Spioenasiebewerings teen Guptas amptelik ondersoek

John Steenhuisen, hoofsweep van die DA. Foto: Twitter

Die inspekteur-generaal van die intelligensiedienste, dr. Setlhomamaru Dintwe, het aangekondig dat hy bewerings van die misbruik van staatsmag om spioenasiewerk namens die Gupta-familie te doen, amptelik gaan ondersoek.

Dit volg op klagte wat die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, by Dintwe ingedien het.

Die DA het die klagte al in Julie verlede jaar ingedien, maar volgens Dintwe is die ondersoek vertraag deur die feit dat die Staatsveiligheidsagentskap onder leiding van die eertydse hoof daarvan, Arthur Fraser, die ondersoek aspris vertraag het.

Fraser is onlangs deur pres. Cyril Ramaphosa aangestel as waarnemende direkteur-generaal van korrektiewe dienste.

Die DA het die klagte ingedien nadat sensitiewe inligting oor verskeie vooraanstaande Suid-Afrikaners in die besit van die hooggeplaaste Gupta-amptenaar Ashu Chawla gevind is.

Chawla was die afgelope paar weke opnuut in die nuus weens sy betrokkenheid daarby om visummaatreëls te omseil en vir lede van die Gupta-familie Suid-Afrikaanse burgerskap te verkry.

Steenhuisen het vanoggend uitgewys dat die werk van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping die belang van die ondersoek na wederregtelike spioenasie opnuut beklemtoon.

Hy het ook die belang van die afhandeling van Dintwe se ondersoek benadruk in die lig daarvan dat ʼn uitleweringsooreenkoms tussen Suid-Afrika en die Verenigde Arabiese Emirate, waar die Guptas tans woon, onlangs gesluit is.

Volgens Steenhuisen gaan die DA voort met die hofsaak om Fraser se aanstelling as waarnemende direkteur-generaal van korrektiewe dienste ongeldig te laat verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

riaan ·

Mors van tyd en geld. Al kry die IG iets sal NIKS gebeur nie want die and het nie die will om die guptas te laat uitlewer nie. Wat help dit daar is bewyse maar jy kan hulle nie aanklae nie want hulle is in die buiteland?????

Jerry ·

Die ondersoeke moet verwelkom word omrede dit wys dat daar n wil bestaan om agter die kap van die byl te kom mbt die hele staatskaping saak. Indien die ondersoeke wel later opgevolg word met arrestasies, vervolging en tronkstraf sal geregtigheid seevier wat weer die hoop sal laat opvlam dat SA tog nog gered kan word!

Wat wou ·

Wat help al hierdie ondersoeke en kabinet skommelinge as mnr Ramaphosa nie ‘n benul het wat rondom hom aan die gebeur is nie. Hy lewe in totale ontkenning van alles wat in ons land verkeerd gaan. Hy reken dan dit is reg so. Dit is wat hy aan die wêreld voorhou. Is daar nêrens iemand wat so bietjie eenkant met hom kan gaan “gesels” en vir ‘n besigtigings toer deur ons land vat nie. Mens sien nogal baie as jy op die paaie ry as van daar bo uit die lug.
Net miskien val die skille van sy oë af en hy kan die werklikheid raaksien.
“WENSDENKERY EK WEET”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.