossese vanaf voor Mbeki se uitsmyt geheel en al te laat oordoen, soos vooraf gewaarsku deur Adf Kemp J Kemp op aangedring sal word indien die Appel uitspraak net sy “moet Hof inlig ondekking” aldus BYGEVOEGDE “toegegewe ongeldige” besluit van Mpshe as ongeldig bekragtig word, soos vervat in die laaste parragraaf van die berig. Vol bank, skaap gevang ?
Die Appelhof moet beslis en bevestig die bestaande vervolging van Zuma op al die alreeds NVK uitgereikte klagtes moet onverwylt voortgaan en afgehandel word asof Mpshe se besluit nie bestaan nie.

Oom Piet ·

Die BYVOEGDE toegewing van die HaHa ontdekte ongeldigheid van Mpshe se besluit, blyk eerder ‘n om die bos lei rookskerm om die Volle Bank van die Appeal Hof skaap the vang, om die elle lange meer as 10 jaar van die vervolging vanaf aanvang te laat oordoen (insluitend afskrywing van en herhaling van duur regskostes), soos opgesom in die laaste paragraaf van die berig.

Die Appel Hof hoort die vorige Hof Bevel finaal bevestig en hoort opdrag te gee dat al die 785 kriminele aanklagtes onverwylt moet voortgaan en spoedig afgehandel moet word soos voorgekryf in die Konstitusie.

Andre ·

Die president, voorloper in die stryd vir transformasie, gebruik ‘n blanke regspan. Hy is al hoeveel keer hieroor gekritiseer, maar hy steur hom nie aan die klagtes hieroor nie en bly gebruik maak van die wit regsmanne. Ek wonder wanneer daar transformasie gaan plaasvind in die SAL om te verseker dat daar geen blanke vlieëniers die grootkoppe rondvlieg nie? Nog nooit gehoor dat transformasie daar aangeblaas word nie.

joe ·

Shaun Abrahams sal dit seker oorweeg om n liggewig spannetjie aan te stel om die Staat se saak teen president Zuma te behartig.

Kortpad ·

Hoekom die langpad volg as daar ook n kortpad is, dwing Zuma sy amp neer te le en sleep hom reguit internasionale geregshof toe en Mpshe ook.
Hoe langer dit vat des te meer tyd Zuma kry om die hasepad te vat.

Vermeende ·

Julle jubel verniet, Zuma gaan nie sy dag in die hof kry nie.
Dubai sal hom nie uitlewer nie want die Guptas se invloed is daar te groot en sy regspan gaan aanvoer dat dit n heksejag op hom en die Guptas is en dat hy nie n regverdige verhoor gaan kry nie.
Zuma het reeds eiendom in Dubai en vragte geld.

Luister ·

So, al die gemors wat in die land aangaan onder leiding van Zuma, is dus eintlik
Mpshe se skuld. Wonder hoeveel geld hy gekry het!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.