Spioenbaas-kwessie dryf DA tot konstitusionele hof

Arthur Fraser. Foto: ANA

Die DA het die konstitusionele hof genader om pres. Cyril Ramaphosa se aanstelling van Arthur Fraser as direkteur-generaal van korrektiewe dienste ter syde te stel.

“Fraser is nie onbesproke nie en in die geheel ongeskik om so ʼn belangrike posisie in die regering te beklee. Die president het dus gefouteer om Fraser in dié pos aan te stel,” het Mmusi Maimane, leier van die DA, gesê.

Maroela Media het vroeër berig Fraser, voorheen die direkteur-generaal van die staatsveiligheidsagentskap, is na die departement van korrektiewe dienste oorgeplaas. Sy oorplasing volg nadat Setlhomamaru Dintwe, inspekteur-generaal van intelligensie, ʼn hofaansoek ingedien het waarin hy versoek dat Fraser verhoed moet word om hom by sy werk in te meng. Dintwe beweer Fraser het sy sekerheidsklaring probeer onttrek en wil hom inmeng met die ondersoek na hom.

Fraser word in Jacques Pauw se boek The President’s Keepers met korrupte aktiwiteite verbind. Hy word onder meer ook daarvan beskuldig dat hy ʼn geheime en parallelle intelligensiediens van sy huis af bedryf het terwyl hy vir die staatsveiligheidsagentskap gewerk het.

Die DA het in Mei verlede jaar ʼn klag by die inspekteur-generaal ingedien rakende die presiese bewerings wat teen Fraser in Pauw se boek vervat is. Dit handel oor gebeure wat na bewering plaasgevind het toe Fraser tussen 2007 en 2009 adjunk-direkteur-generaal van die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA) was.

Die DA wil hê die konstitusionele hof moet gelas dat Ramaphosa sy grondwetlike verpligtinge versuim het met Fraser se aanstelling. Volgens Maimane het die DA vroeër aan Ramaphosa geskryf en antwoorde versoek oor hoekom hy Fraser in die pos aangestel het. Ramaphosa het hulle nie geantwoord nie en daarom nader hulle die hof, aldus Maimane.

Volgens Maimane het Ramaphosa se sogenaamde “nuwe era” misluk weens die ANC se praktyk om enkelinge wat onder verdenking is, rond te skuif in regeringsdepartemente. “Hierdie praktyk moet eens en vir altyd afgeskaf word en nie deur die president toegepas word nie. In ons land se taai fiskale situasie kan ons nie miljoene rande aan openbare geld vermors op enkelinge wat onder verdenking is nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.