Spioenasiebewerings: ‘Ons intelligensie is nie intelligent nie,’ sê Malema

Julius Malema Foto: Werner Beukes/SAPA

Julius Malema Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela, Julius Malema, Lindiwe Mazibuko en Joseph Mathunjwa het bewerings van spioenasie teen hulle as “snert” bestempel, het Beeld Vrydag berig.

“’n Gr. 9-leerder kan sien dit is snert,” het Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, gesê nadat die Staatsveiligheidsagentskap (SSA) Donderdag aangekondig het die vier word amptelik vir spioenasie ondersoek.

Brian Dube, woordvoerder van die SSA, het gesê die bewerings teen die vier het die SSA gelei na ’n WordPress-webjoernaal genaamd africainteligenceleaks.wordpress.com.

Madonsela het gesê sy gaan ʼn amptelike klag indien teen die SSA en versoek dat hy die mediaverklaring terugtrek. Sy het gesê dit is “interessant” dat die bewerings aan die lig gekom het enkele dae voordat pres. Jacob Zuma vrae in die parlement moet beantwoord.

“Ek het nog nooit in my lewe sulke malligheid gehoor nie. Daardie mense is narre. Ons grootste probleem is dat ons ‘intelligensie’ nie intelligent is nie,” het Julius Malema, leier van die EFF, gesê.

Joseph Mathunjwa, president van die vakbond Amcu, het gesê die bewerings is “snert” en ʼn “mors van staatshulpbronne” om dit te ondersoek.

Lindiwe Mazibuko, voormalige parlementêre leier van die DA wat tans by Harvard studeer, het getwiet: “Dit is taamlik vernederend dat ʼn Suid-Afrikaanse kabinetsminister ʼn mediaverklaring uitreik in reaksie op valse webjoernaalinskrywing deur die kranksinnige randeiers.”

Die bewerings teen die vier sluit onder meer in dat die CIA in Langley in die VSA ʼn lêer oor Mazibuko het waarin daar glo beweer word dat sy ʼn Pretoriase weergawe van die Arabiese Lente probeer reël.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Janine N ·

Ek vind dit nogal amusant dat Julias van intelligensie praat….ghieghie. (Die vent spel nie eens sy eie naam reg nie.)

CHRISTA ·

Julle sal sien dis weer iemand in die ANC wat almal se aandag wil aflei van hulle skandes en skades waarvoor hulle nog moet verantwoord.

ekke ·

Wel, niemand kan stry nie. Die ouens hét ‘n wille verbeelding!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.