Splinternuwe Afrikaanse gemeenskapsradio bekend gestel

Pretoria-FM-01

Willie Spies, besturende direkteur van Pretoria FM Foto: Reint Dykema

Die nuwe Pretoria FM-handelsmerk is vandag tydens ʼn luisterryke geleentheid by Atterbury Teater in Pretoria bekend gestel. Nege gemeenskapsradiodienste snoer van vandag af amptelik hulle kragte saam as die grootste Afrikaanse gemeenskapsradio, met ʼn reikwydte wat oor vyf provinsies strek.

Die nege gemeenskapsradiostasies se uitsaaigebiede strek oor die grootste deel van Gauteng, Limpopo, Noordwes, Mpumalanga en die noorde van Kwazulu-Natal en bereik nagenoeg 2 miljoen Afrikaanssprekendes.

Die stasies, Radio Drakensberg, Radio Dagbreek, Radio Magaliesberg, Radio Tafelkop, Radio Naboom, Radio Kransberg, Radio Ysterberg, Radio Wolkberg en Radio Pretoria sal vanaf Maandag onder een, nuwe handelsnaam, Pretoria FM uitsaai en sodoende die grootste Afrikaanse gemeenskapsradiodiens in Suid-Afrika daarstel.

Volgens Willie Spies, besturende direkteur van Pretoria FM, was dit belangrik om tegelyk ʼn splinternuwe, maar welbekende handelsmerk vir die nuwe diens te kies. Pretoria as naam van die hoofstad is reeds een van Suid-Afrika se bekendste handelsmerke.

“Soos die stadsname Washington, New York, Moskou, Beijing en Jerusalem elkeen veel meer versinnebeeld as bloot die naam van ‘n stad, so versinnebeeld Pretoria ook veel meer,” het Spies gesê. “Pretoria verteenwoordig ‘n idee van Afrikaans wat homself in die binneland van die sub-kontinent staangemaak het en steeds in stand hou.”

Die nuwe gemeenskapsdiens saai ook wêreldwyd op die internet en deur middel van ʼn slimfoon app uit en sal ook deel uitmaak van DStv se oudiobundel wat in Suidelike-Afrika deur DStv intekenaars gehoor kan word.

Die nuwe gemeenskapsradiodiens se uitsaailisensie vir die groter Pretoria-omgewing is sopas vir ‘n verdere tydperk van vyf jaar deur die Onafhanklike Kommunikasie Owerheid van Suid-Afrika (Ikasa) verleng, terwyl die agt filiaalstasies op 29 April vanjaar van Ikasa verneem het dat hulle vir die eerste maal sedert hulle oprigting met permanente lisensies uitgereik is:

  • In KwaZulu-Natal bedien Radio Drakensberg, Newcastle en omstreke.
  • In Mpumalanga en die oostelike dele van Gauteng bedien Radio Dagbreek groot dele van die Hoëveld, die Oos-Rand en dele van die Vaaldriehoek.
  • In Noordwes strek Radio Tafelkop se opvangsgebied oor die Koster, Derby, Magaliesburg en Swartruggens-omgewing, tot sover as Lichtenburg terwyl Radio Magaliesberg Brits, Rustenburg en die westelike gedeeltes van Pretoria bedien.
  • Radio Kransberg bedien Thabazimbi en die grootste gedeelte van die Waterberg Distrik terwyl Radio Ysterberg en Radio Wolkberg die noord-oostelike gedeeltes van Limpopo rondom Polokwane (Pietersburg), Tzaneen, Mokopane (Potgietersrus) en sover noord as Louis Trichardt bedien. Radio Naboom saai uit in die omgewing van Mookgopong (Naboomspruit).
  • Die bekendste van die stasies, Radio Pretoria saai in die noordelike gedeeltes van Gauteng en omliggende dorpe soos Bela-Bela (Warmbad), Witbank, Springs, Nigel en Kempton Park uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Peet Schabort ·

Alles goed en wel maar gaan die “baby baby”- en eenreëltjie sang asook die simpel moroonmusiek voortduur ?
Niemand wil my “Ek het jou lief; my hartedief; my boeliebief; my soetelief”-liedjie bemark. Seker omdat dit té ingewikkeld is en nie skreeuerig en huilerig is.

Peet Schabort ·

Maroela, ek té na aan die waarheid oor sogenaamde sangers en musikante ?

Christo ·

Peet ek is bly dat ek nie die enigste een is wat hierdie gebler van sommige “modern”kunstenaars ka n hanteer nie .Ek hoop die nuwe stasie sal aandag gee aan die swak musiek wat soms oor klankkoerant gehoor word .Nie net swak Afrikaans nie maar ook swak engels en dan die swak taal wat “kunstenaars in onderhoude gebruik,heeltyd deurspek met engelse woorde .Dit veroorsaak dat ek die radio afskakel Terwyl die stasie n nuwe naam n nuwe naam kry vee ook a.u.b/ sulke swakhede wat ons taal nie nodig het nie ook by die deur uut

Bloues ·

Waar ek kan luister ek net Radio Pretoria. Ja soms is die musiek horing en soms kan die nuusleser nie maklikke woorde uitspreek nie, maar oor die algemeen is dit n lekker kuier radiostasie.

Luise ·

Kan ons n skakel kry om aanlyn te luister, ek is op Natal suidkus.

oorseer ·

Peet stem volmondig met jou saam.Almal probeer sing.Sommige lirieke onderskat n mens se intelligensie.

oorseer ·

Peet stem volmondig met jou saam.Almal probeer sing.Sommige lirieke onderskat n mens se intelligensie.

HEVW ·

Peet ek stem ook saam. Asseblief tog net nie weer “Klim van die dak af en Wys jou my muis nie en ook tog wragtig nie weer die fulgere Leeuloop nie. Nie net ons inteligensie word onderskat nie maar ook ons waardesisteem. Waarom die spulletjie altyd selfs in die skemering donkerbrulle dra sal net hulle weet. Miskien is dit omdat hul tog skaam is vir dit wat hul opdis en om hul selfbeeld n hupstoot te brobeer gee. Waarom nie iets wat kultuuropbouend is nie, en die ape naboods van dit wat buitelands is.

Kobus ·

Nou waarom word die gebied suid van Pretoria afgeskeep – woon hier nie Afrikaanssprekendes in Johannesburg en verder suid na die Vaaldriehoek toe nie – ASSEBLIEF!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.